Luister: Bou jou selfvertroue in vier stappe

Heidi Mollentze (Foto: Verskaf)

Jy is nie gebore om ʼn swak selfbeeld of selfvertroue te hê nie. Jy is nie gemaak om minderwaardig te wees nie. Die Here jou gemaak om die beste mens te wees wat jy kan wees.

Só gesels Heidi Mollentze, lewensafrigter by Greatness Coaching, oor selfvertroue en hoe ʼn mens dit kan bou.

In die laaste aflewering van Maroela Media se reeks inspirasiesgesprekke met Heidi gee sy vier maklike stappe vir jou om jou selfvertroue sommer vandag nog ʼn stewige hupstoot te gee.

“Selfvertroue is die positiewe oortuiging dat jy oor die algemeen kan bereik wat jy vir jouself as doel gestel het. Jou selfvertroue neem ook toe soos wat jy sekere aktiwiteite bemeester,” verduidelik Heidi.

“Selfbeeld is jou evaluering van jou eie waarde, terwyl selfvertoue die vertroue is wat jy in jou eie vermoëns het.”

Heidi meen selfvertroue is soos ʼn pilaar binne-in jou en soos wat jy vir jouself stories vertel dat jy iets nie kan doen nie, of nooit iets regkry nie, of jy is nie deel van die mense wat dit nog nooit gedoen het nie, hoe meer verbrokkel dié pilaar.

“Later het dit ʼn fisieke manifestasie. Jy kan sommer sien as iemand nie goeie selfvertroue het nie – hulle loop so bietjie krommer en hulle koppe hang effens laer. Ek kan nie help om te wonder as dit so aan jou uiterlike lyk, hoe moet jou innerlike dan nie net lyk nie. Dit is vir my hartseer.”

Hier is Heidi se eenvoudige stappe om jou selfvertroue op te bou:

Vervang jou vrees met ʼn gevoel van opwinding: Heidi sê die eerste stap is om jou vrees in opwinding te verander. “Het jy geweet daardie gevoel van sweterige palms, effense vlak asemhaling en vlinders in die maag is presies dieselfde vir vrees as vir opwinding? Maak ʼn kopskuif en sê ek is so opgewonde oor my eksamen, voorlegging of toespraak, in plaas van ek is so bang.”

Wees ingestel op groei: Heidi sê almal kan groei en almal kan verander. “Werk aan jouself en neem treetjie vir treetjie ʼn stap vorentoe. Sien jouself hoe jy graag wil wees, maak vir jou ʼn droom- of visiekaart en werk in dié rigting.”

Maak ʼn lys van alles wat jy reeds sou gedoen het as jy al die selfvertroue in die wêreld gehad het: “Stel hierdie lys op, kry prentjies daarvan en sit dit op ʼn plek waar jy elke dag daarna kan kyk. Jy kan dit selfs elektronies op jou foon stoor. Jy kan hierna uitreik.”

Verander jou postuur bewustelik: “As jy regop loop en sit, jou ken oplig en die wêreld vierkant in die oë kyk, gaan jy onmiddellik beter voel. Ons is bedraad om onsself so van buite af beter te laat voel. As jy dan nog ʼn glimlag op jou gesig kan sit en ʼn gewoonte daarvan maak, kan jy jou hele lewe verander.”

Heidi sê dit klink eenvoudig en maklik, maar sy glo dit is waarom ons dit dikwels miskyk. “Ons dink dit moet moeiliker wees, maar dit is nie, want beter selfvertroue is binne almal se bereik.”

  • Heidi Mollentze het in Maroela Media se ateljee kom kuier en met Esté Meyer Jansen gesels oor selfvertroue. Sy verduidelik wat dit is en hoe jy dit kan opbou, want niemand verdien swak selfvertroue, of ʼn swak selfbeeld nie. Luister na die volledige gesprek bo-aan hierdie berig.
  • Greatness Coaching met Heidi Mollentze kan op Facebooken Instagram gevolg word of bel Heidi by 079 815 6305 om ʼn persoonlike ontwikkelingsessie te bespreek.
  • Luister hierna Maroela Media se reeks gesprekke met Heidi Mollentze.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gert ·

Jy kan dit in een stap doen. Hou op omgee wat mense van jou dink!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.