Luister: Fees vir Noord-Vrystaat se boere in nood


Boeretroos

Foto: Facebook

Die gemeenskap van die Vrystaatse dorp, Parys, rus nie op hul louere nie en het kragte saamgespan om boere in die Noord-Vrystaat by te staan wat gebuk gaan onder geweldige druk na aanleiding van die voortdurende droogte. Boeretroos Noord-Vrystaat en die Parys Toerismeburo het hande gevat om boere van die Fezile Dabi-distrik, wat nagenoeg 18 dorpe insluit, by te staan.

Terwyl die onlangse reën baie verligting vir inwoners van die distrik gebring het, kan dieselfde nie gesê word van die boere nie. Baie het hul oeste verloor terwyl ander nie eens iets geplant het nie. In dié stadium sukkel hulle om voer vir hul diere en kos vir hul plaaswerkers te voorsien. Die toekoms is ook onseker aangesien dit nie duidelik is of die gewasse die winter sal oorleef nie.

Op 16 April word ’n groot geldinsamelingsprojek van stapel gestuur wanneer die eerste Boeretroos Fees by Stonehedge in Africa, net buite Parys, gehou word. Die fees gaan ’n lekker plaasjol-formaat aanneem met boeredanse, ’n potjiekoskompetisie sowel as hope vermaak vir jonk en oud. Bekende sangers soos Rikus Nel, Liza Bronner, DZL, Dewald Dippenaar, Piet Pompies en plaaslike talent sal tydens die geleentheid die gehoor vermaak. Die toegangsgeld is R50 per voertuig.

“Ons visie is om hoop te bied aan ons boere deur middel van ’n grootskaalse geldinsamelingsprojek; ’n eendagfees om aan die boere te wys ons gee om. Dit is die een dag wat ons almal as gemeenskap saam kan lag, ontspan en as een liggaam saamstaan,” is die boodskap van die organiseerders.

Boere in die omgewing van dorpe soos Cornelia, Deneysville, Edenville, Frankfort, Heilbron, Koppies, Kragbron, Kroonstad, Oranjeville, Parys, Renovaal, Sasolburg, Steynsrus, Tweeling, Vierfontein, Viljoenskroon, Villiers en Vredenfort gaan by die projek baat vind.

Besoek gerus die Facebook-blad vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.