Man maak verskil in sy woongebied

Tebogo en sy Ellie. (Foto: Verskaf)

Deur Maretha Botes

Tebogo Maredi (32) bly in Maboneng, ʼn semi-informele woongebied in Soshanguve, noord van Pretoria. Die dag toe hy daar nesgeskop het, het hy besluit hiér gaan hy ʼn verskil maak. Die armoede in sy woonbuurt het by hom bly spook. Kinders wat soggens op ʼn leë maag skool toe loop, die meeste sonder skoolskoene of uniform. Uitgeteerde honde wat dikwels iewers in ʼn erf vasgeketting sit.

Uit sy eie sak het hy begin om soggens broodjies vir honger kinders op pad skool toe uit te deel. Vir sommiges het hy skoolskoene en klere in die hande gekry.

“Dit het my getref hoe swaar die mense kry. Ek kon nie staan en toekyk hoe kinders honger skool toe gaan nie. Ek het net geweet ek móét iets doen,” sê Tebogo.

Tebogo was een van drie kinders. Hulle het in Seshego grootgeword; ʼn informele nedersetting in Polokwane. Sy ma, ʼn enkelouer, het gesorg dat hulle mae altyd vol was, en dat hulle altyd klere gehad het om aan te trek. Na skool het hy operasionele bestuur by die Seshego Capricorn College studeer. Kort voordat hy Maboneng toe getrek het, het hy sy werk as operasionele bestuurder verloor weens afleggings by die maatskappy waar hy in diens was. Die geld wat hy as werkende jong man gespaar het, het hy begin gebruik om die kinders en diere van Maboneng te help. Van die kinders het hulle honde vir hom gebring. Honger en vol bosluise en vlooie.

“Ek het eers net vyf honde kos gegee, en toe ek my oë uitvee was daar oor die tweehonderd wat hulp nodig gehad het,” sê hy.

Tebogo se nie-winsgewende organisasie, Inclusive Welfare Services, werk saam met die Temba Dierekliniek om honde in te ent en ontwurm. (Foto: Verskaf)

Ellie, die leeu van Maboneng

“Ek wou altyd graag my eie hond hê, maar ek het nooit die moed en selfvertroue gehad om uit te gaan en ʼn hond van my eie aan te neem nie,” vertel Tebogo. Op ʼn dag het ʼn weldoener wat Tebogo al ʼn rukkie ken van sy droom te hore gekom en hom met ʼn pragtige boerboelteef, Ellie, geseën. “Ellie is die beste ding wat met my gebeur het. Ek is ontsettend lief vir haar. Sy is die saggeaardste, liefdevolste dier,” sê Tebogo. “Sy is groot en sterk, maar haar hart is net vol liefde en sagtheid. Baie dae kom die kinders van die dorp hier aan om haar te borsel en met haar te speel. As hulle kom kuier, gebruik ek ook die geleentheid om te vertel hoe ʼn mens vir jou hond moet sorg.” Tebogo stap elke dag met Ellie. Hy vertel aan die begin het die inwoners gedink sy is ʼn leeu. “Die mense hier ken nie sulke groot honde nie. Hulle is gewoond aan kleiner honde,” sê hy. Die mense het ook voortdurend kommentaar gelewer oor hoe mooi, skoon en sonder bosluise Ellie is. Dis ook op die daaglikse uitstappies saam met Ellie wat Tebogo al hoe meer behoefte onder diere begin raaksien het. Honde wat vasgeketting staan. Honger honde, vol parasiete, bosluise en vlooie. Hy moes noodwendig na organisasies uitreik en hulp soek en het self baie kennis oor welsynsdiereorganisasies in sy omgewing ingewin. “Ek het self baie wys geword oor hoe om diere te versorg. Oor die nodigheid en belangrikheid daarvan om diere te steriliseer en in te ent.”

Mense staan tou op hulle honde te laat inent en ontwurm. (Foto: Verskaf)

Tebogo het ʼn nie-winsgewende organisasie, Inclusive Welfare Services, gestig om op dié manier hulp en befondsing van buite te kry. Hier en daar het mense gehoor van sy goeie werk en skenkings vir kos en ander benodigdhede soos halsbande en leibande gemaak. In samewerking met Temba Dierekliniek in Hammanskraal kon hulle onlangs 204 honde inent en ontwurm. Daar is egter nie ʼn einde aan die nood en behoefte nie, en so het hy voortdurend nog fondse en skenkings nodig.

Tebogo sê die beste manier om inwoners en honde-eienaars in te lig en met kennis toe te rus, is om dit in groepsverband te doen. “As ek na individue se huise toe gaan en praat oor hoe verkeerd dit is om ʼn hond aan ʼn ketting te hê, voel die mense baiekeer dat ek hulle persoonlik aanval. As ek egter die gesprekke in groepe doen in ʼn gemeenskaplike ruimte, is dit makliker om hulle te bereik. Ek sien ook dat daar dan gesprekke plaasvind. Mense moedig mekaar aan om die regte ding te doen. Daar is ondersteuning vir mekaar en dis asof hulle dan beter verstaan wat dit is om na diere om te sien. My groot boodskap is altyd: Neem ʼn dier aan eerder as om te koop. Steriliseer, moenie jou hond aan ʼn ketting vasmaak nie, en as jy nie meer vir jou dier kan sorg nie, neem hom na die welsynsorganisasie waar jy hom gekry het terug. Vra vir hulp as jy dit nodig het.”

Tebogo sê hoewel hy steeds skoolgaande kinders in die oggende ontbyt gee, is dit moeilik om hulp en befondsing vir dié passie van hom te kry. Dus het sy fokus vir eers na dierewelsyn geskuif.

Tebogo kan deur sy Facebook-blad, Inclusive Welfare Services dog page, gekontak word.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.