’n Ouma kan sien wat niemand anders sien nie want sy sien met haar hart en nie haar oë nie. Haar liefde is onbeskryflik, haar drukkies warm en sag soos haar lyf en haar woorde altyd opbouend met ʼn asem wat ruik na pepermente.
Wat het jy nodig?
250 g versiersuiker
40 ml room
10 ml pepermentgeursel
groen koskleursel
waspapier
Wat om te doen?
- Sif die versiersuiker in ʼn bak en roer die room en geursel by.
- Meng die mengsel goed.
- Knie die mengsel tot glad en tot dit soos deeg voel (voeg nog ʼn bietjie room by indien die mengsel te droog is).
- Verdeel nou die mengsel in twee. Kleur die een deel met groen koskleursel en hou die ander deel wit.
- Meng die twee kleure liggies en rol die deeg in klein bolletjies – ongeveer 60 (probeer vinnig werk aangesien die mengsel gou begin uitdroog). Laat die bolletjies oornag op waspapier staan om uit te droog en hard te word.
- Verpak die pepermente in ʼn mooi glasbottel of papierboksie en versier met ʼn lint en ʼn persoonlike kaartjie. (Ons het ʼn ou koffiebottel gebruik en versier.)
Wenk:
Hierdie pepermente word nie kliphard nie, maar behou ʼn sagte “smelt-in-die-mond”‑tekstuur. Ideaal vir iemand wat nie harde lekkers wil kou nie.