Ma wil ander ouers help ná babas sterf

Dié herinneringsboksie met spesiale aandenkings word aan ouers gegee wie se babas in die neonatale waakeenheid of gewone kraameenheid gesterf het, of stilgebore is. (Foto: Verskaf)

ʼn Ma van Kaapstad wat twee van haar kinders aan die dood afgestaan het, het besluit om dié reuseverlies te omskep in ʼn projek wat ander ouers wat deur dieselfde seer gaan te ondersteun.

Die Triple Heartbeat-projek is ʼn “hartsprojek” wat Jean-Mari van Vuuren einde verlede jaar begin het om die nagedagtenis van haar dogtertjies, Julia en Lily, te eer. Lily is op 31 Oktober 2016 oorlede toe sy net 36 uur oud was. Julia was 62 dae oud toe sy in Januarie 2017 ook gesterf het.

Julia en Lily se drielingsussie, Lara, het vir maande om haar lewe in die hospitaal geveg, maar is vandag ʼn borrelende, gesonde twee en half jaar oue dogtertjie.

Tog is die herinnering en verlange aan Julia en Lily nooit ver van Jean-Mari se gedagtes nie en het sy besluit om dié emosies in tasbare vorm vas te vang.

“Na die traumatiese verlies van my dogtertjies, het ek besef watter gebrek daar is aan ondersteuning vir ouers wat treur. Deur die Triple Heartbeat-projek wil ek hierdie ouers bystaan deur vir hulle ʼn herinneringsboksie met spesiale aandenkings te gee wat hulle kan huis toe neem nadat hul babatjie engelvlerke gekry het,” verduidelik sy.

Sy sê die boksies word spesifiek aan ouers gegee wie se babas in die neonatale waakeenheid of gewone kraameenheid gesterf het, of stilgebore is.

Die Triple Heartbeat-projek het begin om die nagedagtenis te eer van Julia en Lily wat kort na geboorte gesterf het. (Foto: Verskaf)

Op elke boksie wat aan ouers gegee word, is die woorde gegraveer: “’n Engel het in die boek van die lewe ons baba se geboorte neergeskryf en terwyl sy die boek toegemaak het, het sy gefluister: ‘Te kosbaar vir die wêreld’.”

Binne-in is onder meer ʼn bemoedigende gedig aan die ouers, ʼn sertifikaat om die geboorte en lewe van die babatjie te eer, die hand- en voetafdruk van die kleinding wat gesterf het, “herinneringsaadjies” wat deur die ouers geplant kan word, ʼn spesiale armbandjie vir die mamma en kontakbesonderhede van rou- en verliesberaders.

Volgens Jean-Mari word die boksies tans privaat deur haar versprei wanneer sy te hore kom van ouers wat ʼn baba verloor het of wanneer iemand haar kontak en direk van die boksies by haar koop om vir iemand te gee wat hulle ken. Haar hoop is egter om uiteindelik genoeg geld in te samel of langtermynborge te bekom om die boksies in soveel as moontlik neonatale eenhede in private en staatshospitale te versprei.

“Ek wil graag hê die boksies moet reeds by die hospitale wees sodat dit onmiddellik vir ouers gegee kan word wanneer hulle babatjie sterf. Die aandenkings in die boksie gee waardigheid en respek aan die baba wat dood is én die gebroke ouers. Dit is ʼn bevestiging – jou kind hét bestaan, hulle was hier en hulle was joune. Daarom moet hul lewens op tasbare wyse onthou word.”

Tesame met die Triple Heartbeat-projek het Jean-Mari ook die Octo-projek begin. Deur dié projek word klein seekatjies deur vrywilligers gehekel wat dan landswyd versprei word om in vroeggebore babas se broeikaste te sit. “Die seekatjies hou groot voordele vir vroeggebore babas in,” verduidelik sy.

Die gehekelde seekatjies wat in vroeggebore babas se broeikaste geplaas word. (Foto: Verskaf)

“Die konsep kom oorspronklik uit Europa en navorsing het die voordele van hierdie gehekelde seekatjies bewys. Daar is bevind vroeggebore babas wat hierdie seekatjies in hul broeikaste het, se hartkloppies is beter gereguleer, hul asemhaling is meer stabiel en daar is hoër suurstofvlakke in hul bloed.

“Daar word ook vermoed dat die tentakels van die seekatjies die babatjies herinner aan die naelstring in die baarmoeder en hulle kan daaraan vashou. Hulle is dan ook minder geneig om hul monitors en pypies uit te trek.”

Jean-Mari sê hoewel die projek nog in sy kinderskoene is, het talle hospitale alreeds hul entoesiasme oor die projek uitgespreek en is sy tans in gesprek met ʼn private hospitaalgroep om dié projek landswyd by hul hospitale te implementeer.

“Ek wil ander ouers ondersteun deur hierdie projek en vir hulle wys daar is ʼn helpende hand en ʼn oor om te luister daar buite. Maar ek wil ook deur die projek Julia en Lily se lewens eer en hul nalatenskap lewendig hou om sodoende aan hulle hulde te bring,” sê sy.

“Soms gebeur die lewe en jy het geen ander keuse as om dit dag vir dag te hanteer nie. Jy verwerk nooit die dood van ʼn kind nie. Maar jy onthou hulle elke liewe dag. Hulle wás hier.”

Besoek Triple Heartbeat se Facebook-blad vir meer inligting of om tot dié projek by te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ina

Jean-Mari – Ek volg Lara se FB blad al van die begin af – en hierdie is n briljante idee !! Ek glo dat jy n sukses hiervan sal maak, jy het baie navorsing gedoen en die feit dat jy ander wil help is n baie mooi idee van jou af, alhoewel jy nog steeds jou eie seer het . Ek glo dat die gebaar jou seer so klein klein bietjie sagter en ligter sal maak. Baie sterkte.

Tannie

En so laat die Here iets goeds uit die seerste seer voortspruit…

LIEZL

Sjoe, dis nou fantasties. Gister toe tel ek my hekelpen op en hekel net so ‘n seekatjie, maar sommer uit my kop, dieselfde kleur ook as wat in die hand is. Ek het dit vir my kat gegee om mee te speel. Ons het ook babatjie verloor lank terug en die seer lê maar nogsteeds in ons harte. Dit voel nou vir my dit is bevestiging vir jou werk, Sterkte

Meraai

Ek lees hierdie storie met ‘n groot hartseer. En weet ook dat God engele op aarde plaas in die vorm van doodgewone mense om hierdie unieke liefdesdade te openbaar.
Dit is so nodig – in ons gebroke wereld.
Dankie!

DS

Wat ‘n wonderlike idee. Dit sal verseker die begin punt wees van baie ouers se rouproses na hulle lee hande moet huis toe gaan. Doen so voort Jean-Mari en mag die Liewe Heer jou seen omdat jy deur jou seer ander help.