Maak 2017 jou JA-jaar

2017 is ons gesin se JAjaar (“Yes-year”)! Dis losweg geïnspireer deur die 2008-komedie Yes Man met Jim Carrey in die hoofrol. Jim se karakter, Carl, is vasgevang in ʼn groeiende negatiwiteit. ʼn Oudkollega nooi hom na ʼn “Yes-seminar” waar die inspirerende ghoeroe hom voor almal dwing om vir elke geleentheid, versoek en uitnodiging “Ja!” te sê.

Hy ontdek dan hoe een woordjie hom op soveel nuwe lewensveranderende avonture lei wat hy nooit voorheen sou beleef het nie! Maar ja, hy ontdek ook dat die uitdaging dalk net as ʼn kickstart bedoel was en nie sy gesonde verstand of vermoë om op die regte tyd nee te sê wegvat nie …

Ek hoor gereeld mense wat sê: “Ek wil vanjaar leer NEE sê sodat ek vir die regte dinge kan JA”, maar ek hoor selde: “Ek wil hierdie jaar leer JA sê sodat die nodige NEE elke keer eintlik net spontaan sal volg.”

Ja-nee of nee-ja – is dit nie maar dieselfde ding nie? Nee, dit is nie!

As ek ʼn voorneme of doelwit met ʼn NEE begin – “mag nie, sal nie, kan nie, wil nie, moenie” – is my gedagtes van die begin af op die NEGATIEWE gefokus – dit wat ek nie wil hê nie of nie wil wees nie. Byvoorbeeld: “Jy mag nie sjokoladekoek eet nie. Moenie eens aan daardie ongeskikte stuk kilojoulebom met die lae koek en karamel en sjokoladesous wat tot in jou bord drup, dink nie!” Goeie griet! Dis al waaraan ek kan dink! Ek wil nie dan blare eet wat na niks proe nie. Ek soek daai stuk verbode vetmaakplesier.

NEE, NEE, NEE help niks as daar nie ʼn JA is om voor te lewe nie! Soos ʼn JA vir volgehoue energie en ʼn brein wat optimaal funksioneer wat indirek NEE vir suiker beteken. Ek voel die trekkrag van ʼn JAmotivering is baie sterker as die stootkrag van ʼn NEEdryf.

Die skoolhoof van Hoërskool Zwartkop, dr. Dewald Strydom, maak ʼn interessante opmerking. Hy sê die matrieks wat teen Maart of April weet wat hulle wil doen ná skool, studeer eintlik baie makliker vir die eindeksamen, want daar is ʼn trekkrag vorentoe. Hulle is gretig om klaar te maak met skool en werk hard sodat daardie droom kan aanbreek.

Ek wil nie heeldag loop en dink aan alles wat ek nie moet doen nie … Ek wil JA sê met my lewe! JA sê vir die Here! JA sê vir sy plan en roeping en rede vir my lewe!  Ek wil my alles vir Hom gee sodat daar niks van my oorbly vir die NEENEE-NEE-dinge nie.

Wat is die “JA!” wat jou die nuwe jaar gaan intrek? Maak 2017 ʼn JAjaar en leef elke dag ʼn JAlewe!

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.