Man wat meisie en pa uit vloedwater red as held geprys

'n Omstander het 'n foto geneem van die toneel. (Foto: Facebook)

‘n Omstander het ‘n foto geneem van die toneel. (Foto: Facebook)

ʼn 20-jarige man van Pretoria wat ʼn man en sy dogter in Vereeniging uit hul motor gered het wat in vloedwater vasgekeer was, se heldhaftige reddingspoging word wyd en syd deur sosialemediagebruikers geprys.

Shaun Boshoff, ʼn elektriese ingenieurswesestudent aan die Tshwane South College, het aan Maroela Media vertel hy was van Pretoria af op pad na Vereeniging om na ʼn motorfiets te gaan kyk toe hy en sy ouers, Lynette en Nico, wat saam met hom gereis het, agtergekom het die motor by die verkeerslig is in die moeilikheid.

“Dit het verskriklik hard gereën. My ma het gesien daar is beweging in die motor by die verkeerslig. Ek het my selfoon in ons bakkie neergegooi en uitgeklim om die mense te gaan help.”

Toe hy by die motor kom, het hy gesien daar is ʼn pa en sy dogter in die motor vasgekeer. “Al wat die man heeltyd vir my gesê het, is: ‘Daar is ʼn kind, daar is ʼn kind.’ Ek skat haar omtrent so 13 jaar oud.”

Hy het die meisie uit die motor gehelp en haar oor sy skouer gegooi om haar na veiligheid te dra, het hy vertel. “Met die uitdraslag het ek ʼn paar keer geval, maar sy kon darem bo die water bly.”

Hy is terug na die motor om die meisie se pa uit die motor te help. “Daar was ʼn besigheid oorkant die pad wat oop was. Ek het vir hulle gesê om daar te gaan skuiling en komberse of handdoeke soek. Ek het daarna net teruggeklim in ons voertuig en weggery, want ek het aanvaar hulle is nou oukei.”

Shaun Boshoff. (Foto: Facebook)

Shaun Boshoff. (Foto: Facebook)

Boshoff vertel die meisie se ma het hom na die voorval gekontak. “Ek weet nie waar sy my besonderhede gekry het nie, maar sy het my Dinsdagaand gebel en het my uit die diepte van haar hart bedank dat ek haar man en dogter gehelp het. Sy het vir my gesê sy het nie veel om my aan te bied nie, maar het my genooi om by hulle te kom eet sodat sy my behoorlik kan bedank.”

Hy het geskerts dat sy ma baie trots is op hom. “Sy is baie in haar noppies en loop en brag. Vir eens in my lewe praat die mense oor iets goed wat ek gedoen het en nie die nonsens wat ek aangejaag het nie,” het hy gelag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Anoniem ·

Jou ouers het rede om trots te wees op jou! Dankie jy het gaan help – jy het waarskynlik daardie mense se lewens gered.

Rina ·

Welgedaan Shaun! Ons het mense soos jy nodig. Jy is voorwaar ‘n held.

Opregtheid ·

‘n Hart!! Dis al wat nodig is… steek net jou hand uit en groet iemand of glimlag na iemand… dit maak ‘n reuse verskil!!! As almal net een goeie woord of daad doen op ‘n dag, sal die hele wereld se gesindheid kan verander!!! Dis aansteeklik… kwaad word is ook aansteeklik…. probeer dit vir een dag, een week, een maand, een jaar!! Ek love dit om mense te help! En dan hulle verbaasde dankbaarheid te sien!!! Love Life!!! Lag ‘n slag!!! Xxxxx

Leeutjie ·

Ek se al lank ons moet n nasionale groetdag hou waar mense daardie dag vir mekaar moet glimlag en waai!

GM ·

Net die feit dat die pa eerste aan sy kind se welstand gedink het, sê baie van hom as mens. En die ete-uitnodiging – wow! Dit is vir my so ‘n kosbare ‘gesture’.

Shaun, jou ouers kan beslis trots wees op jou. Ons land kort meer mense soos jy, wat nie sal huiwer om ‘n ander in nood te help nie.

Christine ·

Knap gedaan Shaun, jou ouers kan trots wees op jou ek sou ook, ek het lekker gelag waar jy se jyt paar keer geval maar sy kon darem bo water bly. Dit is sulke goeie humor uit iets wat baie lelik kon uitgedraai het.

Anita ·

Shaun, jy is ‘n mens met ‘n hart. Jy is ‘n held. Jou ouers kan met reg trots op jou wees.
‘n Mooi en goeie pad vir jou vorentoe.

Rentia ·

Ek is so trots op hierdie jong man. Wat ‘n wonderlike gebaar.

Patriot ·

Nou toe nou ! malemma gaan niks hiervan hou nie. Volgens hom en sy bende is alle blankes rassiste

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.