Ma, ouma, pottebakker, kunstenaar

Antoinette Badenhorst.

Jacques Basson, eienaar van Klipkouers, gesels elke maand met ʼn Klipkouer-aanhouer-en-uithouer vir Maroela Media. Vandag se onderhoud is met pottebakker Antoinette Badenhorst.

Antoinette, vertel ons ’n bietjie meer oor jouself.

Ek is ’n pottebakker maar ten eerste ma en vrou vir my man, Koos. Ons is nou al 18 jaar in Amerika, nadat ons wye draaie deur Suid-Afrika gemaak het. Ek het in Namibië grootgeword en as jong getroudes het ons in die ou Transvaal gebly. Ons het in die Kaap geëindig voordat ons in Amerika kom anker gooi het. Ons het drie dogters saamgebring Amerika toe. Hulle is nou al almal volwassenes en ons is ouma en oupa van vyf kleinkinders.

Gee ons ’n opsomming van jou tipe besigheid.

Ek het gespesialiseer met my pottebakkery, veral oor die afgelope 10 tot 12 jaar, as ’n porseleinkunstenaar en ek doen, wat ons in Engels sê, “one of a kind pieces”. Ek gee ook al die afgelope 36 jaar klas. In Suid-Afrika het ek voltyds klas gegee vir baie jare en so ’n bietjie by kunspottebakkery betrokke geraak, maar hier in Amerika het ek baie sterker ontwikkel as kunspottebakker. Ek het in ’n stadium aan galery-uitstallings deelgeneem. Ek het ook skoue bygewoon voordat ons met die aanlyn besigheid begin het. Ons verskaf nou al die onderrig aanlyn. Hoewel ek nie meer klas vanuit my ateljee gee nie, doen ons wel werksessies by kunsgeleenthede en skole.

Hier is vir jou ’n strikvraag. Of, daar is twee vrae … Die porselein – ek neem aan jy maak dit op die pottebakkerswiel – is dit ’n spesifieke materiaal wat jy gebruik wat, uiteindelik, nog steeds gebak word of is daar iets anders in daardie proses as wanneer dit klei is?

Ek dink die twee moet geskei word. Daar is ’n oorkoepelende woord “keramiek”, maar ek dink as jy praat van gewone pottebakkery tenoor porselein-pottebakkery, moet die twee geskei word. Die rede is soos volg: Met porselein werk jy op dieselfde manier as met gewone klei, maar dit is baie meer veeleisend. Persoonlik praat ek van porselein as die “diva”. Dit is baie meer veeleisend en teen die tyd dat dit klaar gebak het, is dit semi-glas. Dus werk dit presies dieselfde, maar die finale produk is op die ou end anders.


Jy het hierdie unieke produk – waar begin ’n kunstenaar besluit die item is VSA $1 000 werd of VSA $10 000? Is daar ’n geheime berekening wat julle doen?

Jy kan dit nie doen soos die persoon wat sy tyd bereken en sy materiaalkoste neem en dit dan met mekaar vermenigvuldig nie. In die kunsbedryf werk dit anders. Daar is twee goed waarna jy kyk. Jy kyk na jou medekunstenaar en jy kyk waarteen die werk verkoop. Die ander ding wat vir my werk, is my “gut feeling”. Ek kyk na ’n ding en ek besluit dit is wat dit vir my werd is. Die waarde wat jy aan jou kunswerk heg, is die waarde wat jou kliënt daaraan gaan heg.

Een van Antoinette se skeppings.

Dit is dus die persepsie wat jy skep met die prys?

Ja, maar jy moet versigtig wees, want jy kan jouself uit die mark uit “prys”. Dit is hoekom jy die oog moet ontwikkel sodat jy kan sien wie die ouens is wat op dieselfde vlak as jy beweeg sodat jy jouself daarvolgens kan “prys”.

Waar is jou afsetpunte? Het jy jou eie galery of sit jy dit op ander ouens se rakke? Hoe werk daardie proses?

Daar is baie voordele en nadele om te oorweeg. Hier in Amerika is daar ’n webwerf genaamd “Etsy”. Hulle is baie groot en wêreldwyd bekend, met goeie en swak kuns daarop. So waar meet ek myself? Hoe gaan ek die vis wees wat gaan uitstaan in daardie grote waterdam? Dus het ek ’n paar jaar gelede besluit: As ek wil uitstaan, moet ek vir myself werk om uit te staan. Die manier hoe ek dit doen, is om op my eie webwerf te bemark. Ons is ook baie dankbaar vir sosiale media. Ek weet nie hoe ’n mens 10 jaar gelede daarsonder klaargekom het nie! As jy met sosiale media kan leer om jouself goed te bemark, en jouself nie oorbemark of onderbemark nie, kan jy vir jouself ’n goeie platform skep.

