Ma vertel van ‘wonderwerk’ toe bakkie rol

Annelize en Maryke le Roux in 'n pizza-restaurant kort voor die ongeluk. Die kruis op Maryke se keel is hier sigbaar. Foto: Verskaf

Annelize en Maryke le Roux in ‘n pizza-restaurant kort voor die ongeluk. Die kruis op Maryke se keel is hier sigbaar. Foto: Verskaf

Verlede Saterdagaand het Maryke le Roux, ʼn vierjarige blondekopdogtertjie van Winburg in die Vrystaat, sommer speel-speel met ʼn rooi pen ʼn kruis op haar keel geteken. Ure later het die bakkie waarin sy en haar gesin gery het verskeie kere oor die N1 gerol en is sy uit die rollende voertuig geslinger – sonder ʼn enkele skrapie.

Annelize le Roux het aan Maroela Media vertel dat sy en haar man, Martin, op Saterdag 10 September saam met hul drie kinders, Maryke, Martenique (10) en Marchand (8), vanaf Bloemfontein na Winburg onderweg was toe die ongeluk gebeur het.

“ʼn Rukkie voor die ongeluk het ons by ʼn pizza-restaurant geëet en Maryke het êrens ʼn rooi pen in die hande gekry. Sy het oral met die pen gekrabbel, op haar gesig en haar arms. Terwyl ons in die badkamer was, het sy ʼn rooi kruis op haar keel geteken,” het Annelize vertel. “Ons het nog die aand foto’s in die restaurant geneem waar die rooi kruis op haar keel sigbaar is.”

Later was die gesin met hul bakkie op pad terug Winburg toe en het ʼn sleepwa met ʼn vrag pale daarop gesleep. Annelize het bestuur, aangesien Martin moeg geraak het. Hy het haar in ʼn stadium gemaan om nie te vinnig te ry nie. “In plaas daarvan dat ek net my voet van die petrol afgehaal het, het ek rem getrap om stadiger te ry. Ek dink dit is toe dat die sleepwa ons van agter af gedruk het,” het Annelize gesê. Sy het beheer oor die voertuig verloor en die bakkie het gerol.

Toe die bakkie oomblikke later op sy opgefrommelde dak tot stilstand kom, het Martinique en Marchand benoud geskree dat Maryke nie in die voertuig is nie. “Ons almal het ons veiligheidsgordels aangehad, maar het onderstebo in die bakkie gehang. Die dak was so erg ingedruk, dit het teen my kop vasgedruk en daar was glasstukke oral. Ek het geweet ek moet nou kalm bly en na my kind soek. Ek het my veiligheidsgordel losgemaak en by die bestuurskant se venster uitgeklim,” het Annelize vertel.

Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf

Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf

Sy het buite die voertuig na Maryke geroep, maar geen antwoord gekry nie. Juis toe het sy gesien hoe ʼn man oor die pad aangestap kom met Maryke in sy arms. Dit was ʼn motoris wat agter hulle gery het, gesien het hoe die ongeluk gebeur en stilgehou het. Ná die ongeluk het hy vir Maryke oor die pad sien loop nadat sy uit die bakkie geslinger is. Hy het haar uit die pad van die aankomende verkeer opgetel en teruggebring na haar gesin toe.

“Kort daarna het die ambulans daar gestop en die beamptes het gehelp om almal uit die wrak te kry. Nie een van ons het ʼn enkele skrapie gehad nie. Almal was ongedeerd,” het Annelize gesê. Sy vertel dat Martinique op die toneel in ʼn skoktoestand was en daarvan begin ruk het, maar paramedici het gehelp om haar weer rustig te kry.

“Marchand het dadelik begin huil oor die vissies wat ons vroeër die dag vir hom gekoop het en wat agter een van die sitplekke in die bakkie was toe die ongeluk gebeur het. Martin het in die wrak van die voertuig ingekruip om na die sakkie water met die vissies in te soek en selfs hulle het niks oorgekom nie! Die sakkie was nie eens gebars of beskadig nie en al die vissies het nog gelewe.”

Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf

Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf

Volgens Annelize weet sy dat dit slegs genade is dat sy en haar gesin nie in die ongeluk beseer is nie. “Die oomblik dat ons gerol het, was daar die grootste Goddelike vrede oor my. Ek het net geweet ons gaan oukei wees. God het ons kom voorberei met dié belofte van dié rooi kruis wat Maryke self op haar nekkie geteken het – sy belofte dat Hy by ons sal wees in ons dal van doodskaduwee.”

Die gesin is ná die ongeluk na ʼn hospitaal geneem waar dokters bevestig het dat almal ongedeerd was. “Ons kan net die Here dank vir sy groot genade en liefde oor ons,” het Annelize gesê.

Drie jaar gelede, toe sy weens komplikasies ná ʼn mediese prosedure by die dood omgedraai het, het sy ʼn belofte aan God gemaak dat sy iets groots vir Hom wou doen. Meer as ʼn jaar later het sy en ʼn groep vroue met ʼn projek begin om ʼn kruis langs die N1 in Winburg op te rig.

Marchand, Maryke en Martenique le Roux. Foto: Verskaf

Marchand, Maryke en Martenique le Roux. Foto: Verskaf

Die kruis, wat meer as 40 meter hoog sal wees, sal een van die tien grootste kruise in die wêreld wees, maar die grootste kruis ter wêreld wat gerekenariseerde LED-ligte in verskillende kleure deur middel van optiese vesel gaan gebruik. Die kruis sal dus verskillende kleure of slegs een kleur kan vertoon en vanaf die N1 sigbaar wees. By die voetstuk van die kruis sal ʼn kapel opgerig word wat 100 mense kan huisves.

Die planne vir die Centre Peace-kruis is al opgetrek, grond is reeds bekom waar dit opgerig sal word en daar is goedkeuring van die munisipaliteit, die Nasionale Padagentskap (Sanral) en die Burgerlugvaartowerheid gekry. Nou samel die groep geld in om die kruis te bou wat na raming R3 miljoen sal kos. Besoek die Facebook-blad, Liefde vir Jesus, vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Tollies ·

By God is niks ontmoontlik, Geloof rustigheid en vrede was met julle en beslis die Hand van bo
Dis n wonderlike berig

Karen van Zyl ·

“MaroelaMedia” hoekom is daar nie ‘n “amen” of ek hou van knoppie onder die kommentaar nie. Beter kon ek dit nie gestel het nie Tollies.

Foxi ·

God is alomteenwoordig……..prys die Here julle is ongedeerd!

Willie ·

Psalm 34:8 – Die Engel van die Here slaan Sy laer op rondom dié wat Hom dien en beskerm hulle.

Amanda ·

AMEN!!!! Ons GOD is Groot. Dankie Here vir U beskerming oor die gesin.

Pastoorc ·

Ps 91 Sy Engele bewaar julle dat julle nie eens n voet stamp. Lees Ps 91 elke oggend en aand

SNEL ·

God is groot, baie dankbaar dat julle veilig is.
Ek wil regtig nie negatief wees nie, miskien is ek onkundig, daarom vra ek, sodat ek ook die doel en rede kan verstaan. Wat is die doel met n 40m hoë kruis van R3 miljoen? Hoe help dit met die uitbreiding van God se Koninkryk of hoe bring dit siele nader aan die Here. Of is die kruis net n teken van; hierdie gebied/mense ken die Here of hoe? Die Here het niks gehad in die Bybel nie, nie n rusplek vir Sy kop, vir Hom was die belangrikste om mense tot bekering te bring. Kan die geld nie miskien beter spandeer word vir sending of om armes te help nie? Ek bly in n dorp met n kruis op n heuwel, vir die gelowiges het dit n diepe betekenis en Paasfees word daar diens gehou om die kruis, maar vir die ongelowiges is dit soos enige groot “sign” of advertensie…hulle voel vere daaroor en dit het nog nie een ongelowige tot bekering gebring nie, want hulle sien geen betekenis in n stuk hout wat geplant is nie, mens moet uitreik na hulle. Dis nie dat ek sê moet of moet dit nie doen nie, maar wat is die dryfkrag agter dit, want die kruis gaan net betekenis hê vir mense wat klaar glo en die wat verlore is, is belangriker as die wat klaar gered is.

