Maatskaplike hulp is nie net vir die feestyd nie

Henda van der Merwe van CMR Gauteng-Oos (Foto verskaf)

Maatskaplike probleme is van die vroegste tye af met ons. Maar in die verlede is diegene wat hulp benodig, soos ouerlose kinders of ouer persone, gewoon in die struktuur van die groter gemeenskap opgeneem, meestal deur familielede. Verstedeliking het hierdie tendens onomkeerbaar verander. Met mense wat na die stede toe stroom, het hierdie gemeenskapstrukture verbrokkel en veral in sekere kultuurgroepe is daar min oor van mense wat mekaar help deur hulle in die bestaande familiestrukture te integreer.

Gesien teen hierdie agtergrond, het maatskaplike werkers se rol nie net verbreed nie, maar hul taak het soveel te meer onontbeerlik geword veral waar kinders ter sprake is. Dit is waar dat baie op regsvlak gedoen is om kinders se regte (en veiligheid) te verseker. Maar, ʼn wet is bloot ʼn konsep, wat slegs betekenis kry wanneer dit uitgevoer word.

Die maatskaplike werker staan in die middel van die gemeenskap, die wet en diegene wat hulle moet help. In vandag se realiteit word baie groot eise aan hulle gestel. Hulle moet die wet deur en deur ken en seker maak dat hul in hul optrede dit korrek toepas, en terselfdertyd ʼn deernisvolle diens lewer aan diegene wat hulle help; en dan word daar ook nog van hulle verwag om gemeenskapsprojekte van stapel te stuur en te bedryf.

ʼn Mens kan tereg die vraag vra: Hoeveel ure is daar in ʼn maatskaplike werker se dag? En die antwoord gee: Nie genoeg nie!

“Die grootste uitdaging is om die steeds groeiende behoefte aan maatskaplike dienste aan te spreek, met ʼn kwynende finansiële basis – kindermishandeling en verwaarlosing, weeskinders, familiegeweld, middelafhanklikheid en -misbruik, werkloosheid en armoede – en dit is maar net die oortjies van die seekoei. Ons visie is om in staat te wees om omvattende maatskaplike dienste in al die gemeenskappe waar ons teenwoordig is, te lewer, om sodoende mense te bemagtig op sosiale, emosionele en ekonomiese vlak. Dit is en bly ʼn uitdaging,” verduidelik direkteur van CMR Gauteng-Oos, Henda van der Merwe.

CMR Gauteng-Oos lewer dienste vanuit hul 13 kantore in ʼn area wat strek van Cullinan en Bronkhorstspruit in die noorde van Pretoria tot by Ivory en Ebony Park (Midrand) in die suide. Hul dienste raak jaarliks omtrent 25 000 mense aan, van hulpbehoewendes tot by pleegsorg en aanneming. Van der Merwe verduidelik dat kinders hul fokus is, maar altyd binne die gesinsraamwerk, waar moontlik. Selfs waar kinders verwyder word en in pleegsorg geplaas word, word daar gepoog om die biologiese ouers deel van die kind se lewe te maak, en waar moontlik, die kind aan die ouer terug te gee.

“Vroeë ingryping is hoog op ons prioriteitslysie. Hoe gouer ons in ʼn probleemsituasie kan betrokke raak, hoe beter is die langtermynuitkomste, veral in gevalle van kindermishandeling. Ons sal dit eerder wil voorkom as om agterna op te tree. Familiegeweld is een van die sosiale probleme wat jaarliks toeneem. Dit is, saam met kinderverwaarlosing en -mishandeling, ons sleutelintervensies.

Besoek gerus die webwerf by www.cmroos.co.za

Wil jy graag CMR Gauteng-Oos se dienste ondersteun? Jy kan ʼn finansiële bydrae lewer:
Rekeninghouer: CMR GAUTENG-OOS
Bank: Absa
Tak: Lynnwood
Takkode: 333-845
Tipe rekening: Tjek
Rekeningnommer: 405 963 5688

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.