Madeliefie Makietie-fees ʼn opskop met baie kunstenaars

Madeliefie Makietie. Foto: Verskaf

Madeliefie Makietie. Foto: Verskaf

Vanjaar se Madeliefie Makietie op Vredendal in die Wes-Kaap gaan ʼn opskopfees wees met lekker vermaak, kosstalletjies en verskeie Afrikaanse kunstenaars, soos Karen Zoid, Theuns Jordaan en Adam.

Madeliefie Makietie is ʼn voltydse leefstylprojek om die jeug van die streek te ondersteun deur ʼn gedeelte van die inkomste te gebruik vir geriewe by skole.

Vanjaar se Madeliefie Makietie-fees word van 29 September tot 2 Oktober op Vredendal gehou. Benewens die groot buitelug-verhoog, pretpark en stalletjies, kan feesgangers uitsien na ʼn kontreikos-deli met die streek se beste wyne in die Pars-en-proe lokaal.

Die fees het ook vanjaar ʼn volledige landbou-uitstalling, waarby verskeie prominente mense in die landboubedryf betrokke gaan wees.

Cindy Schade, skakelbeampte vir die fees, sê feesgangers moet vinnig spring om verblyf op Vredendal te bespreek. “Verblyf in die streek is nogal beperk. Maak seker jy kry plek deur vroegtydig te bespreek. Vredendal bied ʼn wye verskeidenheid hotelle, gastehuise en kampeerterreine.

Sy sê dit is belangrik om ʼn bydrae te lewer tot die samelewing en die skole in die omgewing. “Tydens die fees is dit vir ons ook belangrik om waarde vir ʼn veilige en gesinsvriendelike atmosfeer te skep. Ons is baie bly dat ons dit juis verlede jaar met sukses kon regkry.”

Feesgangers kan weer uitsien na die Mej. Madeliefie Makietie, waar Snotkop die seremoniemeester gaan wees. Groot pryse is op die spel.

Ander kunstenaars sluit in Liza Brönner, Ricus Nel, Hendrik Spangenberg, Dr. Victor & The Rasta Rebels, Wynand en Chereé, Elvis se Seun en Wicus van der Merwe.

Kaartjies kos tussen R60 en R120 en is beskikbaar by Computicket. Inskrywings vir die Mej. Madeliefie-kompetisie, asook om betrokke te raak by die landbou-ekspo, is beskikbaar op die webwerf. Besoek ook hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.