Ma van drie se studeer-droom word waar met kompetisie

Artikel-9_Antoinette-Lotz-en-gesin-002.jpg

Antonette Lotz saam met haar gesin (foto verskaf)

Met drie woelige seuntjies, ’n propvol werksdag en nie genoeg geld om vir studies af te knyp nie, het Antoinette Lotz halfpad deur haar dertigs vrede daarmee probeer maak dat sy nie ʼn kwalifikasie sou verwerf nie. Totdat ʼn kompetisie haar van koers laat verander het.

Die dag toe die gogga gebyt het

Antoinette was op ʼn dag doenig in die kombuis met die radio wat haar geselskap hou, toe ʼn advertensie oor die Afrikaanse tersiêre instelling Akademia haar aandag getrek het. Die omroeper het gesê dat dit kompetisietyd is – enige luisteraar wat aanlyn aansoek doen om by Akademia te studeer en in 300 woorde kon beskryf hoekom hy of sy die beste kandidaat vir hierdie prys is, staan die kans om ʼn volledige beurs van die Virseker Trust vir ʼn kwalifikasie by Akademia te wen.

“Die gogga het gebyt en ek het besluit om die kans te waag. Ek het die aansoekvorm vir die BCom Bestuursrekeningkunde-graad ingevul, my motivering geskryf en baie hard gebid dat ek die gelukkige wenner sal wees. En daar wen ek toe sowaar! Dit was die begin van my wonderlike studie-reis; 17 jaar nadat ek skool voltooi het,” vertel sy.

In haar familie was daar nooit regtig die opsie gewees om te gaan swot nie. Haar ouers was net nooit finansieel in staat om vir naskoolse onderrig te betaal nie, hoewel sy gewens het sy kon studeer. “Die Virseker Trust het daardie wens vir my bewaarheid.”

Bo en behalwe haar studies waarmee sy in 2017 begin het, werk sy voltyds as boekhouer en is ook mamma vir Bennie, Schalk en Niki. Bennie is twaalf jaar oud en in ʼn skool vir kinders met spesiale behoeftes omdat hy aan epilepsie ly. Die agtjarige Schalk is meganies aangelê en werk graag saam met Pa Lodewyk aan die karre waarmee hulle oor naweke aan grondpadwedrenne deelneem. Klein Niki is drie en die gesin se dromer, lief vir stories. Haar verlamde broer woon ook by hulle en help haar by die huis wanneer haar tyd of energie op raak.

Doller as afkop, maar dolgelukkig

Antoinette se dag begin reeds vyfuur in die oggend. Dan maak sy pap en skooltoebroodjies. Sesuur begin sy die seuns wakker maak sodat hulle betyds kan eet, tande borsel en vir skool aantrek.

“Seweuur moet ek by die huis uit wees om my drie manne by hul afsonderlike skole af te laai en so kwart voor agt by my werk te stop. Ek werk tot eenuur en laai hulle dan weer een vir een op: eers Niki, dan Bennie, dan Schalk. Tuis eet ons gou iets en begin dan met huiswerk. Teen vyfuur sleep ek hulle almal deur die bad en halfses word aandete voorberei. Wanneer Lodewyk seweuur tuis kom, eet ons almal saam, en daarna is dit slaaptyd vir die seuns. Ek en Lodewyk kry dan kans om so ʼn uur of wat saam te ontspan, waarna ek dikwels nog ʼn paar privaat kliënte se werk afhandel. Eers dán kom ek by my studies uit.”

 Artikel-9_Antoinette-Lotz-voorbeeld-van-resieskar-002.jpg

Oor naweke is Antoinette gewoonlik langs die renbaan om haar manne in hul V8-enjins te ondersteun. (Foto verskaf)

Oor naweke is sy gewoonlik langs die renbaan om haar manne in hul V8-enjins te ondersteun. Hulle hou haar op haar tone, maar maak haar ook dolgelukkig.

Lodewyk, wat in die konstruksiebedryf werk, is haar regterhand en spring in waar en wanneer hy kan. Wanneer sy vir die eksamen of toetsreeks voorberei, dra hy net koffie aan en hou die kinders besig. “Die belangrikste is seker dat hy my buie trotseer en verstaan wanneer ek onder druk is. Oor naweke veral, as ek baie besig is, sal hy vir maaltye sorg en ʼn lekker warm bad wanneer hy sien dat ek het dit die nodigste.”

ʼn Ma se droom vir die toekoms

Antoinette hoop om ook nagraads te studeer en om uiteindelik deur die professionele liggaam vir geoktrooieerde bestuursrekenmeesters, CIMA, geakkrediteer te word sodat sy haar eie praktyk kan begin.

“Met die huidige stand van sake in Suid-Afrika het ek net besef dat ek nie vir my kinders kan gee wat ek graag sou wou as ek heeltyd vir iemand anders  werk nie en ook nie as ek nie die nodige kwalifikasies agter my naam het nie. As mamma wil jy graag vir hulle alles moontlik gee. Tog wou ek ook studeer in die taal waarvoor ek baie lief is, op my eie voorwaardes en naby my gesin. Dit het ek alles by Akademia gekry,” sê sy.

Akademia

Sy is baie gelukkig om by Akademia te studeer. “Die dosente is fantastiese mense. Hulle is altyd bereid om te help en daardie ekstra myl vir jou te loop as jy bereid is om jou deel te doen. Ek beskou hulle as vriende. Dis ook vir my wonderlik om in Afrikaans te studeer. Ek wil graag deur my studies vir my seuntjies ʼn voorbeeld wees van ʼn trots Afrikaanse mamma.”

Haar droom vir haar seuns is dat hulle gelukkige kinderjare moet hê. Wanneer hulle groot word, sien sy vir Schalk ook in die konstruksiebedryf met sy eie besigheid, net soos sy pa en oupa. Haar boekwurm Niki gaan dalk nog ʼn meestersgraad voltooi, in sy ma se geestesoog. “My droom vir Bennie is dat hy aanvaar sal word in vandag se samelewing en dat hy sy eie unieke stempel sal afdruk. Ek hoop dat hy mense se harte sal verower met sy eie sagte hart en ‘n voorbeeld sal wees met hoe naby hy aan God leef.”

Antoinette se raad aan ander mammas wat wonder of hulle dit moet waag om te studeer is eenvoudig: skryf in. “Begin leer en werk aan jou drome, want dan is dit makliker om jou kinders se drome te bewaarheid. Jy, mamma, verdien dit. Gun dit vir jouself.”

  • Maroela Media en die Virseker Trust werk saam om Afrikaanse onderwys en ander Afrikaanse inisiatiewe te ondersteun. Kry ʼn verpligtingvrye Virseker-kwotasie.
  • Virseker is ʼn produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy, ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer. B’s & V’s geld. (FDV-lisensienommer: 16354)

Wen ʼn bootreis!

Neem deel aan Maroela Media se kompetisie en staan ʼn kans om ʼn bootreis saam met Groot FM te wen. Bepalings en voorwaardes geld. Lees meer.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.