Wat maak jou besigheid anders as die kompetisie?

Ek maak geweldig baie gebruik van “word of mouth”. Mense sien my werk. Hulle hou van my werk. Ek maak seker dat ek topgehaltefoto’s het om my werk mee te bemark en ek vertel van die storie agter elke stuk werk. Elke skepping het ʼn storie. Wanneer ek werksessies aanbied, doen ek altyd ’n “slide show”. Ek vertel hulle die storie waar ek begin het en ek wys vir hulle my heel eerste werk wat ek gedoen het. Ek neem hulle deur die agtergrond en skeppende proses, wat my gedryf het om ’n spesifieke ding te doen. Dit is dus nie net ʼn dooie produk wat daar staan nie, maar een met ʼn storie.

Daar is egter ook ’n ander aspek, genaamd versamelaar. Daar is ’n sterk groep versamelaars, veral in Amerika, wat kuns versamel en vir daardie mense vertel jy nie die storie. Hulle kyk na die produk, hulle interpreteer wat húlle daarin wil sien en dit is hoe hulle besluit of hulle jou werk wil koop of nie. As jy eers die versamelaarsmark betree het waar daar spesifieke mense is wat sê, “ek versamel jou werk”, dan is jy in ’n goeie plek.

Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het?

Een van die heel grootstes in my loopbaan was die dag toe ek ’n vennoot ingeneem het. Ek het in ’n stadium in Suid-Afrika ’n fabriek gehad en toe ’n vennoot as “sleeping partner” betrek. Hy het my uit die fabriek uit verneuk. Ek is destyds gewaarsku, omtrent twee weke voor die tyd, deur die Kleinsakeontwikkeling dat ek beslag moet neem van die geldboeke en ek het nie. Die les wat ek dááruit geleer het, is: As jy nie saam met jou vennoot kan slaap nie, dan het jy nie ’n vennoot nie! Koos is nou letterlik en figuurlik my “sleeping partner”.

George Bush het een van jou kunswerke en hulle het vir jou ’n bedankingsbriefie geskryf. Vertel bietjie meer daarvan. En natuurlik, Donald Trump het ook ’n kunswerk op pad na hom?

Ja, dit is die jonger president George Bush. President Donald Trump se kunswerk is gemaak en in die proses om afgewerk te word. Weet jy, Jacques, toe ek die dag besluit het ek wil 95 tot 100 jaar oud word en nog steeds pottebakkery doen, moes ek ’n strategie vir myself uitwerk. My strategie is: As ek bekend is, kan ek my werk verkoop en dan kan daar waarde daaraan wees. Om te gaan sit en 100 bekers te maak, te verkoop en môre beland dit iewers in ’n ou se kas in sy motorhuis, bied jou nie dieselfde waarde as wanneer jy ’n naam kan koppel aan dit wat jy doen nie. Dit beteken nie dat die ou wat produksiewerk doen nie ook waarde het nie, maar die kanse dat so ’n ou dit kan doen tot hy die dag 100 jaar oud is, is baie skraal.

Tydens ons aansoek vir ons Groenkaart – ons het vir myne aansoek gedoen – moes ek bewys dat my werk in die “top 10% of American ceramic art” is. Die logiese ding was om ’n pot vir die belangrikste ou in die wêreld te stuur. Ek hoop dat Trump ook sal kennis neem van my werk en dat ek dalk van hom ook ’n nota kry. Jy weet hoe gaan dit. Mense wil hulle met suksesvolle mense verbind en as dit my kan help om verder teen die suksesleer te klim, hoekom nie?

Wat is jou raad en wenke vir iemand wat sy eie besigheid wil begin?

Die eerste ding is: Jy moet heeltemal uit jou boks klim. Die vraag is: Hoe klim jy uit jou boks? Daar is ’n skrywer na wie ek geluister het in ’n stadium. As hy “skrywersblok” kry, gaan hang hy op ʼn manier onderstebo in sy kantoor en as hy daar opstaan, dan lyk sy werk vir hom anders en kan hy weer aangaan. Dit is iets wat ek as kunstenaar self ervaar. Jy kyk nou na ’n soutpot, maar as jy die soutpot omdraai, dan lyk dit heeltemal anders – dit kan dalk ʼn hoed wees! Dit is belangrik om driedimensioneel te kyk en dink oor goed.

Vir enigiemand wat belangstel om sy eie besigheid te begin wil ek sê: “Vat daardie besigheid en draai dit op sy kop!” Gaan kyk dan hoe lyk die besigheid as dit op sy kop staan. Ek weet ek praat nou baie figuurlik, maar gaan kyk na ’n ding van ’n ander kant af en toets dit dan op ’n klein skaal.

Hoe kan mense met jou kontak maak?

Ons webwerf is www.porcelainbyantoinette.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.