Man trap fiets om vir SA te bid

Zane Nel (Foto: Facebook)

Zane Nel is gewoond daaraan om sy lewe op te pak tot voordeel van mense wat die Woord van die Here nodig het. Hy het al deur Australië en Nieu-Seeland gereis om die Woord te verkondig, en ook baie Afrika-lande soos Malawi, Tanzanië en Kenia as deel van sy uitreikaksie besoek.

Nel (27) is tans besig met ʼn fietstog wat strek van Stellenbosch tot in die Noord-Kaap. Hy is reeds 47 dae op die pad en vertel dat hy die wonderlikste mense ontmoet.

“Die hoofrede hoekom ek dit doen is om te bid vir die land. Daar is soveel vrees en negatiwiteit in die land, en ek wil bid dat dit nie meer so sal wees nie,” sê hy.

Nel vertel dat hy net een dag gevoel het of die Here dit op sy hart druk om vir die land te gaan bid, en hy het dié opdrag sonder vrae begin uitvoer.

Hy het in Stellenbosch begin, waarna hy deur die Ooskus op grondpaaie gery het tot by Richardsbaai. Vandaar is hy na St. Lucia en toe na Kuruman en vandag is hy op Pofadder voordat hy teen die Weskus terug ry Stellenbosch toe.

Zane Nel (Foto: Facebook)

“Om op ʼn fiets te ry maak soveel meer geleenthede oop. In ʼn kar sal jy dalk net verby iemand ry, maar op ʼn fiets ontmoet jy baie mense langs die pad,” sê hy.

Nel probeer sowat 100 km tot 170 km per dag met sy fiets ry, afhangend van hoe die wind waai. Hy het reeds meer as 4 600 km met sy fiets afgelê.

“Ek slaap maar waar ek kan, ek trek sommer langs die pad af, slaan my tent op en slaap daar. Ek is op my eie, maar niks slegs het nog ooit met my gebeur nie. Ek het nog nie een keer my fiets vasgesluit nie en ek was nog glad nie in gevaar nie.”

Nel sê dit het al baie keer gebeur dat iemand hom op ʼn grondpad sien ry, hom dan stop en sy storie aanhoor. Aan die einde van die gesprek bied hulle aan dat hy by hulle kan kom oorbly.

“Die wonderlikste ding is om die gasvryheid van die mense langs die pad te beleef. Ek het al die ongelooflikste mense ontmoet wat my in hul huise innooi. So ek slaap maar waar ek kan,” sê hy.

Zane Nel (Foto: Facebook)

Met sy fietstog wil hy vir mense bid en die Evangelie verkondig, maar hy wil ook die boodskap deel dat Suid-Afrika nie so gevaarlik is soos wat mense dink nie.

“Ek het deur plekke soos die Transkei en Zoeloeland gery met my fiets, en ook deur stede wat mense as onveilig ag. En die gasvryheid van die mense in daardie areas was wonderlik. Ek het die ongelooflikste mense ontmoet.”

“Ons het twee pole van baie klein groepies in ons land, maar dit is al waaroor ons lees en wat ons sien, maar die meerderheid van mense in ons land is nie so nie – hulle is goed.”

Nel vertel hy het op sy fietstog agterkom dat dit nog nie te laat vir Suid-Afrika is nie en dat mense se harte oop is vir die Woord van die Here. Hy glo wat hy besig is om te doen is ʼn opdrag van die Here, want so baie goeie goed het al in mense se harte gebeur op die pad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cheryl ·

Zane jy is ‘n jongman na God se hart. Ek bid saam met jou dat die geleenthede wat die Here skep tydens jou reis mense na Jesus sal lei. Hemelse Vader hou U hand van beskerming oor hom en salf sy woorde. Open mense se harte en ore sodat hulle sal hoor wat U Gees vir hulle wil se. Bring vir Zane veilig en ongedeerd by sy eindbestemming. In Jesus Naam. Amen.

Boerkind ·

As die Here ‘n deur oopmaak, wie sal dit toemaak? Here seën en bewaar Zane Nel terwyl hy U opdrag uitvoer.

Trotse Boervrou ·

Baie beslis Boerkind. Dankie Zane. Jy is ‘n pragtige voorbeeld vir ons almal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.