Luister: Morné Steyn skop projek af om skolesport te help

Morné Steyn is die ambassadeur van Tekkies & Toks (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die bekroonde skopafrigter Vlok Cilliers en die rugbyspeler Morné Steyn snoer kragte saam met Solidariteit Helpende Hand om skop-skop ’n verskil in die land te maak.

Cilliers, deur middel van sy skopakademie, Vlokskop, en Steyn, Springbok en Blou Bul-rugbyspeler, het onlangs saam met Helpende Hand hul Tekkies & Toks-projek van stapel gestuur.

Tekkies & Toks gaan met die publiek se hulp poog om in 2021 minstens 1 000 behoeftige hoërskoolleerlinge landwyd van noodsaaklike items te voorsien om sport op ’n gelyke vlak met hul spanmaats te kan beoefen.

Steyn, wat die ambassadeur van die Tekkies & Toks-projek is, sê hy onthou hoe belangrik ʼn paar goeie skoene was toe hy met sy rugbyloopbaan op skool begin het.

“Ek is die jongste seun, so ek het al die ou toks van my ouboet gekry. Ek het my eerste ordentlike paar toks by my vriend Ruan Pienaar se pa, Gysie Pienaar gekry, nadat ek vir lank met my broer se ou toks gespeel het.

“Dit was vir my wonderlik gewees daai tyd om ʼn paar ordentlike Adidas-toks te hê. Want as jy deesdae kyk na die prys van toks weet ek nie hoe families met twee of drie kinders wat wil rugby speel, dit sal kan bekostig nie. En dan praat ons nie eens van tekkies nie.”.

Cilliers verduidelik die idee is gebore uit die talle uitdagings wat die publiek vanjaar weens die Covid-19-pandemie ervaar het.

Tekkies & Toks (Foto: Verskaf)

“Baie uitdagings het oor ons pad gekom. Mense het hul werk en selfs hul lewens verloor. Met dié projek wil ons poog om saam met ’n groot instelling soos Helpende Hand weer hoop te bring.

“Kinders lê my na aan die hart, en as ons kinders kan help om beter geleenthede te ontvang, dan moet ons help waar ons kan. Ons wil ’n verskil maak deur hulle selfvertroue te gee en menswaardig te laat voel,” sê hy.

Helpende Hand sê hulle besef die belang van sport vir kinders op soveel vlakke van hul ontwikkeling.

“Finansies moet nooit die rede wees dat kinders nie aan sport deelneem nie,” sê Margole Riekert, Helpende Hand se projekorganiseerder van Tekkies & Toks.

Steyn sê sport is in Suid-Afrikaners se bloed en op skool word die fondasie gelê vir mense wat dalk ʼn sportloopbaan wil volg. Daarom is dit belangrik vir Tekkies & Toks om op skoolvlak reeds kinders te help sodat hulle nie van die geleentheid ontneem word nie.

“As jy ʼn goeie sportman wil wees, maak nie saak watter sport jy wil beoefen nie, is die regte skoene, en kwaliteit skoene, baie belangrik. En almal kan dit nie bekostig nie. Daarom wil ons graag die jeug so help.”

Vir meer inligting oor Tekkies & Toks besoek hul webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.