Luister: Marion Holm kry dramagraad op 50


Die verhoogpersoonlikheid en aktrise Marion Holm vang haar dramagraad op 50. Foto: Robert Hamblin

Die verhoogpersoonlikheid en aktrise Marion Holm vang haar dramagraad op 50. Foto: Robert Hamblin

Wanneer Marion Holm nie besig is om gehore te laat skaterlag of te pronk op gewilde Afrikaanse televisiereekse nie, vang sy graad. Dié legendariese verhoogpersoonlikheid, wat deesdae ook gewild is as Dot van die kykNET-reeks Terug na Egipte, het onlangs ʼn dramagraad by die Universiteit van Stellenbosch verwerf.

Marion het dertig jaar gelede met dié graad begin, maar haar studies gestaak omdat sy gevoel het daar is te veel onnodige modules in wat nie met die kursus verband hou nie. Hoewel sy intussen ʼn suksesvolle loopbaan uitgekerf het, word Marion se lewe soms bemoeilik deur fibromialgie, ʼn mediese toestand wat gekenmerk word deur chroniese, wydverspreide pyn en ʼn verhoogde pynlike reaksie op druk.

Sy het aanvanklik gedink dié graad sal haar in staat stel om klas te gee. “Ek weet nie hoe die siekte my lewe gaan beïnvloed nie en daarom wou ek die opsie hê om te gaan klasgee as ek nie meer self kan speel nie,” het sy vertel.

Hoewel sy nie enige planne het vir nagraadse studies nie, neem dit ywer en durf om ʼn graad op 50 te voltooi. Sy ploeg daagliks dié hardwerkendheid in nuwe planne vir verhoogproduksies in. “Ek doen elke jaar ʼn nuwe eenvrouvertoning wat ek vir daardie jaar speel. Ek is tans besig om die teks vir die aansoeke vir die KKNK te verfyn. Chris Vorster begin in Januarie saam met my daaraan werk,” sê sy.

Die skryf van dié teks gebeur ook makliker na jare en veral na die sukses van vorige verhoogproduksies soos die Aardklop-produksie, Die Kaap is weer Holms. “Ek is altyd dankbaar vir elke liewe kaartjie wat verkoop word en Aardklop se gehore was so vrygewig, dit het my hart warm gemaak.”

Aanhangers kan uitsien na ʼn vertoning van Die Kaap is weer Holms in Hartenbos op 18 Desember. Die produksie by KKNK in 2016, Ag, ek val sommer met die Holm in die deur, beloof ook om hope pret en vermaak te verskaf.

Luister hier na Marion se wenke oor hoe om Kersfees saam die familie of skoonfamilie te oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Snot ·

Dis nou snaaks. Asof Marion Holm ‘n graad nodig het om dramaties te wees.
Sy maak al drama van kleins af!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.