Helizna ·

So het Judas ook gevra toe Maria haar superduur parfuum op Jesus se voete uitgegooi het…

SNEL ·

Helizna, ek glo nie ek het dit met n Judas gesindheid gevra nie. At least was Jesus daar in die vlees en ja, dan neem ek haar nie kwalik omdat sy Hom wou bederf nie, maar mense kan soms nie eers Jesus in Christene se lewens sien in vandag se lewe nie, hoe gaan n kruis help….dit is net n voordeel vir die wat reeds gered is. Jammer Peet, dat jy so deurgeloop het omdat jy ook net wou sê hoe jy voel en dink oor die storie. Lyk my mens moet eerder met die haat en terugkap van woorde van mense eerder berigte lees en dink wat jy wil, maar eerder jou siening vir jouself hou. Ek hoop net hulle bid en vra vir leiding voordat hulle die kruis plant en maak seker wat God wil hê.

Peet ·

Snel dit wil voorkom asof die mense wat die geld insamel wonderwerke, beskerming en goeie oeste vir die boere belowe in ruil vir ‘n donasietjie. Die kruis sal dus as ‘n talisman / gelukbringer opgerig word.

Donovan ·

Peet kruise by dorpe is nie die goue kalf nie, dit is n simbool vir die nie gelowiges dat daardie plek,dorp of omgewing se mense WARRIORS het vir die koningkryk van GOD… manne en vroue wat intree vir hulle gebied en wat dankbaar is vir GOD se genade… jou opmerking klink soos die van n ongelowige wat dissels saai tussen die kinders van GOD, en opmerkings soos die is totaal on gevraagd… Simbole soos die bewys my die karakter van die mens in n omgewing… Gaan kyk maar na dorpe waar daar nie Godsdienstige bedrywighede hoog is op hul agenda nie, hoe losbandig leef die mense van daardie dorp… kerke is leeg en die malls is vol op n Sondag… Dobbelhuise bars uit hul nate en die dorpe word arm… heug gee hulle oor aan losbandigheid en dwelms… Vanderbijlpark is een voorbeeld van so n dorp…

PierreB ·

Wanneer gaan mense begin on hulle kinders vas te strap in karre? Koop ‘n kar seat!

Sonnika ·

PierreB my sussie en haar familie was n paar jaar terug in n soortgelyke ongeluk. Al die kinders was vasgegordel toe hulle bakkie “gat-oor-kop” rol. Hulle 4 jarige seun het later vertel dat toe die motor rol het n groot man hom uitgehaal en langs die pad neergesit. Hy het gesien hoe die bakkie verder rol. Daar was gevalle waar n veiligheidsgordel n jong kind verwurg het of die nekkie gebreek het het en die kind is dood. My sussie se seuntjie kon ook dood gewees het omdat hy sy gordel gedra het. Sien eerder God se liefde vir sy kinders raak as om te oordeel

Victor ·

Sonnika

Wat is jou punt? Dat mens nie jou kinders moet ingordel nie en net op God vertrou?

Blom ·

Prys die Here dat sy nie erg beseer is nie. Wat as ‘n kar haar getref het toe sy oor die pad gestap het!? Kinders van daardie ouderdom MOET nog in ‘n karstoeltjie vasgegespe wees!! Booster seats vanaf 5 jaar oud, maar dan moet kids ook aan “vereistes” voldoen, langer as 1.5m, belt moet oor die skouer gaan en nie teen nek nie ens

Wilmarie ·

My GOD is so GROOT, so STERK en so MAGTIG! DAAR IS NIKS WAT MY GOD NIE KAN DOEN! Daar is net weereens n bewys daarvan!

