Maak huis skoon vir ʼn goeie doel

Deur Phillip Bruwer

Anton en Lizel Smith in Solidariteit Helpende Hand se ‘Ons Winkel’ in Centurion. Foto: Verskaf

Talle mense gebruik die nuwe jaar as geleentheid om met ʼn “skoon bladsy” weg te spring deur kaste skoon te maak en van items wat nie meer gebruik word nie ontslae te raak.

Dit mag dalk vir sommige na ʼn onbegonne taak klink – veral as jy lanklaas ordentlik skoongemaak het – maar met Solidariteit Helpende Hand se landswye skenkingswinkels is dié takie soveel makliker as wat ʼn mens dink.

Enigiets kan by dié skenkingswinkels, nou genaamd Ons Winkels, afgegee word – van ʼn stukkende grassnyer tot klere wat nie meer pas nie. Oortollige linne, ʼn waaier of verwarmer wat ongebruik in die hoek staan en net ʼn spinnekop gelukkig maak, die bank of bed in die stoorkamer wat nou stof opgaar en die oefenfiets wat jy in 2001 laas in die soeke na jou somerlyf aangewend het – dit alles kan in ʼn japtrap verwyder word om die nuwe jaar met skoon huis te begin en terselfdertyd behoeftige gesinne te help.

Helpende Hand het tans altesaam 32 Ons Winkels, wat voorheen net as algemene skenkingswinkels bekendgestaan het. Met ’n heenkome vir alles wat in die pad staan, maak dié winkels dit vir ʼn mens maklik om alles wat oorbodig is uit die pad uit te kry.

Foto: Verskaf

En wat gebeur met die tweedehandse ware wat geskenk word? Dit word alles vir ʼn goeie doel terug in die gemeenskap ingeploeg.

Anton Smith, die bestuurder van Helpende Hand se Centurion-tak in Gauteng, het onlangs, met die hulp van sy vrou, Lizel, die leisels oorgeneem van die gewilde Helpende Hand-skenkingswinkel in Bothalaan in Lyttelton Manor, wat nou onder die vaandel van Ons Winkel handel dryf.

Sedert die Smith-egpaar die leisels oorgeneem het, het hierdie Ons Winkel een van die suksesvolste skenkingswinkels in die land geword.

“Die geheim is om die winkel skoon en goed georganiseerd te hou en ook om vir die gemeenskap te wys waarheen hul skenkings gaan. Ons speel oop kaarte. As iemand ʼn spesiale versoek het vir ʼn spesiale skenking, dan doen ons moeite om aan die versoek te voldoen,” sê Lizel, wat voltyds die Ons Winkel in Centurion bestuur.

“Onlangs het ʼn seuntjie saam met sy ouers ingekom om sy fiets aan ʼn hulpbehoewende kind te skenk. Ons het vir die fiets ʼn geskikte kandidaat gevind en foto’s geneem die dag toe ons die fiets by die ontvanger gaan aflewer het. Die kind was uit die veld geslaan en kon nie die skenker genoeg bedank nie. Die skenker se ma vertel haar seun se hart het daardeur oopgegaan en hy soek nou rond en bont na enigiets wat hy kan insamel om vir behoeftige Afrikaners te skenk,” sê Lizel.

Anton vertel ʼn vrou het vier maande gelede ʼn woonwa geskenk wat sy weens persoonlike redes nie meer kon gebruik nie. Die egpaar het die woonwa aan ʼn plek toegeken, wat deur Helpende Hand se prosedures goedgekeur is, en die woonwa huisves nou ʼn gesin van ses mense.

Dit is maar net twee van vele suksesverhale oor hoe oorbodige items, met die hulp van die gemeenskap, ʼn reuseverskil in ander mense se lewens gemaak het.

Die opbrengste van die skenkingswinkel het ook gehelp om Eugene McArthur (36), ʼn gerehabiliteerde dwelmverslaafde wat deur Moeggesukkel terug op die regte pad gebring is, te help om ʼn beradingskursus te voltooi om ander mense in die toekoms te help. Die Ons Winkel in Centurion borg ook Moeggesukkel se rugbyspan wat goed presteer.

“Die landswye Ons Winkels skep nie net werk vir die persoon wat die winkel bestuur nie, maar ook vir personeel in die winkel. Die winkel in Centurion skep byvoorbeeld werk vir 14 mense van die omgewing. Uit die opbrengste van die verkope wat uit die skenkings gemaak word, stel ons onder meer studiefondse beskikbaar vir studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie die nodige fondse het om dit te doen nie. Vele maatskaplike kwessies kry ook met winste of geskenkte voorraad aandag,” sê Johan Nel, Helpende Hand se operasionele hoof.

Solidariteit Helpende Hand se ‘Ons Winkel’ in Centurion. Foto: Verskaf

Die landswye Ons Winkels aanvaar skenkings van onder meer klere, meubels, oudhede, kombuisware, klere, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene, sporttoerusting en tegnologiese ware, wat spotgoedkoop herverkoop word. As daar ʼn behoefte of die nodige hulpbronne is, kan van die winkels se bestuurders reël dat ʼn vrag skenkings by ʼn perseel opgelaai word.

“Amper alles waaraan jy kan dink is hier, van gewilde klere-handelsmerke tot bordspeletjies. Ons verkoop nie stukkende klere nie – alles is van goeie gehalte, maar verkoop soos soetkoek. Ons kry letterlik daagliks besoeke van skattejagters wat oudhede hier kom koop. Selfs ʼn joernalis was onlangs hier en het egte Wehrmacht-stewels vir R700 gekoop. Dié spesifieke maak verkoop gewoonlik vir R5 000 in kommersiële winkels,” voeg Anton by.

Vir ’n volledige lys van Ons Winkels skakel 012 644 4390 of besoek www.helpendehand.co.za/takke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.