Luister: Stuit die uitstelmonster in sy spore

Heidi Mollentze (Foto: Verskaf)

Dit is Vrydagmiddag en die wysers op die horlosie beweeg teen ʼn duiselingwekkende spoed. Jy werk verwoed om jou taak voor die spertyd van 17:00 klaar te maak, terwyl jy jouself stilweg verwens omdat jy nie heelwat vroeër daarmee weggespring het nie.

Hoe het dit gebeur? Wat het jy verkeerd gedoen, en waarom het jy jou fokus verloor?

Wel, daar was die ure wat jy aan e-posse en sosiale media afgestaan het, die buitensporige “voorbereiding”, koffiepouses en al daardie ander take wat jy eers gedoen het wat eintlik tot volgende week kon oorstaan.

Klink dit bekend? As dit so is, is jy nie alleen nie. Uitstel is ʼn monster wat talle van ons pootjie.

Heidi Mollentze, lewensafrigter by Greatness Coaching, is terug en in die derde aflewering van ons inspirasiereeks verduidelik sy waarom ʼn mens belangrike dinge so maklik uitstel. Sy gee ook maklike metodes wat jou sal help sodat jy dit wat belangrik is nie langer sal uitstel nie.

Hoekom stel ons uit?

Heidi meen ʼn uitsteller is nie lui nie, dit gaan eintlik veel meer oor ʼn vrees vir verwerping.

“Ons funksioneer nog met ons primitiewe brein, almal van ons, en as jy verwerp is in daardie tye sou jy sterf, want ʼn mens sou nie so maklik kon oorleef nie.

“Ons is bang vir verwerping en daarom stel ons belangrike take uit. Jou primitiewe brein dink as jy misluk met hierdie taak, of mense gaan dit nie aanvaar of daarvan hou nie, gaan hulle jou verwerp en dan gaan jy doodgaan.”

Dit klink dalk effens belaglik, maar dit is so eenvoudig soos dit, verduidelik Heidi.

Bestuur dit só

(Foto: Pedro da Silva/Unsplash)

Uitstel is ʼn gewoonte, ʼn diep ingeburgerde gedragspatroon, en dit beteken jy gaan dit waarskynlik nie oornag kan verbreek nie.

Moenie tou opgooi nie! Heidi sê as jy eers 21 keer iets gedoen het, het jy reeds ʼn nuwe breinpaadjie geskep en sodra jy dit meer as 50 keer gedoen het, het jy ʼn nuwe gewoonte gevestig.

Probeer die onderstaande metodes om uitstel teen te werk:

  • Vergewe jouself as jy ʼn kroniese uitsteller is. Skuldgevoelens het die moontlikheid om jou uitstelgewoontes te vererger. As jy jouself vergewe en positief oor jouself voel, kan jy die kanse op uitstel in die toekoms verminder.
  • Verbind jouself tot ʼn taak en fokus daarop om dit te doen.
  • Beloon jouself met ʼn lekkerny, speeltyd met jou troeteldier of ʼn stappie om die blok. Sorg dat jy voel hoe goed dit voel om dinge af te handel.
  • Vra iemand om jou verantwoordelikheidsvennoot te wees, want groepsdruk werk.
  • Herformuleer jou interne dialoog. Praat met jouself en sê: “Ek kan dit doen, dit is lekker, ek het gekies om dit te doen en dit is ʼn sukses.” Skep vir jouself ʼn prentjie as dit moet; onthou, jou brein glo alles wat jy hom vertel.
  • Verminder jou afleidings. Skakel jou e-posse en sosiale media af as dit moet en moenie die radio of televisie aanskakel terwyl jy werk of leer nie.
  • Eet die olifant happie vir happie: Breek ʼn groot taak in kleiner, meer hanteerbare deeltjies op en werk vir 20 minute op ʼn slag daaraan.

 

  • Heidi Mollentze het in Maroela Media se ateljee kom kuier en gesels oor uitstel, hoekom ons dit so maklik doen en hoe jy dit beter kan bestuur. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.
  • Greatness Coaching met Heidi Mollentze kan op Facebook en Instagram gevolg word of bel Heidi by 079 815 6305 om ʼn persoonlike ontwikkelingsessie te bespreek.
  • Luister hier na Maroela Media se reeks gesprekke met Heidi Mollentze.
  • Bykomende bronne: Mindtools.com

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.