Maatskappy kom outistiese seun vindingryk tegemoet

Foto: Marc Carter/Twitter

Ben Carter (14) het ʼn erge graad van outisme. Foto: Marc Carter/Twitter

Tommee Tippee, ʼn maatskappy wat babaprodukte produseer, het miljoene mense se harte aangeraak toe hy ʼn gesin in Engeland in ʼn tyd van nood gehelp het.

Ben Carter (14) het ʼn erge graad van outisme. Sedert sy dae as kleuter drink hy uit ʼn spesifieke blou Tommee Tippee-bekertjie en toe dié beker nie meer op die rakke beskikbaar is nie, het Ben se pa, Marc, bekommerd begin raak.

“Hierdie bekertjies word nie meer gemaak nie en Ben wil uit niks anders drink nie, nie eens die nuwe, duursame bekertjies nie. Ons is bekommerd oor die dag wanneer sy bekertjie breek,” het Marc op Twitter gesê.

Dié desperate pa het hom tot sosiale media gewend toe Ben by twee geleenthede in die hospitaal opgeneem is weens dehidrasie omdat hy weier om uit ander bekertjies te drink.

“Miskien het jy een, êrens in jou kas iewers?” het Marc saam met ʼn foto van die bekertjie op Twitter gevra.

Duisende mense van regoor die wêreld het reageer en verskeie blou bekertjies aangebied.

“Die bekertjie moet amper identies wees, anders weier Ben om daaruit te drink,” het Marc verder verduidelik.

Daar was soveel reaksie op Twitter dat dit die aandag van Tommee Tippee getrek het. Tommee Tippee het sy takke in die VSA, Australië, Frankryk en Hongkong opdrag gegee om na die oorspronklike vorm van die bekertjie te soek. Dit is opgespoor en die maatskappy het besluit om 500 van die bekertjies vir Ben te maak.

“Ons wil seker maak Ben het ʼn leeftyd se voorraad sodat sy gesin nooit weer ʼn bekertjie hoef op te spoor nie,” het die maatskappy in ʼn persverklaring gesê.

Ben se pa het ʼn video geplaas om almal te bedank vir julle moeite en ondersteuning.

“Julle is ongelooflik – ons het meer bekertjies as wat ons kon droom.”

Lees die volledige berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

A ·

Dankie, dis lekker om te sien daar is nog goed in hierdie wêreld.

Koos1 ·

Dat so ‘n groot maatskappy wat wêreldwyd takke het, hulle oor een kind ontferm is vir my wonderlik. Hulle kon net gesê het dat dit nie hulle probleem is nie, maar nee, hulle neem aksie!!! Wonderlik Tommee Tippee!
Baie maatskappye in SA kan kom leer by hulle, maar ek moet ook sê daar is maatskappye in SA wat dit ook sal doen!

Herman Toerien ·

Ek het groot begrip vir die ouers. Ons jongste (nou 23) is ook outisties. Met die ouderdom het baie van die geite verdwyn soos sy begrip toegenem het. Maar een dag vrees ek – wanneer sy videomasjien die gees gee. Hy het ‘n arsenaal video’s, wat hy nog gereeld kyk, en nuwe goed oor opneem. Hy is juis op geleende tyd. Die huidige videomasjien is deur ‘n grootoom geskenk na dit reggemaak is. Omdat die seun se eie videomasjien nog gewerk het, het hy die geskenkte een sorgvudig gebêre tot die die oue gebreek het. Nou gebruik hy die geskenkte een al lank. Ons het ‘n voorsmakie gehad van wat gebeur. By geleentheid kry ons die kans om vir ‘n paar dae Onrus toe te gaan. Toe sy videomasjien moet agterby wou hy tuisbly. Ons verseker hom daar by die see sal my broer-hulle wel een hê. Maar boet-hulle s’n is almal stukkend. En toe ons ‘n heel een opspoor is dit onversoenbaar met die TV tot ons beskikking. ‘n Paar dae later kry ons geskuif na ‘n deel waar ‘n TV is wat wel met die viomasjien kan skakel, en toe kry ons eers rus vir ons siele. Visuele kommunikasie weeg by hom baie swaarder as klank.

vonnie ·

ek weet presies hoe jy voel. my seun is 10jr oud en die geite soos jy dit noem is ontelbaar.

maar ons leef met dit saam en sal daardeur kom! sterkte vir julle ook! bly dat iemand darem die outjie in die skrywe kon help. ander ouers met kinders wat nie op die spektrum is nie sal nooit verstaan waardeur ons gaan nie!

Anton ·

Herman ons het ‘n Akai video masjien wat baie min gebruik was. As Maroela Media bereid is om my epos adres aan jou te gee kan ons kontak maak en reelings tref om die masjien by julle te kry. Let wel dit is ‘n video masjien en nie ‘n dvd speler nie.

Herman Toerien ·

Baie dankei Anton. Ek sal met Maroela opneem. Ons woon in Bloemffontein – as julle ver is moet ons dalk die saak daar laat – die seun weet wat die situasie is, en net dalk aanvaar hy dit sonder te veel trauma.
Intussen vind ons uit.
Groete
Herman

Sune van Heerden ·

Dagsê Anton

Die e-posadres wat jy gebruik het om mee kommentaar te lewer, is ongelukkig nie reg nie – die e-pos kom bloot terug. Kan jy ons dalk asseblief kontak by [email protected]? Dan kan ek jou en Herman dadelik in verbinding bring met mekaar.
Dankie!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Anton ·

Dagse Herman, ons woon in Roodepoort en daar kom redelik gereeld geleenthede na Bloemfontein.
Ek sal met Sunet skakel en so met jou in verbinding tree.
Groete
Anton

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.