Solidariteit Helpende Hand se tak op Orania wil die land ʼn bietjie nostalgies laat voel met ʼn splinternuwe kompetisie.
Hulle daag alle naaldwerksters uit om ’n spoglappop aanmekaar te sit, want vir die mooiste lappop is daar ’n vakansie op die spel.
Volgens Magdaleen Kleynhans, takvoorsitter in Orania, is lappoppe deel van baie mense se kindertyd en bring dit ’n gevoel van heimwee en vertroosting vir almal wat die poppe vashou. “Daarom wil die Helpende Hand-tak op Orania soveel lappoppe moontlik insamel en terselfdertyd naaldwerksters die geleentheid bied om hulle vaardighede ten toon te stel.”
Daar is twee kategorieë in die kompetisie: outydse lappop en hedendaagse lappop, elk met spesifieke reëls wat sal verseker dat jou lappop ’n meesterstuk is. Ingeskrewe lappoppe word die eiendom van Helpende Hand Orania wat dit sal verkoop vir geldinsameling.
“Geld sal gebruik word vir die versorging van kinders in veilige bewaring en om aan hulle die geleentheid te bied om deel te wees van ʼn koesterende gesin. Sommige lappoppe mag deur Helpende Hand Orania as geskenke aan kinders uitgedeel word.”
Volgens Kleynhans is Orania se fokus in 2018 op gesonde gesinne. “Vir ons beteken dit gesinne waar élke lid ʼn veilige plekkie het en élke lid kan groei en blom! ʼn Lappop kan vir ʼn kind vertel hoe waardevol sy of hy is,” sê Kleynhans.
“Help ons om die boodskap van koesterende gesinne oor die hele Suid-Afrika heen uit te dra deur ʼn lappop in te skryf en dalk ʼn opwindende prys te wen!”
Die kompetisie sluit 15 September 2018, so spring dadelik weg met jou lappop. Die eerste prys is ’n week vakansie op Orania propvol ekstra verrassings vir ’n gesin van ses. Die tweede prys is ’n naweek vir twee op Orania propvol ekstra verrassings.
Vir meer inligting bel Magdaleen of Esme by 053 207 0108 of besoek www.helpendehand.co.za/lappop.
As hulle maar die sentement van gesonde, veilige gesinne gedeel het terwyl klein Poppie nog daar gebly het…