Machine gun Preacher steeds besig met werk in Afrika


Machine-gun-preacher

Foto: Facebook

Die rolprent, Machine gun preacher, wat reeds in 2011 uitgereik is, het mense se harte so aangeraak omdat dit gegrond is op ʼn ware verhaal en wys dat mense werklik kan verander.

Die rolprent handel oor die boek, Another Man’s War, wat deur Sam Childers geskryf is. Sam is ʼn voormalige motorfietsbende-lid van Amerika wat sy lewe handomkeer verander het om kinders in Suid-Soedan te help. Sam het alkohol- en dwelmverslawing oorkom en is reeds ongeveer 20 jaar besig met sendingwerk in Afrika.

Hy het die afgelope maand sy storie kom deel by verskeie geleenthede in Suid-Afrika. Maroela Media het met Sam gesels oor sy sendingwerk en wat hom motiveer om aan te hou.

Sam sê dit gaan goed met hul kinderhuis in Suid-Soedan. Dié plek van veiligheid huisves ongeveer 170 kinders. Hoewel daar net een kinderhuis in dié land is, is daar ook vyf ander kinderhuise in Oos-Afrika wat Sam bedryf.

Hy vertel hulle is lekker besig, maar sê nog baie werk is nodig. “In Afrika het mens altyd uitdagings, maar dit gaan baie goed. Ons het ses weeskind-projekte, waarvan vyf mooi aan die gang is. Ons het die afgelope paar jaar reeds vyf skole gebou en verskeie watergate in Oos-Afrika geboor.”

Sam woon tans in Uganda omdat hy ook ʼn onderneming daar bedryf, maar hy besoek die ander kinderhuise gereeld. Sy vrou, Lynn en dogter, Paige, woon in Amerika en Sam sê dit is iets wat mens aanvaar. ”Ek is nou al amper 20 jaar in Afrika en as mens vir so lan besig is met iets, raak jy gewoond daaraan.”

Volgens Sam is daar steeds hewige konflik in Suid-Soedan en al die probleme word deur Omar al-Basjir, die huidige president, veroorsaak. “Hy is die man wat al die rebelle finansier wat verantwoordelik is vir al die konflik.”

Sam se familie en vriende vra gereeld waarom hy nie net oppak en teruggaan VSA toe nie, maar Sam sê terwyl dit maklik sal wees om terug te gaan, motiveer die kinders van Suid-Soedan hom om te bly en sy werk te voltooi. “As jy na daardie kinders kyk, sal jy nie vra hoekom ek vir so lank daar bly nie.”

Luister gerus na die podsending om te hoor wat Sam sê oor tweede kanse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.