Donovan ·

Op n Maandag so n opgewekte artikel te lees gee my sommer woema vir die week… Vader God werk op snaakse maniere en hoeveel te meer wil HY dit wat HY vir die dogtertjie gedoen het vir elkeen van ons doen…. Vertrou dat GOD sy hand op jou sal hou al die dae van jou lewe… My hard loop oor van vreugde…

Peet ·

Donovan ek is ‘n ware kind van God en stuur al die lelike goed wat jy my toesnou, en al jou kwaadwillige veralgemenings oor die kinders van God wat in plekke soos Vanderbijlpark en ander plekke in die land in geestelike oorlogvoering betrokke is, ek stuur al jou aanklagte en beskuldigings en aanvalle TERUG NA JOU TOE in die Naam van Jesus Christus.
‘n 3 miljoen rand kruis beteken niks as jy God nie het nie. Kyk eerder na die armes en hartgebrokenes. Dit is duidelik dat die kruis wat die kind wat die ongeluk oorleef het op haar keel geteken het, en die droogte wat die boere knel, uitgebuit word om geld in te samel. Ek stuur dit TERUG NA die opportuniste wat dit uitstuur in die Naam van Jesus Christus AMEN.

Maureen ·

Prys God. Ons dien n alomteenwoordige God. Wat weet n dogtertjie van 4 om n kruis so perfek te teken. Ek glo dit was n groter hand wat dit gedoen het. N beskermende engel dalk maar nietemin God het aan die kruis vir ons gesterf en daarom glo ek Sy kruis beskerm ons.

Victor ·

Die artikel sê die dogterjie het die kruis in die restourant reeds geteken

M ·

Hi Victor, ja dit is reg, en daarna was hulle oppad terug Winburg toe, dit was nog dieselfde aand soos ek verstaan.

Gerhard ·

Donovan, Vanderbijlpark is nie so erg as wat jy dit wil afmaak nie…gisteraand die wonderkikste diens deur Willie Joubert bygewoon in NG Sentraal Vanderbijlpark. In hierdie dorp van ons is nog baie dienende gelowiges…maar ek dink ons dwaal van die punt af dat n’ lewende GOD sy hand oor hierdie gesin gehou het.

Lynn ·

Baie van julle sê nou God is groot. Maar vra vir julle self af hoe moet mense wat kinders in ongelukke verloor het nou voel. Dat God op daardie oomblik nie groot was nie.

Pollie ·

Peet, jou kommentaar strook nie met Bybelvoorskrifte nie. Jy stuur lelike goed terug! Die Bybel se: seen die wat jou vloek en bid vir die wat jou beledig en vervolg. Die evangelie van Jesus lyk anders as joune van vergelding. Nog ‘n ding; ek weet nie hoe bring jy opportunisme en geldlus by hierdie vrou se begeerte om die kruis sentraal te laat staan in die mooi evangelie van Jesus se reddende genade nie-die kruis was en sal altyd ‘n simbool van hoop en redding wees vir soekende siele! Nee sies man, bekeer jou eerder behoorlik voor jy weer sulke aaklige goed kwytraak en soekende siele in die proses kwets. Dis duidelik dat ‘n goeie en genadige Hemelse Vader Sy hand oor hierdie familie gehou het-al die ere aan Hom.

Moulder ·

Dankie Jesus vir U Bloed en U Engele wat U minders beskerm het!

Peet ·

Pollie jy is seker een van die geldinsamelaars vir die 3 mijoen rand kruis. Jesus het ‘n sweep van toutjies gevleg. . .

Sue ·

My gebed is dat Christene wat by daardie kruis stop en die kerkie wat langsaan staan besoek geseënd sal wees en dat afvalliges wat uit nuuskierigheid daar stop tot bekering sal kom. Halfpad op ‘n berg in Luzerne, Switserland, het ek eendag op’ n uitstappie onverwags op ‘n klein kerkie afgekom – op’ n epos was 1 Kor. 13 geskryf. Dit het my getref dat ek klinkende metaal geword het want ek het die liefde nie gehad nie. Besoek aan daardie ou, ou kerkie in die Luzerne het lewe my tot vandag toe verander.

Sure ·

Jammer oor die gremlins wat ingesluip het. My tablet verander so vinnig woorde.
Op ‘n rots was 1 Kor 13 geskrywe en die lees en impak daarvan het my lewe verander. Mag ander ook so geraak word deur hierdie kruis en kerkie.

Hannelie ·

God is GROOT !!! Ek loof en prys die Here. Dankie Vader dat u almal gespaar het, selfs die vissies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.