Luister: Matrikulant met geboortevlek inspireer nou duisende

Chantel Struwig. (Foto: Instagram via @chantelstruwig)

Chantel Struwig. (Foto: Instagram via @chantelstruwig)

Vir talle tieners en jong mense is dit ʼn uitdaging om in die spieël te kyk en hulself te aanvaar net soos hulle geskape is. Vir Chantel Struwig, ʼn 18-jarige matrikulant aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, was dit egter ʼn nóg groter uitdaging – maar een wat sy met vlieënde vaandels oorkom het.

Struwig is gebore met ʼn geboortevlek oor die linkerkant van haar gesig, ken en nek.

In die era van sosiale media waarin mense glo om vlekkeloos te wees is gelyk aan perfeksie, het sy egter die keuse gemaak om haar unieke voorkoms vir ʼn goeie doel aan te wend en ʼn positiewe boodskap oor selfbeeld uit te dra.

Struwig het tans 22 300 volgelinge op Instagram en het ook op Minki van der Westhuizen se geselsprogram, Minki, op VIA verskyn. Sy is onlangs genooi vir ʼn radio-onderhoud met GrootFM, en verklap dat sy ook haar lyf model gehou het vir ʼn reklameveldtog vir die klerevervaardiger- en handelsmerk Refinery. Dié veldtog word later vanjaar bekendgestel.

Sy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media sy is deur die Amerikaanse aktrise en model Paige Lauren Billiot se Instagram-rekening geïnspireer om haar geboortevlek eerder te beklemtoon as weg te steek. Billiot het ook ʼn geboortevlek oor haar gesig en gebruik dié sosialemediaplatform om bewusmaking oor geboortevlekke te doen.

Paige Lauren Billiot. (Foto: Instagram via @flawless_affect)

Paige Lauren Billiot. (Foto: Instagram via @flawless_affect)

“Paige het op 15 Mei, wat internasionale geboortevlekdag is, ʼn foto op haar Instagram-rekening gelaai waar sy haar geboortevlek met blinkers en grimering uitgelig het. Ek het daar en dan gewonder hoekom kan ek nie ook nie. As sy dit kan beklemtoon, kan ek dit ook doen,” vertel Struwig.

Sy erken sy het nog altyd geweet sy lyk anders as ander mense. Hoewel haar vriende en familie haar soos enigiemand anders hanteer het, is dit juis die mense wat haar nié ken nie, wat haar anders hanteer.

“As ek in winkelsentrums rondloop, sal mense my snaaks aankyk. Partykeer kom mense na my toe en vra wat het met my gebeur. Ek weet dan nie wat om te doen nie, want ek dink nie mense verstaan dat dit vir my ongemaklik is nie.”

Daarom voel sy daar is nog baie bewusmakingswerk om te doen oor geboortevlekke. “Ek begin agterkom mense herken my op straat en dit is vir my wonderlik dat ek ʼn verskil maak daar buite, maar daar is nog ʼn lang pad om te stap en ek probeer net positief bly deur alles. Sulke insidente maak dit wel ʼn bietjie moeilik,” erken sy.

Sy vertel dat sy reeds van babatyd af behandeling ontvang het vir die vlek op haar gesig. “Ek het van baie kleins af begin met laserbehandeling, maar ek het in ʼn stadium opgehou daarmee, want die behandeling is baie pynlik. Later het die dokters chemo-behandeling aanbeveel, want my onderlip is as gevolg van die geboortemerk dikker aan die een kant as aan die ander kant.

Chantel Struwig. (Foto: Instagram via @chantelstruwig)

Chantel Struwig. (Foto: Instagram via @chantelstruwig)

“Ek het dié behandeling elke eerste Saterdag van die maand ontvang en dit was baie moeilik. Ek sou ná elke behandelingsessie vir ʼn week tuis bly, want die newe-effekte het my baie siek laat voel en dit het geel blase op my lip veroorsaak, wat my net soveel meer selfbewus laat voel het. Ons moes dié behandeling ook stopsit, want ek kan nie in my matriekjaar bekostig om vir weke tuis te bly en skoolwerk te mis nie. Ek begin egter nou weer met behandeling en ek is opgewonde om te sien hoe dit gaan uitwerk.”

Volgens Struwig het sy nooit kon dink nie dat haar bewusmakingspogings op sosiale media die aandag sou lok wat wel die geval is. Sy meen dat sy nou ʼn groot verantwoordelikheid op haar skouers dra om die gesig en stem te wees vir duisende mense wat dieselfde as sy lyk of voel.

“Die boodskappe wat ek op sosiale media ontvang wat vir my sê ek sal nie weet wat ek vir ander mense beteken nie en ek is so inspirasie vir hulle, laat my voel dat ek nou mense sal teleurstel as ek moet ophou met waarmee ek besig is. Ek voel ek stel ʼn voorbeeld,” sê sy.

Sy beklemtoon dit is belangrik dat mense hulself moet aanvaar vir hulself en nié vir ander nie. “Werk daaraan om jouself te aanvaar en wees die persoon wat jy wil wees vir jouself, nie vir ander mense nie.”

