Luister: Voorwaarts mars met Reynardt Hugo

Reynardt Hugo se boek, Soldaat, het pas by Lux Verbi verskyn. (Foto: Reynardt Hugo/Facebook)

Reynardt Hugo het jare agter die skerms van sy akteurs- en sangloopbaan geworstel met die gevolge van sy ouers se egskeiding, drankmisbruik en later jare met ʼn verslawing aan dagga.

Maar êrens langs die pad het Hugo besef dit is tyd om halt te roep en hy het tot bekering gekom. Sedertdien marsjeer hy in ʼn ander rigting – gepantser met die wapenrusting van God.

Hugo het onlangs in die Maroela Media-ateljee gesels oor die draaipunte in sy lewe en oor sy boek, Soldaat, wat pas by Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskyn het.

Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. – Efesiërs 4:11

“Dit was ʼn verskriklik moeilike proses om die boek te skryf,” erken Hugo. Hoewel die geleentheid sowat twee jaar gelede oor sy pad gekom het en hy ongelooflik opgewonde was om sy verhaal te deel, was dit ʼn enorme uitdaging om skadu’s van sy verlede te verwerk. Wat dit egter nog moeiliker gemaak het, was al die tyd wat hy laas jaar op hande gehad het.

“Ek het dikwels gaan sit om te skryf en dan vinnig weer moed opgegee, maar soos wat ek nou daaraan terugdink, was dit goed vir my hart en siel om dinge van die verlede so op papier te sit.”

Dié 34-jarige akteur het geweet sy hart is uitgeskryf die dag toe sy uitgewer laat weet het sy is tevrede. Dit is deels ook te danke aan sy uitgewer se insette dat die titel gekies is.

“Ek kan nie glo dit het so uitgewerk dat die titel van my boek Soldaat is nie. Albei my ouers en stiefma was in die weermag en Adam het ʼn liedjie met die titel ‘Liefde Soldaat’,” sê Hugo. “En dit is ook verteenwoordigend van God se wapenrusting. Jy moet sterk wees en jy moet Hom aantrek.”

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Reynardt Hugo. Hy gesels oor die draaipunte in sy lewe, Christenskap en sy boek, Soldaat, wat pas by Lux Verbi verskyn het. Spits jou ore, want aan die einde van die onderhoud kan jy ook na sy enkelsnit “Weggebreek” luister wat saam met die boek uitgereik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.