Luister: Lise Brink wil SA’ners met kunsledemate help

Die Brink-gesin. (Foto: Stepping Into Grace/Verskaf)

Sedert Lise Brink haar eerste kunsbeen danksy die welwillendheid van gemeenskappe vyf jaar gelede ontvang het, het sy lank en hard gebid vir ʼn manier om terug te ploeg en ander wat in dieselde posisie as sy is te help.

Brink en haar man, Danie, se lewe het op 16 Desember 2016 onherroeplik verander toe hulle en hul vyf kinders in ʼn ernstige motorongeluk buite Theunissen in die Vrystaat betrokke was.

Twee van hulle kinders – Andre (13) en Rachel (8) –  is in dié ongeluk dood en Lise het haar linkerbeen bokant die knie verloor nadat sy 40 dae in die intensiewe sorg deurbring het.

Sy kon ná 70 dae in die hospitaal vanuit haar tuin kyk hoe vriende, familie en vreemdelinge aan ʼn wedloop deelneem om vir haar haar eerste prostetiese been aan te koop.

Volgens Brink was sy oorstelp deur die hulp en gebede wat sy en haar gesin in dié moeilike tyd ontvang het en ʼn begeerte het by haar ontstaan om dieselfde ondersteuning aan mense in ʼn soortgelyke situasie te gee.

Lise draf graag met haar nuwe kunsbeen. (Foto: Danie Brink/Facebook)

Só is haar en Danie se organisasie sonder winsbejag, Stepping Into Grace (SIG), wat tweedehandse prosteses en ander komponente aan mense met amputasies in Suid-Afrika skenk, gebore.

Lise het onlangs met Maroela Media vanuit Athens, Georgia in die VSA – waar die Brink-gesin sedert 2019 woon – meer oor die ontstaan van SIG gesels en die lang, duur en uitdagende reis wat mense met amputasies dikwels moet ondergaan om prostese te kry.

“Die hoeveelheid geld wat daar destyds met ‘Hardloop vir Lise’ ingesamel is, was presies genoeg om my eerste prostetiese been vir my aan te koop. ʼn Mens kan nie sulke toevallighede miskyk nie. Die Here het hierdie deur aanhou oopmaak en my en Danie se harte aanhou aanroer om iets vir ander te doen.”

Sy het ook oor die vordering wat sy maak met haar nuwe hardloopbeen wat sy einde 2021 ontvang het, gesels en vertel hoe sy haar passie vir beweeg gaan gebruik om haar organisasie se netwerk verder uit te brei en soveel Suid-Afrikaners as moontlik te help om ook die regte prostese en komponente te kry.

Sy deel ook wat sy en haar gesin die meeste van hul tuisland mis.

“Mense het landwyd gebid en my gesin ondersteun in ʼn tyd wat ek nie kon nie. Ek gaan hulle nooit terug kan betaal nie, maar dit is troostend om op ʼn manier dankie vir Suid-Afrikaners te kan sê.”

Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.