Struwig erken eerlik dat sy self nog slegte dae beleef wat aanvaarding van haar eie voorkoms betref en dat sy steeds deur moeilike tye gaan met haar selfbeeld. “Dit is partykeer vir my moeilik om te dink: ‘Oukei, jy is nou die meisie met die geboortevlek’, en dit is hoe mense my gaan sien. Dit is ʼn proses en partykeer voel dit of mense veral nou meer daarna oplet. Ek moet met by weer bestekopname doen en besluit of ek dit vir die regte redes doen: vir myself of vir ander.”

Chantel Struwig kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Megan Gittins/Maroela Media)

Chantel Struwig kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Megan Gittins/Maroela Media)

Haar toekomsplanne ná skool sluit onder meer in om te gaan studeer en om by motiveringspraatjies betrokke te raak. “Ek wil graag by skole en veral met meisies gaan gesels en vir hulle sê dit is oukei om net jouself te wees,” sê sy.

“Ek ontvang gereeld boodskappe van meisies wat sê hulle word geboelie of afgeknou oor hul voorkoms en hulle vra dan raad oor hoe om dit te hanteer, en my antwoord is altyd: ‘Kill them with kindness’. As daar iemand is wat lelik is met my, probeer ek dit aflag en vir die persoon op daardie manier wys hy of sy gaan my nie onderkry nie. Ek probeer altyd iemand antwoord met humor en dit werk vir my om te lag deur moeilike tye – dit is my hanteringsmeganisme.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

19 Kommentare

Jo-anli ·

CHANTAL STRUWIG jy is ń pragtige mens. Jy straal dit sommer uit. N prinses

Johann cb ·

Sy is ‘n pragtige mens nét soos sy is! Jy kan haar persoonlikheid sien borrel!

Annette ·

Chantel, jy is pragtig! Mag jou matriekuitslae net so skitterend soos jy wees.

Sandy Botha ·

Ek wonder baie as ‘n kamera jou karakter in stede van jou gesig afgeneem het – of daar nog so baie mense op Instagram ens hulle fotos so plaas. Nope! Chantel jy het nie daardie probleem nie. Ek dink jy is ongelooflik mooi. Well done!!!

Mariëtte ·

Chantel jy is pragtig! Ek is 70 jaar gelede gebore en die dokter het my senuwees aan die linkerkant van my gesig afgeknyp met die gevolg dat my gesig verlam is aan my linkerkant. Genadiglik aanvaar almal wat ek teekom my soos wat ek is. Klein kindertjies vra my gereeld hoekom my mond skeef is, dan antwoord ek dat Jesus my so gemaak het. Dan kry ek gewoonlik sommer ‘n Bybelllessie in. Absolute genade. Elkeen is waarlik uniek geskape.

Lizelda ·

Wow!!! Jy inspireer tot v my op 45 om anders na myself te kyk. Well done en mag jy fantasties doen md eind eksamen.xxx

Antoon ·

Almal se kommentaar is “pragtig”, so laat ek dan maar se “stunning” ????

Karine ·

Dis die mooiste meisie-mens wat al gesien het. Sy moet net bly soos sy is. BEELDSKOON!!!!

Wow ·

Wow, jys regtig ‘n beeldskone model. Pragtige jong dame. Gaan volheid voort, jy mag maar.

Annie ·

Ek wil net graag vir Chantelle Struwig se sy is een baie mooi mens en sy moet bly net soos sy is. Ek het ook aanvanklik deur my skooljare baie probleme gehad met selfbeeld maar haar woorde wys my net weereens dat om jouslef te wees is die beste. So Chantelle baie dankie vir jou opbeurende woorde en mag jy vir altyd die pragtige mens bly wat jy is. :))

Ronell ·

Kyk net hoe gebruik Jesus hierdie pragtige meisiekind om die wêreld om haar te inspireer. Sy word sekerlik omring met n lieflike gesin en ondersteunende familie en gemeenskap. Bou hierop voort mooi mensie.

emily ·

Mense is maar net nuuskierig en aaglik, Moenie jou daaraan steur nie.
Jy en jou smile is stunning.

Lindtjies ·

Chantal jy is van binne en buite ‘n pragtige mens. Jy het die regte houding teenoor mense wat onsensitief is. Ek sê altyd mense wat iemand met gestremdhede of ander afwykings spot het nie opvoeding gehad nie. Want dit is waar dit begin by die opvoeding wat jy kry. Goeie ouers leer hulle kinders reg.

Elizabeth Potgieter ·

Chantal jy is pragtig my seun het ook so geboorte merk in sy gesig nou 26 trou met ‘n pragtige vrou wat hom vat net soos hy is. en ons as ouers glo kinders wat met enige geboorte merk gebore is is geseend no matter what you are still beautiful .

Snip van Joburg ·

Ek gaan ook nou anders na myself in die spieel kyk. Jy het my nou meer selfvertroue gegee. Danki jou pragtige kind. Jy is awesome.

Leon ·

Chantal, ek stem saam , jy is ‘n pragtige mens. My oorlede pa het ‘n geboorte vlek gehad wat sy hele regterkant van sy gesog bedek het. Hulle het dit ‘n “rasberry” vlek genoem. Dit het niks aan sy persoonlikheid gedoen nie. Hy was ‘n wonderlike mens en het baie mense geïnspireer in die lewe. Moemie dat dit jou enigsings terughou nie. Oorwin die wêreld met ‘n mooi persoonlikheid. Jy kan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.