Luister: Broers se siftingstoets wil geestessiekte hokslaan

Gerthyo en Wilando Ferreira kuier by Maroela Media.

Jy kon Gerthyo en Wilando Ferreira met ʼn veer omtik toe hulle siftingstoets wat geestessiekte in tieners wil bekamp onlangs met twee internasionale pryse by ʼn wetenskap-ekspo in Spanje bekroon is.

“Dit het eintlik net as ʼn projek begin, maar hoe langer ons daarmee werk, daaroor gesels en finale ontwikkeling doen, hoe meer steel dit ons harte,” skerts Gerthyo.

Hy en Wilando, twee broers wat albei leerders aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria is, het met die prys vir beste navorsingsprojek in sielkundige wetenskappe en beste ekspo-projek in die kategorie vir internasionale deelname (alle spanne buiten Spaanse deelnemers) weggestap.

Hulle het in Desember die Suid-Afrikaanse Jeug- Ingenieurswese- en Wetenskapsimposium (South African Youth Engineering & Science Symposium (SAYESS)) gewen, waarna hulle genooi is om Suid-Afrika by hierdie internasionale ekspo, XXIV Exporecerca Jove, in Barcelona, Spanje, te gaan verteenwoordig.

Die Ferreira-broers vertel in Maroela Media se ateljee dat die siftingstoets as ʼn gesamentlike projek ontwikkel is, wat hulle vir die skool se jaarlikse wetenskap-ekspo aangepak het. Die idee vir die projek het geleidelik ontwikkel nadat een van Gerthyo se klasmaats sowat twee jaar gelede sy eie lewe geneem het.

“Hoekom niemand regtig geweet het wat in sy hart aangaan nie, was die grootste vraag wat almal gevra het. Ons het daarna al hoe meer oor adolessente selfmoord begin oplees en agtergekom dat dit ʼn groot probleem is wat toenemend erger word en nie genoeg aandag kry nie,” verduidelik Wilando.

Hierdie siftingstoets se doel is spesifiek daarop gemik om vroegtydig tekens van depressie, angs en moontlike selfskending by jongmense te identifiseer en hulp in te roep as dit nodig is.

Hoe werk dit? Leerders vul ʼn vraelys in en indien hulle “ja” op sekere vra antwoord, word ʼn waarskuwingsboodskap na die skool se sielkundige gestuur. Op hierdie manier kan daar betyds hulp aan die kind verleen word. ʼn App vir die vraelys is deur die Segametsi Hope Expertise-maatskappy ontwikkel.

Hulle hoop om hierdie siftingstoets nou verder te ontwikkel, af te rond en eersdaags aan skole beskikbaar te stel. Hoewel nie een van die Ferreira-broers beoog om ʼn beroep in sielkunde te volg nie, is dit beslis iets waarby hulle betrokke wil bly.

Indien jy meer oor die projek te wete wil kom, kan jy ‘n e-pos stuur na [email protected].

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met twee broers, Gerthyo en Wilando Ferreira. Hulle het onlangs twee internasionale pryse vir hulle siftingstoets gewen wat tekens van depressie, angs en moontlike selfskending in adolessente identifiseer. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.