Luister: Matrikulant met geboortevlek inspireer nou duisende

Chantel Struwig. (Foto: Instagram via @chantelstruwig)

Chantel Struwig. (Foto: Instagram via @chantelstruwig)

Vir talle tieners en jong mense is dit ʼn uitdaging om in die spieël te kyk en hulself te aanvaar net soos hulle geskape is. Vir Chantel Struwig, ʼn 18-jarige matrikulant aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, was dit egter ʼn nóg groter uitdaging – maar een wat sy met vlieënde vaandels oorkom het.

Struwig is gebore met ʼn geboortevlek oor die linkerkant van haar gesig, ken en nek.

In die era van sosiale media waarin mense glo om vlekkeloos te wees is gelyk aan perfeksie, het sy egter die keuse gemaak om haar unieke voorkoms vir ʼn goeie doel aan te wend en ʼn positiewe boodskap oor selfbeeld uit te dra.

Struwig het tans 22 300 volgelinge op Instagram en het ook op Minki van der Westhuizen se geselsprogram, Minki, op VIA verskyn. Sy is onlangs genooi vir ʼn radio-onderhoud met GrootFM, en verklap dat sy ook haar lyf model gehou het vir ʼn reklameveldtog vir die klerevervaardiger- en handelsmerk Refinery. Dié veldtog word later vanjaar bekendgestel.

Sy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media sy is deur die Amerikaanse aktrise en model Paige Lauren Billiot se Instagram-rekening geïnspireer om haar geboortevlek eerder te beklemtoon as weg te steek. Billiot het ook ʼn geboortevlek oor haar gesig en gebruik dié sosialemediaplatform om bewusmaking oor geboortevlekke te doen.

Paige Lauren Billiot. (Foto: Instagram via @flawless_affect)

Paige Lauren Billiot. (Foto: Instagram via @flawless_affect)

“Paige het op 15 Mei, wat internasionale geboortevlekdag is, ʼn foto op haar Instagram-rekening gelaai waar sy haar geboortevlek met blinkers en grimering uitgelig het. Ek het daar en dan gewonder hoekom kan ek nie ook nie. As sy dit kan beklemtoon, kan ek dit ook doen,” vertel Struwig.

Sy erken sy het nog altyd geweet sy lyk anders as ander mense. Hoewel haar vriende en familie haar soos enigiemand anders hanteer het, is dit juis die mense wat haar nié ken nie, wat haar anders hanteer.

“As ek in winkelsentrums rondloop, sal mense my snaaks aankyk. Partykeer kom mense na my toe en vra wat het met my gebeur. Ek weet dan nie wat om te doen nie, want ek dink nie mense verstaan dat dit vir my ongemaklik is nie.”

Daarom voel sy daar is nog baie bewusmakingswerk om te doen oor geboortevlekke. “Ek begin agterkom mense herken my op straat en dit is vir my wonderlik dat ek ʼn verskil maak daar buite, maar daar is nog ʼn lang pad om te stap en ek probeer net positief bly deur alles. Sulke insidente maak dit wel ʼn bietjie moeilik,” erken sy.

Sy vertel dat sy reeds van babatyd af behandeling ontvang het vir die vlek op haar gesig. “Ek het van baie kleins af begin met laserbehandeling, maar ek het in ʼn stadium opgehou daarmee, want die behandeling is baie pynlik. Later het die dokters chemo-behandeling aanbeveel, want my onderlip is as gevolg van die geboortemerk dikker aan die een kant as aan die ander kant.

Chantel Struwig. (Foto: Instagram via @chantelstruwig)

Chantel Struwig. (Foto: Instagram via @chantelstruwig)

“Ek het dié behandeling elke eerste Saterdag van die maand ontvang en dit was baie moeilik. Ek sou ná elke behandelingsessie vir ʼn week tuis bly, want die newe-effekte het my baie siek laat voel en dit het geel blase op my lip veroorsaak, wat my net soveel meer selfbewus laat voel het. Ons moes dié behandeling ook stopsit, want ek kan nie in my matriekjaar bekostig om vir weke tuis te bly en skoolwerk te mis nie. Ek begin egter nou weer met behandeling en ek is opgewonde om te sien hoe dit gaan uitwerk.”

Volgens Struwig het sy nooit kon dink nie dat haar bewusmakingspogings op sosiale media die aandag sou lok wat wel die geval is. Sy meen dat sy nou ʼn groot verantwoordelikheid op haar skouers dra om die gesig en stem te wees vir duisende mense wat dieselfde as sy lyk of voel.

“Die boodskappe wat ek op sosiale media ontvang wat vir my sê ek sal nie weet wat ek vir ander mense beteken nie en ek is so inspirasie vir hulle, laat my voel dat ek nou mense sal teleurstel as ek moet ophou met waarmee ek besig is. Ek voel ek stel ʼn voorbeeld,” sê sy.

Sy beklemtoon dit is belangrik dat mense hulself moet aanvaar vir hulself en nié vir ander nie. “Werk daaraan om jouself te aanvaar en wees die persoon wat jy wil wees vir jouself, nie vir ander mense nie.”

Struwig erken eerlik dat sy self nog slegte dae beleef wat aanvaarding van haar eie voorkoms betref en dat sy steeds deur moeilike tye gaan met haar selfbeeld. “Dit is partykeer vir my moeilik om te dink: ‘Oukei, jy is nou die meisie met die geboortevlek’, en dit is hoe mense my gaan sien. Dit is ʼn proses en partykeer voel dit of mense veral nou meer daarna oplet. Ek moet met by weer bestekopname doen en besluit of ek dit vir die regte redes doen: vir myself of vir ander.”

Chantel Struwig kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Megan Gittins/Maroela Media)

Chantel Struwig kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Megan Gittins/Maroela Media)

Haar toekomsplanne ná skool sluit onder meer in om te gaan studeer en om by motiveringspraatjies betrokke te raak. “Ek wil graag by skole en veral met meisies gaan gesels en vir hulle sê dit is oukei om net jouself te wees,” sê sy.

“Ek ontvang gereeld boodskappe van meisies wat sê hulle word geboelie of afgeknou oor hul voorkoms en hulle vra dan raad oor hoe om dit te hanteer, en my antwoord is altyd: ‘Kill them with kindness’. As daar iemand is wat lelik is met my, probeer ek dit aflag en vir die persoon op daardie manier wys hy of sy gaan my nie onderkry nie. Ek probeer altyd iemand antwoord met humor en dit werk vir my om te lag deur moeilike tye – dit is my hanteringsmeganisme.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jo-anli

CHANTAL STRUWIG jy is ń pragtige mens. Jy straal dit sommer uit. N prinses

Johann cb

Sy is ‘n pragtige mens nét soos sy is! Jy kan haar persoonlikheid sien borrel!

Annette

Chantel, jy is pragtig! Mag jou matriekuitslae net so skitterend soos jy wees.

Anoniem

Sy is pragtig!

Sandy Botha

Ek wonder baie as ‘n kamera jou karakter in stede van jou gesig afgeneem het – of daar nog so baie mense op Instagram ens hulle fotos so plaas. Nope! Chantel jy het nie daardie probleem nie. Ek dink jy is ongelooflik mooi. Well done!!!