Maak ’n verskil: Geniet ’n fees van liggies en musiek

Jakaranda-kinderhuis-4.jpg

Foto: Jakaranda Kinderhuis Liggiefees Facebook

Desember is ’n maand van vrygewigheid, samesyn en bederf. Families kom saam en almal ontspan ná die rowwe jaar wat verby is. Vir kinderhuiskinders, wat na ’n liefdevolle normale gesin van hulle eie verlang, bly die lewe egter altyd ’n uitdaging …

Jy en jou geliefdes kan egter dié feestyd help om vir die 210 inwoners van Jakaranda Kinderhuis in Pretoria ’n beter 2019 te verseker én nog boonop pret hê ook, veral as Jan Tuisbly se karretjie julle voorland is en jy ’n aksieplan nodig het om jou kroos te vermaak.

Van 1 tot 31 Desember kan Gautengse gesinne, vir die negende agtereenvolgende jaar, ’n toweragtige skouspel van die mooiste Kersfeesliggies en Suid-Afrikaanse musiek kom ervaar, ten bate van dié geliefde kinderhuis wat baie afhanklik is van borgskappe en geldinsamelingsprojekte, soos die Jakaranda Kinderhuis Liggiefees, vir sy voortbestaan.

Jakaranda-kinderhuis-6.jpg

Foto: Jakaranda Kinderhuis Liggiefees

“2018 se doelwit is om weereens ’n onvergeetlike feesuitstappie vir mense te bied. Ons het almal se ondersteuning nodig sodat ons vir ons kinders kan omgee en hulle versorg en ontwikkel omdat hulle beter verdien,” sê Gary van Veenhuyzen van Jakaranda Kinderhuis se bemarkings-en-geldinsamelingspan. “Dié projek voorsien nie net die nodige geld nie, maar stel die kinderhuis bloot aan mense wat nie noodwendig van ons geweet het nie.”

Feesgangers by die Jakaranda Kinderhuis Liggiefees kan daarna uitsien om op uitgesoekte aande vermaak te word deur musikante soos Dewald Wasserfall, EON, Saarkie, Joshua na die Reën, Tussen Sterre, Heuning, 2nd Life, Ampie, Martin Bester en vele meer.

“Die Jakaranda Kinderhuis Liggiefees het ’n spesiale plek in ons Saarkies se harte omdat dit ’n glimlag op kinders se gesigte plaas en die kinderhuis ondersteun. Kinders is die land se toekoms en ons moet mooi na hulle kyk,” meen die meisiesrockgroep, Saarkie, vir wie dié inisiatief baie na aan die hart lê.

 Jakaranda-kinderhuis-7-2.jpg

Foto: Jakaranda Kinderhuis Liggiefees

“Elke kindergesiggie is ’n liggie in God se skepping en baie kosbaar vir Hom. Daarom lê elke kind, ongeag sy of haar omstandighede, my hart se kamers vol … As God dan tiekiedraai oor sy kinders, is dit genoeg rede vir my om vir hulle te sing! In die seisoen van gee, vra ek dat elkeen sy of haar hart sal oopmaak en saam met ons kom tiekiedraai en sing by vanjaar se Jakaranda Kinderhuis Liggiefees,” voeg Sharoney by, wat twee dae by die fees te sien sal wees.

Afgesien van die musiek, sal daar ook elke aand die geleentheid wees om miljoene Kersfeesliggies te bewonder, asook verskeie kos- en Kersmarkstalletjies te ondersteun. Kinders kan ook gereed maak vir opwindende treinritte en ’n draai of twee op die mallemeule of perdjies.

Die Jakaranda Kinderhuis Liggiefees, wat met trots ondersteun word deur Pretoria FM, Coastal Hire, dW Audio & Backline, Ehlers Prokureurs, Status Hiring, ESD Waste Management, Unlimited Events Group en LaserX, kan daagliks van 18:00 tot 22:00 besoek word. Op konsertdae sal hekke reeds om 17:00 open. Kaartjies sal by die hek beskikbaar wees teen R30 per persoon.

Oudergewoonte sal die fees plaasvind op die Kinderhuisterrein, Talitha Kumistraat 1, East Lynne, Pretoria. Die publiek kan vertonings deur die volgende kunstenaars op die datums hieronder bywoon:

  • 1 Desember: Eunice Kemp, 2nd Life, Layla Skye, Heuning, Joe Foster, Xander Joubert
  • 2 Desember: Monique Steyn, Anton Botha, Sharoney, Saarkie, Gevoel van Veiligheid, Michelle Marx
  • 7 Desember: Con Grazia, Alida, Jennifer Zamudio, Martin Bester, Irene-Louise van Wyk, Devon Jay Scott
  • 8 Desember: Erin Beck, Zanzi Africa, Geraldine Scholtz, Layla Skye, Zita, Hanco
  • 9 Desember: Joshua na die Reën, EON, 2nd Life, Ampie, Kirsten Schlebush, Kosie Beukes
  • 12 Desember: Jakkie Louw, Marulaboom, Heidi, CH2, Bianca Goosen, Hanna Boss
  • 14 Desember: Eunice Kemp, Henry van Dyk, Elme Churr, Riaan Grobler, Ricky Faber, Die Ventertjies plus ’n Laser X-vertoning!
  • 15 Desember: Lieflinge, Harlind, Sharoney, Klikkerland, Irene-Louise van Wyk, RNK plus ’n Laser X-vertoning!
  • 21 Desember: Mariska, Talana, Stephan Visagie, Dewald Wasserfall, Eunice Kemp, Rudi Claase
  • 24 Desember: Karlien Husselman, Venetia Rose, Biance Goosen, Tussen Sterre, Eunice Kemp

“Dit is so belangrik om terug te gee as jy in ’n bevoorregte posisie is. As ’n mens geseënd is in die lewe, is dit jou verantwoordelikheid om ander mense te help,” sê sanger en liedjieskrywer Dewald Wasserfall. “Mense kan uitsien na uitstekende vermaak en dit is vir ’n goeie doel.”

Maak hierdie feestyd jou hart oop en kom ondersteun dié ongelooflike projek saam met jou familie en vriende. Die kinders en personeel by Jakaranda Kinderhuis sien uit daarna om julle te ontvang en saam met jou te deel in die betowering van Kersfees.

RAAK BETROKKE!

Indien jy of jou onderneming ’n amptelike borg wil word of ’n skenking wil maak vir die Jakaranda Kinderhuis Liggiefees, maak gerus regstreeks kontak met Gary van Veenhuyzen by [email protected] of 073 844 9994 vir meer inligting. Jy kan hulle ook besoek op Facebook of hul webwerf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.