Man draf meer as 1 000 km op trapmeul vir siekte

Morné Basson (Foto: Facebook)

ʼn Johannesburgse man het sedert einde September al meer as 1 200 km op ʼn trapmeul gedraf as deel van sy veldtog om bewusmaking van motorneuronsiekte te bewerkstellig.

Morné Basson het Donderdag aan Maroela Media vertel hy het al 29 marathons as deel van dié veldtog op ʼn trapmeul in verskeie Gautengse winkelsentrums voltooi.

Basson was verlede jaar ook in die media toe hy op ʼn passasierskip in Alaska die Comrades-marathon op ʼn trapmeul voltooi het op dieselfde tyd as wat dié marathon in Durban gehou is.

Basson sê motorneuronsiekte-bewusmaking is ʼn veldtog wat hom na aan die hart lê aangesien een van sy familielede aan dié siekte gely en gesterf het.

“Een van my familielede is 15 jaar gelede dood as gevolg van dié siekte. Fiksheid en gesondheid is iets wat my nog altyd na aan die hart gelê het, maar 15 jaar gelede het ek besef dat ek daadwerklik my lewe daaraan wil wy om bewusmaking te bewerkstellig. Daar is soveel mense wat aan die siekte ly wat ons hulp kort – en ook soveel mense wat dalk eendag daaraan gaan ly wat verdien om ingelig te wees daaroor,” vertel hy.

Hy vertel hy het intussen sy besigheid in ʼn niewinsgewende organisasie omskep wat hom nou ook vir bewusmaking van dié siekte beywer.

“Ons het baie korttermynplanne wat onder meer insluit om MNS-lyers van dag tot dag te help of by te staan. Dit sluit goed in soos byvoorbeeld om vir hulle die toerusting te kry wat hulle help met kommunikasie, die verkryging van spesiale beddens en so meer.”

Morné en sy vrou, Wilma (Foto: Facebook)

Basson wil binne die volgende paar jaar ʼn huis vir die versorging van MNS-lyers oopmaak. “Dít is ons langtermynplan. Die regering help nie en mediese fondse gee min tot geen dekking vir hierdie siekte. Ons wil mense bystaan en help deur die swaarste tye. Ons kan dalk nie hulle lewe red nie, maar ons kan hulle las verlig en ons kan die gehalte van hulle lewe verbeter.”

Dié kranige drawwer het maar net meer as 80 km oor om te draf om die veldtog te voltooi. Sy laaste marathon vind Saterdag by die Carnival-winkelsentrum aan die Oos-Rand plaas.

Basson het reeds sowat R30 000 ingesamel, maar beoog om teen Saterdag R100 000 vir die bewusmakingsveldtog in te vorder.

“Ek is elke dag sowat vyf ure op die trapmeul. Die mense kom kyk nuuskierig na my met lang gesigte en dan besef ek net elke keer weer van voor af: Soveel MNS-lyers wens om net weer een keer in die winkelsentrum te kan loop of net om een keer nie meer in ʼn rolstoel gekluister te wees nie. Dit is vir dié mense wat ek dit doen; hulle is my inspirasie.”

Vir meer inligting oor die veldtog, besoek Basson se Facebook-blad. Vir skenkings, besoek ook die MBI Health-webwerf.

https://www.facebook.com/MNDTreadmillRun/videos/520251525004276/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anton ·

Baie goed gedoen Morne. Jy is ‘n yster net soos jou pa (my Wiskunde onderwyser op Stilfontein Hoërskool)

Carol ·

Baie mooii gebaar. My moeder is self 24 jaar trug oorlede aan die siekte. Wens ons as gesin was meer ingelig oor die siekte. Ek het baie simpatie met hierdie mense en hulle families.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.