Man wat werk verloor ná kankerdiagnose wen Lotto

Argieffoto

ʼn Man van Noordwes wat verlede jaar met aggressiewe prostaatkanker gediagnoseer is en vanjaar sy werk verloor het nadat hy in een oog blind geword het, het pas R17,5 miljoen ryker geword.

Ithuba, die liggaam wat die Nasionale Lotery bedryf, het in ʼn verklaring gesê die man wie se naam nie verstrek is nie het R45 op Lotto-kaartjies bestee om die boerpot van R17 527 655,10 te wen. Volgens die gelukkige wenner het hy nog altyd ʼn gevoel gehad dat hy die Lotto sou wen.

Nadat die man in Februarie verlede jaar met kanker gediagnoseer is, het sy lewe begin uitrafel. “Nadat ek uitgevind het ek het prostaatkanker, het ek gevoel asof my lewe tot ʼn einde kom. Ek het met kankerbehandeling begin en al wat ek kon doen is om te hoop op die beste,” het die man gesê.

In Mei vanjaar het hy ʼn verdere terugslag gehad toe hy sig in sy een oog verloor het. “My werk vereis dat ek baie reis en ek was op 18 Mei op die pad toe my linkeroog skielik dof geraak het. Ek het ʼn dokter gaan sien en daar is ʼn noodoperasie gedoen, maar die operasie was nie suksesvol nie. Ek het alle sig in my linkeroog verloor.”

Ná hierdie terugslag kon hy nie langer by sy werk aanbly nie en in Junie het hy sy laaste salaristjek van sy werkgewer ontvang aangesien al sy siekverlof ook uitgeput was. “Ons het reeds gesukkel om oor die weg te kom met ʼn verminderde inkomste sedert ek by die huis is. Nou sou dit regtig moeilik gegaan het sonder ʼn stabiele inkomste. Aangesien ek die hoofbroodwinner was, het ek gedink ons gaan haweloos wees.”

Op 26 Julie het die man se lewe egter handomkeer verander toe hy die nuus ontvang het dat hy die boerpot in die nasionale lotery gewen het. “Nadat ek by ons plaaslike winkel was en ek gesien het ek het die wenkaartjie, het ek dadelik teruggery huis toe om die nuus met my vrou te deel. Sy was in die kombuis en toe ek vir haar sê, het ons al twee begin huil. Ons kon dit nie glo nie,” vertel die man.

ʼn Tweede sarsie goeie nuus het egter op hom gewag toe hy tydens ʼn onlangse besoek aan sy dokter uitgevind het daar is geen meer teken van die kanker in sy liggaam nie. “Ek voel asof ek ʼn nuwe kans op die lewe gekry het!” sê hy. Die wengeld sal hom ook in staat stel om ʼn oogoperasie te ondergaan wat sal help om sy visie te herstel.

Volgens die man beplan hy om ʼn gedeelte van sy meevaller te belê, sy geld met sy kinders te deel, vir sy kleinseun ʼn motor te koop wat hy hom belowe het en sy aftrede te geniet.

Ithuba het ook finansiële advies en berading aan die man verskaf om hom die nodige kennis en hulpbronne te gee om sy nuutgevonde rykdom te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Tersia Denyschen ·

Absoluut fantastiese nuus vir die familie. Kankervry en finansiële vryheid. Werk seblief mooi met julle geldjies.

Alta Potgieter ·

Wonderlik…. gun die man sy finansiele onafhanklikheid ….

Vossie ·

Dankie vir goeie nuus vir ‘n slag. Baie geluk aan die wenner. Mag hy sorgvry aftree en dit geniet. Ons gun hom geluk want om te hoor jy het kanker insigself is al erg.(My pa was op 57 gediagnoseer met kanker en kon toe nie aftree nie) Mag jou nuutgevonde rykdom, vryheid en gesondheid vir jou ‘n aanporing wees vir ander.

Mariette vaan Zyl ·

Baie geluk met die wen van die lotto. Maak asb net seker om gereeld opvolg ondersoeke by jou onkoloog te laat doen. Geniet jou aftrede saam met jou vrou en kinders

Ronell ·

Goeie dinge gebeur met goeie mense. Wend jou geldjies goed aan, maar moenie jou tiende vergeet nie, sodat jy geseën kan word.

Deon Meyer ·

“naam nie verstryk is nie”.Mmmmmmmmmmm moet wees “verstrek”

Mariné Lourens ·

Dagsê Deon

Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Yolande ·

Ai…
So dankbaar en opgewinde vir julle. Onthou jou 10de.
Al die goeie kom net uit 1 genadige Grote hand. Sonder Hom is ons niks. Geniet jul rykdom in elke sin daarvan.

Ai ·

Dit is fantastiese nuus Maroela! Na al die negatiewe dinge is dit so wonderlik.

Meneer, ek weet nie wie jy is en of jy die gaan lees nie maar ek is onbeskryflik bly vir jou! Na alles wat jy deurgaan is dit wonderlik dat jy sulke geluk vind.

Ek hoop jy word gesond en hoop jy werk verstandig met jou geldjies sodat jy nooit ooit weer hoef bekommerd te wees nie.

God is goed.

Ja ·

Ja Gawie, en ook boerdery wat een van die grootste dobbelspelle is en deur kerke toegelaat word. Jare gelede vra ek aan my dominee of die kerk ‘n tiende van my lotto-geld sou ontvang. Sy antwoord: “Wen eers die lotto dan praat ons weer . . . ” Wel, ons het nog nie weer gepraat maar ek speel nie die lotto.

Amarilla ·

Ja, dit is onbybels! En dit se ook nie in die artikel of die man n gelowige is nie…Hy het die geld van die Geluksgodin ontvang, NIE van die drie-enige God nie, want God werk nie nie op sodanige manier nie!!!

elize naude ·

Neid en afguns is ook “onbybels” ja een van die ergste sondes…

JM ·

Ek was een van daai mense wat noe geglo het in dobbel, lotto en enige geldmaak skemas nie. Het my geldjies in veilige plekke bele….eers Saambou, jare later in die African Bank Groep…….pleks ek maar eerder lotto kaartjies met dit gekoop het….

Robbie ·

sterkte jy het dit nodig moet dit net nie vir die kerk gee nie Jesus het nie geld vir die kerk gegee nie hy het mense se behoeftes raak gesien . seën die wie God wil hê jy moet seën. geluk

m ·

Geniet jou geld maar werk verstandig daarmee. Moenie dat mense jou indoen met allerande sceams nie. Jy kry hierdid kans een keer in n leeftyd.

Freda ·

Vir die mense wat so vinnig opmerkings maak oor onbybelse praktyke, haal gerus die balk uit eie oog. Verheug jou in jou medemens se blydskap.

Aan die wenner, baie geluk met finansiële vryheid. Vreugde, vrede, voorspoed en alles wat goed is vir die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.