Mama Afrika: ‘Doen iets vir ander’

Mama Afrika

Prof Elain Vlok. Foto: Facebook

Sommige mense raak ander lewens so ingrypend dat hulle ons leer om nie so gefokus op onsself te wees nie, maar ook ander se belange op die hart te dra. Prof. Elain Vlok is só ʼn soort mens.

Prof. Vlok is die bestuurder van korporatiewe dienste by Clover en staan aan hoof van die Clover Mama Afrika-projek, ʼn inisiatief wat reeds oor die 8 000 mense bemagtig het, en wat net aanhou groei. Om te sê hierdie projek is suksesvol, doen dit nie gestand nie. Clover Mama Afrika is die oudste projek onder die vaandel van maatskaplike verantwoordelikheid in Suid-Afrika, asook die een wat al die meeste toekennings ontvang het.

Clover Mama Afrika bemagtig reeds 42 vroue wat as leiers van hul gemeenskap dien deur hulle ʼn verskeidenheid vaardighede aan te leer sodat hulle nie net selfonderhoudend is nie, maar ook dié vaardighede aan ander kan oordra. Dit behels onder meer kook, bak, eenvoudige geldbestuur, haarkappery, blommerangskikking, naaldwerk, noodhulp en nog vele ander. “As hulle bereid is om bemagtig te word, gee ek hulle die vaardighede, die opleiding en die benodigdhede om selfonderhoudend te raak.”

Prof. Vlok werk reeds 15 jaar aan dié projek. Mense se dankbaarheid teenoor haar is haar grootste geskenk. “As jy kan sien hoe hierdie vroue oor die jare verander het, en hoe hul lewe aangeraak is … dit is iets ongeloofliks.”

Maar sy sê haar eie lewe is ook verryk en daardeur geraak. “Ek sou baie armer gewees het as ek nie Mama Afrika in my lewe gehad het nie. Ek sou nooit kon dink dat ek oor iets beskik om ander mense se lewe te verbeter nie. Sonder die Here se genade sou ek ook nooit kon gedoen het wat ek doen nie, want Hy maak dit absoluut moontlik.”

Vir ʼn vrou wat soveel vermag het, is sy baie beskeie, want dié prof het ʼn lys van grade wat net te lank is om op te noem, en die lys van toekennings wat sy al ontvang het, is nóg langer. Haar hande staan vir niks verkeerd nie en sy wag nie vir dinge om te gebeur nie.

Prof. Vlok kom met vyf uur slaap oor die weg en is reeds teen 05:15 in haar kantoor. “Ek is nie die soort wat gaan sit en koerant lees, of Solitaire op die rekenaar speel nie – ek begin onmiddellik werk. Ek werk hard, want ek hou daarvan. My werk is my trots en daarom is ek baie gemotiveerd.”

Dis ongelooflik om te hoor hoe sy die lewe aanpak, maar dis veral haar gees wat ʼn mens se hart raak. Dié vrou is nie net ʼn doener nie, haar hart is ook oop vir die mense om haar. “Ek kom uit ʼn gee-huis uit, my ouers het my van kleintyd af geleer om vir ander mense te gee.” Hoewel haar hand oop is, het sy nie tyd vir mense wat “bakhand staan” nie, maar sy help graag mense wat bereid is om te werk en wat hulself wil help. “Ek werk nie met stoepsitters nie.”

Prof. Vlok is ʼn voorbeeld van watter invloed een persoon kan hê as hy of sy net die wil het. Sy meen dat elkeen ʼn verskil in iemand se lewe kan maak, en dat jy net om jou moet kyk om te sien waar die nood is. “Begin net iewers, dóén net iets.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.