Luister: SA’ner durf gevaarlikste berg aan vir liefdadigheid

(Foto: Food4Hope/Facebook)

In Julie vanjaar pak die atleet Warren Eva die K2-berg in Pakistan, wat 8 611 m hoog is, ten bate van die welsynsorganisasie Food 4 Hope aan.

Maroela Media het met Eva en Linda Niemöller, wat aan die stuur van die organisasie is, in die ateljee gekuier om meer oor die Climb 4 Hope-projek uit te vind.

Veelsydige Eva het onder andere reeds drie van die sewe wêreldpieke oorwin, twee pieke van Kilimanjaro in Tanzanië bereik en aan die Comrades deelgeneem.

“Dit is ’n opwindende projek vir Suid-Afrika. In 1996 het Suid-Afrikaners die eerste piek van Everest bereik. Hierdie is waarskynlik die grootste uitdaging vandat dit plaasgevind het. Ons gaan K2, die tweede hoogste bergpiek in die wêreld, aanpak.”

K2, wat ook as die “woeste berg” bekend staan, is dalk sowat 240 m laer as Everest (8 611 m teenoor Everest se 8 849 m), maar is aansienlik moeiliker om te klim.

Die uitdagings wat met die klim van die berg gepaard gaan, loop hand aan hand met die lukrake aard van die weer en die toeganklikheid van die piek. Eva het egter reeds twee dekades se bergklim-ervaring agter die blad ter voorbereiding van die reuseklimtog.

Eva en sy span is hard aan die oefen om voor te berei vir die uitdagende klimsessie wat vir hulle voorlê.

Alhoewel die span nog nie hulself vir die koue en sneeu kan voorberei nie, sluit die oefening hardloop en swem in.

Dit is ’n 100 km lange staptog om tot by die basis van die berg te kom, en dit sal Eva en sy span om en by twee maande neem om tot bo te klim.

“Daar gaan definitief ’n paar asemrowende foto’s terug huis toe gestuur kan word, en hopelik sal daar ’n Suid-Afrikaanse vlag wapper op die piek.”

Food 4 Hope, wat verlede jaar sy deure geopen het, se hoofdoelwit is om kinders van kos te voorsien.

“Kinders is die toekoms van ons land. Dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid om na die kinders om te sien. ’n Kind wat honger is, kan nie leer, konsentreer of vorder op skool nie. Ons wil die kinders ’n geleentheid gee om te kan vorder. Ons glo dat kinders die reg het tot goeie kos, mediese hulp en opvoeding. Dis waar ons passie lê.”

Die span hoop om met dié klimtog ʼn R1 miljoen in te samel en al die geld wat deur die Climb 4 Hope-projek ingesamel word, sal aan hierdie basiese kinderbehoeftes bestee word.

  • Luister bo na die gesprek wat Maroela Media met Eva en Niemöller oor die projek gevoer het.
  • Vir meer inligting oor die Food 4 Hope-organisasie en die Climb 4 Hope-projek, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.