Luister jy of hoor jy maar net?

luister-na-God

Argieffoto.

Ek word nie maklik geskok nie en ek word nie sommer verras nie.

Maar toe, anderaand, onverwags en héérlik: ek ontmoet iemand wat my verras – iemand wat lúíster!

As joernalis is dit in my DNS om vrae te vra, maar dit strek verder. Ek geniet ander mense se stories en leef myself in. Maar, en ja, hier kom die “maar”: al sit ’n mens hoe gemaklik in die luisteraarstoel, is dit tog lekker as iemand soms, en dit hoef net soms te wees, in jóú belangstel.

Dis asof Broca se area in my brein faal wanneer ék spontaan uitgevra word. Van samehangende spraak en artikulasie in die serebrale korteks is daar weinig sprake.

Ek praat nie van my nearest and dearest nie, want ek is geseën met ’n groep vriende met wonderlike ore. Maar vir die res… Dis maar ’n saak van gebed. Ek kom selde mense teë wat na ander luister – régtig luister.

Die miljardêrsakemanne, Richard Branson, Bill Gates en Warren Buffet het al drie per geleentheid gesê: Goeie kommunikasie – of dit nou organisatories of interpersoonlik is – is bepalend vir die sukses van hul ondernemings. En kommunikasie is nie ’n cul de sac nie; dis ’n tweerigtingstraat.

Om geduldig en met konsentrasie na iemand te luister, is ’n kuns. Dit word aktiewe luister (active listening) genoem en dis ’n baie kragtige vorm van kommunikasie wat jou in staat stel om te verstaan, te interpreteer en te evalueer wat jy hoor. Aktiewe luister kring ver en wyd uit – dit dra by tot begrip, die vermindering of vermyding van konflik én groter samewerking. Tog is dit vir so baie mense ’n bykans onbegonne taak.  En daar is redes hiervoor.

Fred Halstead, die skrywer van Leadership Skills that Inspire Incredible Results, sê dit mag dalk heeltemal op-sy-kop-gedraai klink, maar die enigste manier om sukses te behaal, is om die mense óm jou suksesvol te maak. Volgens hom leef ons egter – en dit kom as geen verrassing nie – in ’n samelewing waar “ek” eerste kom. Hy verduidelik hoe noodsaaklik dit is dat jy ’n goeie luisteraar moet wees as jy ander ’n hupstoot wil gee op die leer van sukses.

“Dit strek veel verder as om eenvoudig te hóór wat die ander persoon sê; jy moet terselfdertyd dink hoe jy daardie persoon kan bemagtig om resultate te kan behaal. Dit kan volgens Halstead net gedoen word as jy die ander persoon se woorde goed oorweeg en weldeurdagte vrae vra.

Hy sê daar is ’n paar redes waarom die meeste mense sulke armsalige luisteraars is en die eerste is die mens se natuurlike drang om te wil práát. Ons vooropgestelde idees en vooroordele sowel as die ego speel ook ’n groot rol. Ons skakel maklik af wanneer ons nie met iemand saamstem, die storie ons nie werklik interesseer of glad nie van toepassing op óns is nie. Dan is daar multitaakverrigting – ’n groot euwel, want die meeste van ons is op enige gegewe oomblik net te doenig met té veel goed.

Halstead sê om aandagtig te luister, impliseer respek. “One of the coolest ways to truly respect someone, is to truly listen.”

Maar terug na my lekker verrassing. Net so voor die onlangse groot reëns hier in die Kaap beland ek een aand om ’n braaivleisvuur met ’n paar ou sowel as nuwe gesigte. Terwyl die kaas op die braaibroodjies smelt, doen ek maar soos altyd my ding: ek vra die nuwelinge uit. En die gesprek kry lewe met die sagte lig van die vlamme (en waarskynlik die goeie Kaapse wyn) wat wonderlike lewensverhale laat knetter.

Ek was doodtevrede om net te luister en hier en daar met ’n stiltetjie nog gesprekshout op die vuur te gooi. Maar daar draai die man met die silwerraambril skielik om, vou sy arms en kyk my waterpas in die oë.

“En jy, Lizma – wat is jóú storie?”

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.