Man voltooi Comrades op krukke ná talle terugslae

Hein Venter en Xolani Luvuno tydens die Comades (Foto: Henry Summers Photography)

Xolani Luvuno (33) het die afgelope naweek die Comrades-marathon op krukke voltooi.

Luvuno het dié mylpaal bereik nadat hy  ses jaar op straat gebly het, aan dwelms en alkohol verslaaf was, tyd in die tronk moes deurbring, en sy een been weens kanker verloor het. Hy het sy lewe heeltemal omgekeer en vandag is hy ʼn kranige drawwer en betrokke by programme om jong mense te waarsku teen die gevare van dwelm- en alkoholmisbruik.

Luvuno het aan Maroela Media gesê hy het begin hardloop omdat dit hom gehelp het met sy verslawing.

“Aan die begin het ek gaan hardloop wanneer ek na alkohol gesmag het. Dan het ek baie hard geoefen. Ek was verslaaf aan dwelms, ek het op straat gebly en toe ek van dwelms gerehabiliteer is, het ek dit met alkohol vervang. So, ek het gehardloop as ek wou drink,” het hy gesê.

Luvuno is deur Hein Venter, ʼn pa van drie, wat Luvuno nou as sy éie pa sien, van die straat af gehaal, ʼn veilige blyplek gegee asook ’n plek waar hy kan werk.

Venter het Luvuno ʼn paar keer gesien wanneer hy op pad werk toe was, terwyl hy onder ʼn brug in Sunnyside in Pretoria gebly het.

“Hy het by ʼn verkeerslig gebedel en ek het eendag daar stilgehou en met hom begin gesels. Ek wou graag kyk of ek hom kan help. Ek het vir hom ʼn werk aangebied. Hy het onmiddellik vir my gesê hy is verslaaf aan dwelms, en ons het daaraan begin werk; hy is amper dadelik daarvan af. Hy het die dwelms vir drank verruil, maar hy het daardeur ook gekom. Ek het vir hom ʼn prostese ook gekoop,” het hy gesê.

Hoewel Luvuno die prostese het, kon hy nie die strawwe Comrades daarmee hardloop nie omdat hy probleme met rowe op sy stompie het. Daarom het hy dit sonder die prostese gedoen.

Luvuno sê hy is Venter ewig dankbaar en dat hy die Comrades nie sonder hom sou kon aanpak nie.

Xolani Luvuno tydens die Comrades (Foto: Facebook/Xolani Luvuno Amputee Athlete)

“Hy het my gehelp toe niemand anders my wou help nie, en niemand anders sou my ook help nie! Hy het my van die straat af gehaal. Selfs toe ek vir hom sê dat ek die Comrades wil hardloop, het hy die nodige mense gebel en gehoor of dit kan gebeur. Ek kon dit nie sonder hom doen nie,” het Luvuno gesê.

“Ek sou die hele nag lank gehardloop het, maar danksy hom, kon ek dit doen, want hy het saam met my gehardloop en hy verstaan my situasie. Hy is ʼn pa-figuur vir my, want nie eens my eie pa sal dit alles vir my doen nie. Hy maak dit moontlik en hy maak alles maklik.”

Luvuno het Sondag om 12:30 weggespring en 90,18 km in 15 uur en 50 minute voltooi. Venter het die eerste helfte saam met Luvuno fietsgery en die tweede helfte saam met hom gedraf tot die einde.

“Ek sê net dankie vir hom, dat hy saam met my gehardloop het,” het Luvuno gesê. “As ek alleen gehardloop het, sou ek seker dood neergeslaan het aan die einde, maar hy het my gehelp met my tempo en om klaar te maak.”

Luvuno is tevrede met die tyd waarin hy die Comrades voltooi het.

“Vir my gaan dit eintlik meer oor die ondervinding. Ek het al amper elke naweek van die jaar aan ʼn resies deelgeneem. Ek het al medaljes vir 5 km, 10 km, 21 km en nog baie meer, en nou het ek een vir die Comrades! Dit is die héél beste! Dit is waaroor ek vir myself gedroom het.”

Venter sê al die mense langs die pad en by die eindpunt van die Comrades het Luvuno gelukgewens.

“Dit was ʼn kranksinnige wonderwerk gewees, ek het nie woorde nie. Mense het mal gegaan. Die toeskouers was amazing. Die ander atlete ook – almal het hom ʼn druk op sy skouer kom gee in die verbygaan. Ek het seker die woorde ‘hero’ en ‘inspirasie’ 500 keer gehoor.”

Venter vertel hoewel Luvuno in ʼn stadium baie na hom opgekyk het, kyk hy nou net so baie na die ander man op.

Hein Venter en Xolani Luvuno, toe hulle die Comrades klaarmaak (Foto: Facebook/Xolani Luvuno Amputee Athlete)

“Ek is sy grootste cheerleader. Dit is vir my soveel pret om iemand met soveel entoesiasme te sien. Daar is soveel mense wat geleenthede kry, en dit dan nie gebruik nie. Xolani is regtig ʼn ou wat die donker kant van die lewe gesien het, en toe iemand vir hom ʼn kans gee, het hy dit met albei hande aangegryp. Dit is maklik vir my om my beste te lewer, want ek weet hy is ook besig om sy beste te lewer,” het Venter gesê.

Luvuno is nou betrokke by programme wat die jeug waarsku oor die gevare van dwelm- en alkoholmisbruik. Hy is ook ʼn motiveringspreker wat jong mense van sy storie vertel.

“Ek het ál daardie goed gedoen, ek was verslaaf en ek was op straat. Ek wil nie hê ander mense moet ook so word soos wat ek was nie. Wanneer mens op straat is, het almal ʼn verskoning om ʼn verslaafde te wees. Maar nou wil ek iets doen om mense te help omdat ek weet waarvan ek praat.”

Luvuno se volgende uitdaging is om ʼn halwe ysterman in Januarie te doen en dan ʼn vol ysterman in April.

“Om deel te wees van ʼn storie waar iemand regtig sy beste lewer, is wonderlik. Ek kyk op na Xolani, hy pak die lewe aan asof alles net van hom afhang. Hy is regtig ʼn inspirasie,” het Venter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

T ·

Wat ‘n pratige storie. Well done Xolani! Hein jy sal jou loon eendag in die hemel kry, vir al jou ondersteuning en opofferinge. Geseënd is julle. Baie voorspoed

Maria ·

Sjoe nou loop my trane ! Ek trots op jou Xolani hou so aan jy is n wenner !!
Dankie Hein mag jou seen en as n voorbeeld vir ander mense wees

Elize Geldenhuys ·

Wónderlik!
Won-der-lik!!
WONDERLIK!!!
As ons álmal ons fokus skuif na híerdie mooi verhaal … watter FANTASTIESE land sal ons nie hê nie!?

Waarheid ·

Sterkte vorentoe vir 2 vriende wat respek vir hulself en daardeur ook respek van ander verdien.
Keuses en VRYHEID\veelbesproke “freedom” is kom saam VERANDWOORDELIKHEID vat vir jou keuses in die lewe of dit nou dwelems, korupsie/diefstal, of moord is.

Madeleine ·

Loop die trane nou!!
Fantastiese inspirasie!! Well done aan julle 2!! Maak ons trots !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.