Maak ʼn verskil net daar waar jy is

Argieffoto (Foto: Hans, Pixabay)

Vir almal wat al gesê het: “Ek weet nie hoe of waar om ʼn verskil te maak nie”, gee ek hierdie aanmoediging vandag: “Jy hoef nie eens uit jou pad uit te gaan nie! Wie is dalk reeds op jou pad?”

Ek draf in ons woonbuurt vir al my eie selfsugtige redes en skielik sien ek so op my pad, op my gewone roete, talle klein geleenthede om ʼn verskil te maak.

  1. Ek groet! Almal wat verbystap – die kinders op pad skool toe, die taxi-bestuurder, huiswerkers, rommelversamelaars. Ek mag dalk die enigste vriendelike gesig wees wat hulle vandag sien. Ek weet nie vir wie hulle werk of watter omstandighede hulle inwag by hulle bestemming nie, maar ek het ʼn kans om hulle dag en hulle mening oor mense te beïnvloed. Soms chirp hulle my terug met ʼn “looking good, mam” en dan lag ek met my bloedrooi gesig, “thank you, thank you!”.
  2. Ek het besef ek kan maar voortaan met ʼn plastieksakkie hol en help papiere optel langs die pad. En al onderbreek dit my reeds moeilike drafritme, is die off beat-afbuk sommer ʼn ekstra bonus vir my boud- en bobeenspiere!
  3. Dan draf ek vir “King Lion” raak. (Dis rêrig sy naam!) Hy bly in die spruit en versamel elke dag rommel waarvoor hy so tussen R100 en R120 per dag verdien. (Kos hom twee uur se stap om dit by die afsetpunt uit te kry!) Ek gesels so ʼn bietjie met hom en leer hoe ek hom kan help as ek my plastiek en glas en dik karton net so ʼn bietjie skei van die ander rommel en vir hom apart sit. Dalk kan ek selfs vir hom ʼn kospakkie opmaak en boonop lekker koue water vir die ver stap.
  4. En dan draf ek om my kinders se skool en ek bid! Ek kyk af na my voete en hoop ek stamp die goeie saad op daai grondgebied sommer nog dieper in die grond in. So verby die uithoekies van die rugbyveld bid ek vir die “hoekie-kinders” wat voel of hulle moet wegkruip of vergete is, in die parkeerterrein bid ek vir al die te-dun-gesmeerde-mammas wat gewoonlik daar staan en afpak en as ek die kinders hoor lag in die klasse, bid ek dat dit by die huis ook so sal klink.

Dis “toevallighede” wat sommer so oor my pad kom! As jy egter “aspris” uit jou pad uit ook kan gaan en vir iemand sy las ʼn verdere kilometer dra, doen dit, maar my vermoede is: Selfs op jou gewone pad vandag sal daar hordes uitnodigings en geleenthede wees om ʼn verskil te maak, hetsy deur te groet, te gesels of deur jou gebed.

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Theuns ·

Hi Lindie, jy is pragtig en jy laat my aan Eugene Marias se woorde dink “Beautiful in body and mind”. Die skrywe van jou beklemtoon sy woorde. Ons geniet ook jou program “Geloof, Hoop En Liefde”! Groete.

lilani le roux ·

Dis maandag oggend, die hittegolf se hitte lek taai aan my lyf, ek sit op die trap buite my tydelike werk, in my gedagtes maal 2016 se hartseer binne my, ek sien die dame ietwat hastig aangestap kom, ek draai my lyf sodat ek plek kan maak vir haar om verby te kom, sy groet my vriendelik, haar glimlag raak haar oe, net ‘n gewone mamma, ‘n gewone vrou wat haar dvd’s kom terug gee, sy is haastig, maar sy groet weer toe sy verby kom. Heeldag dink ek aan daardie vrou wat my opreg gegroet het….. Dankie Lindie dat jy my gegroet het asof ek spesiaal is.

Ben ·

Dit is goed om gereeld herinner te word aan die opdragte van die Here. Die lewe is so vol van moord, doodslag, verkragting, armoede, bedrog en talle meer wat ‘n skeiding ons opdrag so bietjie op die agtergrond plaas. Ons moet tyd maak vir die klein dingetjies op ons pad. Baie dankie Lindie. ‘n Mens kan sommer sien dat Jesus in jou leef!

Babbelbek ·

Dankie Lindie vir die pragtige woorde vanoggend dat ek net rond om my kan begin en ‘n verskil kan maak!! Jy is ‘n pragtige vrou van buite en binne!

neelsie ·

Kosbare woorde vir hierdie stukkende wereld.
Leef ander mense raak op ons daaglikse lewenspad.

CommentQueen ·

Net wat ek nodig gehad het om weer te bevestig! Ons moenie wag dat mense ons moet dien/bedien nie…dit het tyd geword dat ons uitgaan en ander bedien – en soms selfs DIE wat dit nie verdien nie…
Don’t treat people as bad as they are
Treat them as good as you are….

Maureen ·

Dit is soos ek ook soms voel…Dankie Lindie. Ek werk by `n skool met jolige kinderlaggies, hardloop ook opgewonde met hul sertifikate in hul hande na hul ouers ..spog met hul prestasies by die prysuitdeling. Caring is Sharing is my leuse. By ons ouers leer ek ontsettend baie, selfs die leerders…. en as daar trane in `n ouma of mamma se oë brand van swaarkry, dan vat ek hul hande, neem in my kantoor en bid ons saam!

johann brits ·

Ek is 70 en kan meer draf nie,ek stap 5-7km elke oggend,groet ook al wat leef.Niemand se vir my ‘looking good’ (ek is an old man)maar ek probeer ook ‘n verskil maak deur almal vriendelik te groet.Dit bring vir my baie vreugde en maak my dag !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.