Man en muis staan saam vir Loslitdag 2020

2020 se Loslitdag-tema “Sy aan sy vir gelykheid”, met “Twinning is Winning” as die slagspreuk én ‘n oproep tot aksie. (Foto: Verskaf)

Deur Linette Retief

Die datum van Loslitdag, Suid-Afrika se gunstelinggeldinsamelings- en bewusmakingsveldtog vir persone met gestremdhede, het vanjaar verskuif vanaf die tradisionele 3 September na 3 Desember.

Die rede hiervoor, sê Therina Wentzel du-Toit, nasionale direkteur van die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede (NRPG), is die impak van die Covid-19 en die gepaardgaande inperking.

“Om die aanslag van die Koronavirus-pandemie te versag en ter ondersteuning van die Internasionale Dag vir Persone met Gestremdhede, wat op dieselfde dag plaasvind, kan ondersteuners uitsien na ‘n Loslitdag wat so ‘n bietjie anders gaan wees, maar met hernieude fokus en nog meer trefkrag,” verduidelik sy.

Terwyl hierdie doelstellings nog altyd deel van die NRPG se missie was, is die huidige nood by uitstek groot en nypend.

“Persone met gestremdhede is die swaarste deur die verlammende ekonomiese en gesondheidsgevolge van die koronaviruspandemie getref,” verduidelik Wentzel-Du Toit. “Ons sien hoe nieregeringsorganisasies landwyd sukkel om hul deure oop te hou om die kwesbaarstes in die samelewing te ondersteun.”

Dit, en die NRPG se besef van die dringendheid en omvang van die behoefte, was die momentum agter die organisasie se versigtige, dog vinnige en innoverende beplanning van vanjaar se Loslitdag.

Wentzel-Du Toit wys daarop dat niks wat die NRPG op hul eie doen so waardevol kan wees soos die dinge wat deur spanwerk en sinergie vermag word nie.

“Juis daarom is ons so opgewonde om aan te kondig dat ons vanjaar met Disney South Africa se Mickey and Friends: Stay True 2020-veldtog saamspan,” sê sy. Die doel van die vennootskap is om die NRPG se roeping te versterk om verdere geleenthede te bied, volhoubare verandering te bewerkstellig en die volle insluiting van persone met gestremdhede te bevorder.

Ter viering van die Stay True-tema deel geliefde Disney-karakters Mickey, Minnie, Daisy, Donald, Goofy en Pluto hierdie somer hul stories oor vriendskap by die voorste kleinhandelaars landwyd, asook by organisasies en skole vir mense met gestremdhede, staatsdepartemente en ook by geloofsorganisasies soos kerke.

“Ons is baie opgewonde om ons ondersteuning aan Loslitdag 2020 te verleen. Mickey en sy vriende beliggaam die kenmerke van ware vriendskap en sy aan sy langs mekaar te staan,” sê Luke Roberts, hoofbestuurder vir verbruikersprodukte, speletjies en publikasies van The Walt Disney Company Africa.

“Ons is ook opgewonde daaroor om landwyd saam met ons kleinhandelvennote te werk om hierdie waardige saak te beklemtoon en te ondersteun.

Loslitdag is groot pret maar dit maak ook ‘n reuse-verskil vir persone met gestremdhede. (Foto: Verskaf)

Prettige pasmaats

2020 se Loslitdag-tema “Sy aan sy vir gelykheid”, met “Twinning is Winning” as die slagspreuk én die oproep tot aksie.

Om deel te neem, word belangstellendes genooi om as gesinne, saam met hul beste vriende, kollegas of vennote of die mense wat deur dik en dun by hulle staan, prettige pasmaatuitrustings te dra… En natuurlik om hul Loslitdagfoto’s en -video’s via die Loslitdag sosialemediakanale met behulp van die hutstekens #CasualDay #MickeyStayTrue #SidebySide te deel.  Bowenal, herinner Wentzel-Du Toit, moet mense nie vergeet om hul Loslitdag-plakkers te koop nie.

“Terwyl ons die dinge vier wat ons bymekaar bring, selfs met sosiale afstand wat nog geld, moedig ons alle Suid-Afrikaners aan, groot en klein, om op Donderdag 3 Desember saam met ons “sy aan sy vir gelykheid” te staan vir Loslitdag, Donderdag 3 Desember,” is Wentzel-Du Toit se uitnodiging en slotsom.

Kom wys jou ware kleure: Van piekfyn plakkers tot uithaleruitrustings

Tot 3 Desember, vir ‘n skenking van R20, kan ondersteuners hul spesiale Mickey Muis-geïnspireerde Loslitdag-plakkers op die volgende maniere kry by:

  • deelnemende kleinhandelaars; of
  • plaaslike NRO-organisasies, skole en deelnemende maatskappye.

En dis net die begin!

Ondersteuners kan, afgesien van digitale plakkers, ook gholfhemde, laphoede, pette en maskers aanlyn bestel by: www.casualday.co.za, e-pos: [email protected] of telefoonnommer 011 609 7006.

Syfers wat saakmaak:

  • 15% van Suid-Afrikaners is persone met gestremdhede;
  • R334,5 miljoen is oor die afgelope 25 jaar ingesamel;
  • Meer as 500 NRO’s en skole vir kinders met spesiale behoeftes trek direk voordeel uit die geld wat deur Loslitdag ingesamel word; en
  • 350 Skole, 1 600 maatskappye, 650 regeringsdepartemente en 100 000’e Suid-Afrikaners neem deel en is deel van die inisiatief se jaarlikse sukses.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.