Maak ʼn bejaarde se dag met ʼn lekkerny, briefie

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Weens die Covid-19-pandemie en die meegaande inperkingsmaatreëls het talle kwesbare bejaardes vir maande aaneen in ouetehuise vereensaam omdat besoeke deur familie en vriende beperk word.

Om bejaardes weer deel van die samelewing te laat voel, het Ons Tuis, ʼn niewinsgewende organisasie wat fokus op die welstand van bejaardes in Suid-Afrika, onlangs die Neem ʼn grootouer aan-veldtog van stapel gestuur.

Dié inisiatief moedig ondersteuners aan om by die emosionele welstand van ʼn spesifieke, afgesonderde bejaarde betrokke te raak. Daar is meer as 300 bejaardes in wie se lewe daar ʼn verskil gemaak kan word deur vir enigeen van hulle ʼn bederfpakkie te stuur, ʼn briefie te skryf of telefonies of via WhatsApp met hulle kontak te maak.

Daleen Gouws, woordvoerder van Ons Tuis, sê die emosionele uitwerking van die Covid-19-pandemie veroorsaak dat talle bejaardes wat voorheen selfversorgend was, weens afsondering en alleenheid agteruitgegaan het en nou versorging benodig.

“Menslike interaksie is een van die belangrikste boustene vir algemene welstand en geestesgesondheid. Babas wat gereelde aanraking ontvang, groei nie net 47% vinniger nie, maar hul senuweestelsel is beter ontwikkel en hulle floreer. Hierdie behoefte verdwyn ook nie namate jy ouer raak nie.”

Volgens Gouws plaas trauma rakende die vrees om die virus op te doen en die verlies aan persoonlike kontak geweldige druk op personeel van die instansies.

“Afgesien van die personeel se persoonlike en basiese dag-tot-dag-behoeftes, moet daar ook in die emosionele welstand van hulle inwoners belê word.

“Jou lewe asook dié van ʼn bejaarde kan verryk word as jy ʼn grootouer aanneem. Hulle kosbare herinneringe ontsluit ʼn era van stories vertel, bobaas-baksters, absurde modegiere, vervoermiddele en ontdekkings wat, net soos hulle, nie vergeet behoort te word nie. Die proses om die sonskyn weer terug te plaas in só iemand se lewe is so moeiteloos.”

Daar is verskeie maniere waarop ʼn lid van die publiek by ʼn grootouer betrokke kan raak:

  • Maak kontak: Betrek hulle by jou lewe deur middel van geskrewe briewe, e-posse, telefoonoproepe of teksboodskappe. Leer mekaar beter ken deur ʼn paar gunstelingfoto’s met jou aangenome grootouer te deel en nooi hulle uit om dieselfde te doen. Gebruik teksboodskappe om stories te vertel en te leer hoe hulle lewe was voordat jy hulle ontmoet het – storievertelling is ideaal om die geheue te versterk en bring goeie herinneringe terug.
  • Dra finansieel by: Ondersteun ouetehuise, dienssentrums of bejaardesorgsentrums finansieel. Die ondersteuning kan hulle help om meer mense in diens te neem om sosiale kontak vir inwoners te bevorder.
  • Stuur ʼn gepaste bederfpakkie: Wys jou aangenome grootouer jy gee om met ʼn gepaste geskenk.

Om die inwoners van Ons Tuis te alle tye te beskerm, sal alle aansoeke op die webblad eers aan ʼn keuringsproses onderwerp word. Aansoeke moet volledig voltooi word en alle nodige dokumente moet ook aangeheg word.

Vir al die veldtogbesonderhede, besoek Ons Tuis se webwerf by: https://onstuis-otmt.org.za/grootouer/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae