Man word internet-held ná ‘klein goeie daad’

Ben Mans. (Foto: Facebook)

Toe Ben Mans (40) verlede week in die middel van ʼn straat in Parklands, Kaapstad stilgehou het om ʼn wildvreemde vrou en haar babatjie te help, het hy nooit kon dink wat ʼn oorweldigende reaksie sy goeie daad sou uitlok nie.

Maar sedert besonderhede oor dié voorval op sosiale media gedeel is, word Mans oorval met oproepe en boodskappe van reg oor Suid-Afrika en selfs vanuit die buiteland.

“Ek het dit nooit gedoen met die hoop om enigiets terug te ontvang nie. Dit is net my persoonlikheid. Ek help iemand as ek sien dat hulle hulp nodig het. Die reaksie hierop is baie oorweldigend,” sê ʼn nederige Mans aan Maroela Media.

Die voorval het verlede week Maandag omstreeks 16:00 die middag gebeur. Mans was op pad na ʼn vriend toe hy ʼn vrou met ʼn baba in die pad sien staan het. Hy het dadelik stilgehou om te hoor wat fout is.

Kelly Malan, die baba se ma, vertel in ʼn Facebook-inskrywing dat haar 15 maande oue dogtertjie by die skool siek geword en dat sy haar gaan haal het. Op pad huis toe het die babatjie, wat in haar motorstoeltjie vasgegespe was, gebraak en begin verstik. Malan het stilgehou en uitgespring en haar baba omgedraai tot sy weer kon asem kry.

“Ek het oorweeg om met haar op my skoot hospitaal toe te ry, want ek was bang sy kan dalk weer verstik en doodgaan as ek haar in haar stoeltjie los. Bewend en huilend het ek ʼn bakkie voorgekeer. ʼn Paar motors het verbygery voor [die bakkie] stilgehou het.”

Agter die stuur was Mans wat dadelik aangebied het om Malan en haar babadogtertjie hospitaal toe te vat. “Sy het in die bakkie geklim en die babatjie was in daardie stadium rustig, maar ek kon sien sy het gebraak,” vertel hy.

“Ek het vir haar gesê, ek weet jy ken my nie, maar as jy my vertrou, ek het ʼn vriend wat in die area woon en ek kan hom vra om my te help, dan gaan haal ons jou motor en bring dit vir jou hospitaal toe. Sy het my gevra of ek dit regtig sal doen en toe gee sy net vir my haar sleutel.”

Mans vertel hy het by die hospitaal vir Malan sy besigheidskaartjie gegee in die hoop dat dit haar net ʼn mate van gemoedsrus sou gee. Ten minste het sy nou geweet wat die vreemdeling se naam en nommer is vir wie sy sopas haar motorsleutel oorhandig het.

Hy vertel toe hy terugkom by die hospitaal en haar motorsleutels weer aan haar teruggee, het sy hom bedank en hy is daar weg.

Dit was egter nie die einde van die verhaal nie. Malan het Woensdag op Facebook die storie vertel van Mans wat haar sonder om te skroom gehelp het en het ʼn foto van sy besigheidskaartjie by die inskrywing geplaas. Sy het ander sosialemediagebruikers gevra om hom te “tag” indien iemand hom ken.

Die reaksie was oorweldigend. Malan se inskrywing is reeds meer as 3 200 keer gedeel en byna 900 mense het daarop kommentaar gelewer. Sosialemediagebruikers is vol lof vir Mans wat genoeg omgegee het om stil te hou en te help en uit sy pad gegaan het vir ʼn vreemdeling sonder om iets terug te verwag.

Een van die foto’s van Ben Mans se besigheidskaartjie wat Kelly Malan op Facebook geplaas het. (Foto: Facebook)

“So baie van my vriende het my ook daarna gebel en vir my gesê ‘goeie werk’, dan sê ek vir hulle, julle sou dieselfde gedoen het. Dit is my geaardheid om iemand te help wat hulp nodig het. Dit is ongelooflik dat so eenvoudige ding, so klein goeie daad, só baie reaksie kan uitlok,” sê Mans.

Hy vertel skertsend tussendeur al die lofprysings was daar ook hier en daar ʼn vrou wat van die geleentheid gebruik gemaak het om te laat weet hulle is enkellopend.

Maar Mans hou vol dit was nooit sy bedoeling om ʼn heldeverering te ontvang of om op enige manier vergoed te word nie. Hy is net dankbaar hy was op die regte tyd daar om ʼn vrou en kind te help, veral in ʼn tyd wat die veiligheid van vroue in Suid-Afrika opnuut in die kollig is.

Mans was immers al self aan die ontvangkant van hierdie hartseer. Sy suster, Natasha Mans (41), is verlede jaar in Bloemfontein vermoor. Niemand is ooit in verband met die moord aangekeer nie.

Hy en Malan is steeds in kontak ná die voorval en is saam verstom oor die reaksie op haar Facebook-inskrywing.

“Ek kan net dankie sê vir elke boodskap wat ek ontvang en almal se mooi woorde. Dit beteken vir my baie,” sê Mans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Kornel ·

Well done. Dis lekker om weer bietjie goeie nuus te lees. GeSeende dag

se net ·

En toe neem my romantiese kant nou weer oor. Ek wonder of die dame enkel is, dalk as sy is, weet mens mos nooit. ;0

charmaine ·

se net, dink ons nou dieselfde en moet se hy is sag op die oog. Dit is wonderlik in so n oomblik wat jy jou lewe in ander se hande sit en dan is hulle so hulpvaardig en alles werk ten geode uit.

Lou ·

Mooi so Mnr Mans.
Lyk my daar is ‘n paar dames wat skielik gaan laat kaste inbou deur Mans capentry!

Rika ·

Mnr Mans dankie vir jou wonderlike gebaar, veral in die tye van nou, waar mens amper niemand meer kan vertrou. Glo jy gaan vergoed word vir jou mooi dade. Daar is min mense soos jy. Baie trots op jou.

Posduif ·

Baie dankie Mans. Bitter min mense gee om wat met ander gebeur veral in die land. Jy sal beloon word. Here se seën oor jou.

Pit ·

Ek is baie gelukkig getroud. En ek dink my man is van Die Here se beste werk…maar sag op die oog bly sag op die oog. :) Goeie werk Ben Mans. Laas week was n power week wat vertroue in mans ongelukkig en onregverdiglik laat duisel het. Dan lees mens die storie en mens kry weer hoop. Net een Pay It Forward en mens kry weer hoop.

Jacquelene ·

Dis goed om van positiewe gebare te verneem… ons mense is so geneig om te kla en die negatiewe raak te sien… dankie vir die mooi dinge in ins deurmelaar wêreld

dankie ·

Lekker om te weet daar’s nog goedhartige mense in ons land

humor ·

Ek is saam met al die ander bly oor die goeie wat daar nog te vinde is. Dit is net jammer dat dit die heel ongewone in ons gejaagde samelewewing geword het. Daarom al die verwondering en nuuswaardigheid oor hierdie enkele goeie daad. Goeie dade en omgee vir ons medemens behoort mos die mees algemene te wees.

Kobus ·

Goeie dinge gebeur nog en daar is nog goeie mense met liefde in hulle hart. Hulle word net oirheers deut die negatiewe. God is met ons,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.