Maak iemand se Kerswens waar met Helpende Hand

Die span van Helpende Hand met die 30 Kerswense-veldtog. Foto: Verskaf

Die span van Helpende Hand met die 30 Kerswense-veldtog. Foto: Verskaf

Kerstyd is ’n gulde geleentheid om familie of vriende met geskenke te trakteer vir dít wat hulle in jou lewe beteken. Dit is egter nie altyd so eenvoudig nie: Dikwels knyp finansies en is die familie ver.

Helpende Hand gaan vanjaar weer sy deel bydra om Kerswense te bewaarheid met sy 30 Kerswense-veldtog wat op 13 November van stapel gestuur is en tot en met 15 Desember duur.

Die proses is eenvoudig: Indien jy weet van iemand wat behoeftig is, kan jy die persoon of organisasie benoem op Helpende Hand se Facebook-blad onder die “Kerswense”-skakel. Dié organisasie gaan in die loop van 30 dae geskenke ter waarde van R30 000 aan behoeftige mense oorhandig.

Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, sê dit is vir die organisasie ’n baie spesiale geleentheid. “Dit is Helpende Hand se kans om terug te gee. Ons het die hele jaar mense gehelp wat in nood verkeer. Nou kry ons die geleentheid om mense se drome te bewaarheid.”

Helpende Hand se Facebook-blad kan dopgehou word vir daaglikse Kersgeskenke ter waarde van R1 000. Die persoon of organisasie aan wie die geskenk oorhandig word, sal ook daagliks op die Facebook-blad bekendgemaak word.

Anders as in vorige jare gaan die veldtog vanjaar ook Kerswense waar maak vir ʼn bykomende vier mense van Helpende Hand se Facebook-streekblaaie, dié van KwaZulu-Natal, Vrystaat, Mpumalanga en Gauteng. Dié persone sal weekliks aangekondig word en ontvang ook ʼn geskenk ter waarde van R1 000. Die benoemings werk op dieselfde wyse op die streekblaaie van die organisasie.

Indien jy iemand ken wat behoeftig is, soos mense wat nie kos in die huis het nie of selfs ’n kind wat skoolklere benodig vir die opkomende skooljaar, kan jy hom, haar of die organisasie benoem op die webwerf of op Facebook. Vir meer inligting kan die kantoor ook geskakel word by 012 644 4390.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.