Ma en dogter skep uit rommel

Helen O’Halloran en haar dogter Tessa. (Foto verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Tessa O’Halloran en haar ma, Helen, het hul eie sakeonderneming, Plasticity, waar hulle plastiek hergebruik na aanleiding van die groot probleem met rommel in ons pragtige land. Hulle vervaardig die allermooiste alledaagse nuutskeppings uit plastiek en hennep om sodoende ons wêreld ʼn mooier plek te maak.

Dié konsep val mooitjies in lyn met Suid-Afrika se verbintenis tot volhoubaarheid en ekovriendelike ontwerpe. Dié gedugte ma-en-dogter-span ontwerp en vervaardig en tower die mooiste handsakke, badkamer- en potloodsakkies, skootrekenaarsakke,koelsakke, ensomeer op uit rommel soos plastiek en hennep wat andersins net ons omgewing bevuil. Alle produkte word vervaardig in hul tuisdorp, Graaff-Reinet, waarvandaan hul ook hulle plastiek verkry en herwin. Hulle hennephennep kom van die Hemporium in Kaapstad. Tessa vertel dat sy graag haar eie besigheid wou begin sodat sy die vryheid kon hê om haar passie na te streef en boonop ontwerpe aan die wêreld te konseptualiseer.

“Om ʼn besigheid te skep is ʼn spanpoging om saam aan ʼn droom te bou. Ek en my ma het ʼn begeerte gehad om ʼn verskil in die omgewing te maak en om mooi produkte uit rommel te vervaardig. Ek het begin navorsing doen op die internet en sodoende ʼn metode gevind waarmee ons plastiek kon herskep om iets funksioneel en mooi te maak. Ons ontwerp en maak produkte wat ons self wil gebruik en hou ook die modebewuste verbruiker in gedagte. Die produkte is funksioneel, veelsydig, pragtig en toevallig maar net vervaardig van afvalmateriaal. Plasticity is ons toewyding om nuwe lewe te gee aan plastiek en omgewingsvriendelike produkte te vervaardig wat ʼn positiewe, sosiale indruk op plaaslike gemeenskappe skep en boonop ons alledaagse lewe verfraai.”

Tessa en Helen prosesseer self die plastiek, ʼn baie arbeidsintensiewe werk. Natuurlik kom die vervaardiging van herwinbare produkte met uitdagings soos die skakels van voortdurende voorsiening; die konsekwentheid en kontinuïteit van afvalmateriaal. “Ek het nie ontwerp studeer nie en my kennis spruit bloot uit die behoefte om te leer hoe dinge gemaak word. Ek leer baie uit my foute, maar so leer ʼn mens mos maar. In 2017 het ek ons eerste prototipes met die hand begin maak en vandaar af het die besigheid begin vorm aanneem. Die vreeslike plastiekafvalkrisis het as motivering gedien en ons genoop om aan maniere te dink hoe dit hergebruik kon word.”

Tessa vertel dat sy en haar ma dit baie geniet om saam te werk en hul individuele kragte in te span om ʼn sukses van Plasticity te maak. “My ma is ʼn ongelooflike naaldwerkster en vervaardig die produkte. Sy is so pligsgetrou tot ons visie en dit dien as groot inspirasie vir my. Ek hanteer die bemarking, verkope, fotografie, webwerf en produkontwikkeling asook kliëntediens.” Boonop word hul handelsmerk geïnspireer deur neuroplasticity – die brein se vermoë om nuwe neutrale paadjies te skep in reaksie op verandering en die vermoë om aan te pas by uitdagings op ʼn positiewe manier.

Tessa vertel dat sy en haar ma dit baie geniet om saam te werk en hul individuele kragte in te span om ʼn sukses van Plasticity te maak. (Foto verskaf)

Tessa is baie passievol oor die plaaslike vervaardigingsproses en om ʼn impak te maak op die land se ekonomie deur vervaardigers wat plaaslik is te ondersteun. “Dit is wonderlik wanneer ons produkte in plaaslike boetieks ten toon gestel word en beskikbaar is aan mense wat net so passievol is om plaaslik te ondersteun. Sodoende is ons almal deel van die groter prentjie en dra ons by tot die Suid-Afrikaanse sirkulêre ekonomie, een herwinbare produk op ʼn slag.” Die gedugte span beywer hul werklik om ʼn verskil te maak en te wees. Hulle ondersteun ook ʼn plaaslike organisasie sonder winsbejag, Boundless, waar hul handelsmerk-etikette vervaardig word. “Dit is ʼn plek waar gestremde individue werk. Ons hoop ook om te groei en voltydse werkskepping te kan bied vir plaaslike inwoners.”

(Foto verskaf)

Tessa sê om in ʼn klein dorpie, wat redelik ver is van die groter stede, ʼn besigheid te bedryf het sy uitdagings ten opsigte van die lewering van produkte, maar hulle het ʼn aanlynfasiliteit waar enigiemand produkte kan bestel. Soos in enige bedryf is daar ook mededingers, maar hul ingesteldheid is dat daar genoeg vir almal is en dat elkeen iets uniek bied. “Ons wil graag help om die kennis en waardering vir herwinde en kreatiewe hergebruikte produkte te groei, sodat dit die beweging aanhelp waarvan almal in die industrie deel kan wees. Ander handelsmerke inspireer ons en ons wil graag saamwerk. Hoe meer plaaslike Suid-Afrikaanse maatskappye suksesvol is, hoe beter vir ons almal.”

Tessa sê sy is voortdurend aan die droom en dink aan nuwe moontlikhede en produkte. “Ons kyk tans na die moontlikheid om ʼn ontwerp-dit-self-opsie bekend te stel, so hou gerus ons webwerf dop vir meer inligting hieroor of om ons produkte te besigtig en te bestel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.