Luister: Borrelende René wil toekomsstorie van Afrikaans help skryf

René Arendse, nasionale adjunkkoördineerder van Afrikaans 100, kuier by Maroela Media.

René Arendse het ʼn besondere passie vir gemeenskappe en vir mense. In haar rol as nasionale adjunkkoördineerder van Afrikaans 100 wil sy graag vir sprekers van dié kleurryke en diverse taal ʼn tuiskomplek gee waar hulle gehoor kan word en stories met oorgawe kan vertel.

Maroela Media het aan die hand van Afrikaans 100 met René gesels oor haar behoefte om ander mense te motiveer, ʼn verskil in gemeenskappe te maak en wat haar visie vir Afrikaans se eeufeesviering is.

Wanneer ʼn mens vir René vra hoe wyd haar betrokkenheid in die Afrikaanse taalgemeenskap strek, erken sy dat dit ʼn moeilike vraag is om te beantwoord.

“Ek doen eintlik ʼn klomp dinge. Bo en behalwe dat ek tans by Afrikaans 100 betrokke is, is ek ook ʼn onderwyseres, ek doen vryskutprojekte vir verskillende Afrikaanse organisasies, ek het my eie aanlyn skool vir vroue-entrepreneurs begin, en ek doen werkswinkels wat op die bemagtiging van vroue fokus.”

Uit al die verskillende hoede wat René dra, is opvoeding en onderwys vir haar die lekkerste een om te dra.

René het in haar onderwyser-pa se spore gevolg. Sy het ʼn graad in musiek aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en daarna as musiekonderwyser begin werk. Hoewel sy haar op musiek toespits, is die kunste in geheel ʼn groot deel van haar lewe.

“Ek speel self klavier, en het ook al so bietjie die hobo en viool gespeel. Ek doen kreatiewe kunste by skole en ek was vir ʼn tyd die voorsitter by die Tygerberg Kunsteskool. Die kunste in die breë is dus ʼn sterk aspek en deel van my lewe, en dit saam met my opvoeding en juffrouwees, is die kern van wie ek is en wat ek doen.”

Haar pa was destyds ʼn Afrikaansonderwyser in Distrik 6, waar sy ook skoolgegaan het. Dit is waar René se storie en liefde vir onderwys begin het.

“Die kinders wat by my pa skoolgegaan het, het hom altyd in die pad raakloop en gegroet: ‘Goeiedag, Meester‘. Ek was toe net vyf jaar oud, maar dit het ʼn blywende indruk op my gemaak, want dit is waar ek besluit het ek wil ook eendag ʼn “meester” word.

“Ek wou dus nog altyd ʼn onderwyser wees, en ek dink ek sal dit altyd bly. Met alles wat ek aanpak, besef ek, ek is eintlik nog steeds ʼn juffrou. Dit maak nie saak op watter platform ek staan nie. Of dit nou volwassenes, jong kinders of my eie kinders is. Ek is net ʼn gebore leermeester en bedoel om een te wees.”

Mense vra dikwels vir René oor die rol wat haar pa in haar lewe speel, maar sy het ʼn ewe groot bewondering en dankbaarheid vir haar ma se bydrae.

René Arendse, die motiveringsdiva, het wenke vir hoe om jou emosionele gesondheid op te bou te midde van die Covid-19-pandemie en al sy uitdagings. (Foto: René Arendse se Facebook-blad.)

“My ma is ʼn wonderlike, eenvoudige, vriendelike en nederige mens. Ek dink deur alles – as jy mos nou ouer raak en self ʼn ma word – besef jy wie en wat jou ma werklik is, en wat sy vir jou beteken het en steeds doen.”

René is ma is op 80 steeds blakend gesond en lewenslustig. “Sy is ʼn sport vir enige ding. As ek haar nou bel en sê ons gaan partytjie hou, dan sal sy gretig instem. Of as ek vir haar sê ons moet by die een of daai een gaan kuier, sal sy sê ek moet haar kom oplaai, want sy is gereed om saam te gaan.

“Ek het eintlik altyd gedink ek aard meer na my pa, maar vandag, as ek terugkyk, dan besef ek, ek het baie eienskappe van my ma af ook gekry. Vir daai konstantheid in haar persoonlikheid is ek baie dankbaar.”

Een van die grootste lesse wat René by haar ouers geleer het, is om die beste van ʼn situasie te maak met dit wat tot jou beskikking is.

“Dit is so maklik om in ʼn bootjie van kortsigtigheid en bejammering te sit en goed te sê soos ‘ag, ek het nie geld nie’, ‘ons is minderbevoorreg’ of ‘ek kon nie gaan studeer nie’. In plaas daarvan om in hierdie web van negatiewe gedagtes verstrengel te raak, het my ouers my geleer om op te staan en dinge te laat gebeur,” vertel René trots.

Hoewel hulle ʼn onmisbare rol in haar ontwikkeling en groei gespeel het, was dit ʼn teer saak toe René ná 10 jaar in die onderwys besluit het om te bedank en haar eie ding te doen.

“My ma en pa kom uit ʼn ander era uit, en ek sê dit met groot respek aan hulle. Destyds was daar nie iets soos vryskutwerk of om vir jouself te werk nie. As vrou het jy ʼn onderwyser, verpleegster, of polisievrou geword – dit was die enigste drie opsies – en jy het vir ʼn baas gewerk.

“Jy kan jou dus net indink hoe moeilik dit vir hulle moes wees toe ek die dag vir hulle sê ek gaan die onderwys verlaat en my eie onderneming begin. My ouers het byna van hulle stoele afgeval. Ek onthou hulle woorde aan my was: ‘René, wat op dees aarde het met jou gebeur? Wat dink jy?’”

Op die vraag oor wat tot dié waterskeidingsoomblik gelei het, sê René baie eerlik dat die onderwysberoep vir haar te uitdagend geword het.

René Arendse, nasionale hulpkoördineerder van Afrikaans 100 en Giep van Zyl, nasionale koördineerder van Afrikaans 100 (Foto: Maroela Media)

“Ek dink talle ander onderwysers behoort te beaam. In daardie stadium, toe ek bedank het, is my tweede dogter net gebore. So, ek was weer ʼn nuwe ma, en die stres en die druk van die onderwys het net vir my te veel geword.

“Ek was in daardie fase van my lewe nie emosioneel sterk genoeg om die druk te kon hanteer nie, en ek het besef daar moet iets anders wees waar ek steeds kan voel dat ek ʼn roeping vervul, waarde kan toevoeg en ʼn verskil kan maak.”

Dit was ʼn groot wending in René se loopbaan, maar ʼn besluit waaroor sy nog nie eendag in die afgelope 16 jaar spyt was nie.

“My ma kry my nog steeds jammer omdat ek nie vir ʼn baas werk nie,” skerts sy, “maar dit was die beste ding wat ek vir myself kon doen.”

Na ʼn wyle in René se geselskap besef jy gou waarom sy ʼn aanwins vir Afrikaans 100 is. Met haar opregte vriendelikheid, entoesiasme en hart vir mense, is dit moeilik om nie saam met haar te beweeg en ook ʼn verskil te maak nie.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met René Arendse oor haar visie as adjunk-nasionale koördineerder van Afrikaans 100.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.