Man reis wêreld op motorfiets plat

Johan Kroep vier een miljoen kilometer op sy motorfiets. (Foto: verskaf)

Die afgelope 18 jaar is Johan Kroep op ʼn motorfiets-pelgrimstog om Bybels regdeur die wêreld te versprei. Ná ’n verbysterende een miljoen kilometer en duisende Bybels is hy steeds besig om die roeping wat die Here jare gelede op sy hart kom lê het te vervul.

In 2004, nadat hy die nuus van ʼn egskeiding ontvang het, het hy die eerste tog op sy ysterperd aangedurf. Hy het besef dat dit iets is waarop hy moet voortbou en so het die miljoen kilometer sy beginpunt gevind.

Kroep, wat ʼn bestuurder van ʼn paneelklopper in George is, se hart van gehoorsaamheid het gesorg dat hy al na 47 lande wêreldwyd kon reis om Bybels uit te deel.

“Dis net die Here se genade. Hy is die Een wat die deure oopgemaak het sodat die Bybels by die regte mense uitkom.”

Kroep, wat daarvan hou om sy hart met ander te deel, beskryf die afgelope 18 jaar as die gebruik van sy talent om ander te dien.

Hy het elke reistog self gefinansier en koop ook elke keer self die Bybels aan wat hy uitdeel. Van dié Bybels laat hy dikwels in die badkamers van nagklubs.

Sy internasionale rybewys sorg dat hy ʼn motorfiets kan huur in elke land wat hy besoek. Hy het onder meer met sewe BMW-motorfietse, nege Harley Davidson-motorfietse en ʼn paar Honda- en Kawasaki-motorfietse gery.

“Dis nie net nog ʼn rekord nie. Met God is alles moontlik.”

Om sy mylpaal van een miljoen kilometer te vier het hy deur die Karoo gaan ry. Kroep, wat in Julie 50 jaar oud word, se vertroue is volkome op die Here geplaas om hom veilig na elke bestemming te neem.

Hy geniet die uitdagings wat talle mense van die hand sal wys. Hy het onder meer op ’n slag 1 700 km in agt dae in Thailand afgelê, 96 uur lank geneem om om Suid-Afrika op ’n Harley Davidson-motorfiets te ry en 3 000 km in twee dae afgelê om vir die droogtegeteisterde gebiede van die Noord-Kaap te bid.

Kroep is reeds besig om sy volgende motorfiets-uitstappie te beplan en is gretig om ’n volgende een miljoen kilometer aan te pak.

“Ek ry volgende naweek weer. Karoo, hier kom ek!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

absoluut ·

Welgedaan Johan. Laat my dink aan n gesegde wat ek op n bike forum gelees het wat se, “Ek ry eerder op my motorfiets en dien die Here as wat ek in die kerk sit en droom van motorfiets ry”.

Pieterbusa ·

Dis fantasties om sulke berigte te lees. “Well done”. Mag jou volgende een miljoen kilos net so geseënd wees.

Delia ·

Dankie ook aan al die werkers by die paneelklopper in George en die kliënte wat indirek die finansies dan ook moontlik maak

Africangrey ·

Johan, baie dankie vir die mooi gebaar, dis wonderlik, en ons wens jou krag vir die kilometers wat voor le!!! Mooi ry!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.