Man gaan Comrades hardloop ná fratsongeluk byna lewe eis

Danie en sy vrou Lizl.

ʼn Fratsongeluk drie jaar gelede het byna die 35-jarige Danie de Wet se lewe geëis. Nou wil hy die Comrades-marathon voltooi en dit opdra aan die mense wat hom deur sy beproewing gehelp het.

De Wet is op 10 Januarie 2015 deur ʼn 1,8 m lange koevoet van sy lies tot sy linkerskouerblad deurboor. Hy is egter dié week besig met die finale voorbereidings vir die Comrades-marathon later volgende maand.

De Wet, ʼn ingenieurstoesighouer en reddingswerker by die Sibanye-goudmyn buite Carletonville in Gauteng, was met verlof toe hy op die spesifieke dag gevra is om by die myn te help. Wat veronderstel was om ʼn doodgewone werkdag te wees, het sy lewe “totaal verander” – maar nét ten beste, maan hy.

‘n X-straal wat wys hoe die koevoet Danie deurboor het.

Die ingenieurstoesighouer is in 2015 ná 19 dae in die Milpark-hospitaal in Johannesburg ontslaan nadat slegs ʼn klein gedeelte van sy maag, dikderm en linkernier verwyder is.

Nou is hy gereed om die strafste plaaslike marathon aan te pak – dit alles nét om te wys presies wat “gebede en genade” kan doen. “Drie jaar gelede het my vrou en kollegas nog vir my oorlewing gebid, en toe ek 19 dae later uit die hospitaal stap, het ons dit as ʼn wonderwerk van God beskou.

“Dat ek nou gekwalifiseer het om die Comrades-marathon aan te pak is regtig merkwaardig en ek is nog elke liewe dag dankbaar vir die vordering wat ek gemaak het.”

De Wet sê hy gaan sy deelname aan dié marathon opdra aan sy vrou en die reddingswerkers, paramedici, brandbestryders en Netcare911-span wat betrokke was die dag toe hy na die hospitaal gehaas is, asook daarna by sy genesingsproses.

Hy sê hoewel hy voorbereid voel, besef hy watter uitdaging die Comrades gaan wees. “Voor die fratsongeluk in 2015 het ek die Comrades-marathon ses keer voltooi. Ná die ongeluk het ek gedink ek sou nooit weer so ʼn marathon kon aanpak nie, maar hier is ek nou.

Danie het die koevoet aan die trauma-chirurg wat sy lewe gered het, oorhandig. Foto: Facebook

“Ek dink die moeilikste deel van die Comrades is wanneer jy besef jou tyd raak min om die marathon te voltooi, maar jou bene is reeds so lam dat dit moeilik is om die krag te kry om die tyd op te maak wat jy reeds verloor het.”

Sy vrou se ondersteuning het hom drie jaar gelede deur die beproewing gedra, en juis dít gaan hom ook dié keer help om van die Comrades ʼn sukses te maak. “Ek is baie bevoorreg om soveel ondersteuning te hê. Daar is soveel mense wat my deur die moeilike tye gedra het. En buiten die mense na aan my, sal ek nooit vergeet wat die Netcare-span en prof. Kenneth Boffard [die chirurg] vir my gedoen het nie.”

Die Comrades-marathon vind plaas op 10 Junie. Drawwers sal vanjaar wegspring in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal. De Wet sal die marathon saam met die Carleton Harriers-drafklub voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Comrades ·

Bly dit het alles so goed (onder omstandighede) afgeloop.
Voorspoed, sal uitkyk vir jou! :)

Johnnie ·

Danie as jou kop reg ingestel is sal jy klaar maak. Onthou daar is baie gebede wat saam met jou is. Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.