Marciel Hopkins en dáárdie foto: ‘Ek moes dié pad stap om te verstaan’

Marciel Hopkins reis die wêreld vol om te werk as kurwemodel. (Foto: Instagram)

Sy het nooit beplan dat dit só moet gebeur nie. Inteendeel. Sy wou net haar ervaring deel en hopelik sou daar een of twee vroue daar buite wees wat daarmee kon identifiseer. En skielik ken mense reg oor die wêreld nou haar naam.

Marciel Hopkins (26) is geen gewone model nie. Sy laat jou anders dink oor skoonheid en gewig, en die belangrikste van alles, oor selfaanvaarding. Wat dié voormalige Mej. SA-finalis reeds in haar 20’s begryp en verstaan rondom eie selfwaarde, is iets waarmee talle vroue hul lewe lank sukkel en daarom wil sy nou haar storie so ver moontlik deel en vroue help om ware liefde te vind – die liefde vir hulself.

Hopkins was in 2015 ʼn sielkundestudent aan die Universiteit Stellenbosch toe die reis begin het wat haar lewe sou verander. Sedert skool het sy daarvan gedroom om naam te maak as internasionale model. Maar met ʼn grootte 14-broek en ʼn lyf vol kurwes wat die skaal op 81 kg laat staan, het sy daarmee tevrede gemaak dat dit nie vir haar beskore was nie. Tot ʼn vorige deelnemer aan Mej. SA iets in haar gesien het en haar aangemoedig het om deel te neem.

Dit is egter van meet af vir haar duidelik gemaak: Sy sou drasties gewig moes verloor – geen deelnemer aan Mej. SA kan ʼn grootte 14 wees nie. En sy het net vier maande gehad om dit te doen.

“Ek was vasbeslote om dit te doen,” vertel sy. “Ek het douvoordag opgestaan om cardio te doen en voor klas en ná klas het ek saam met ʼn persoonlike afrigter geoefen. Dan sou ons onderlyf of bolyf doen. Ek het nie my mond aan suiker, vet of alkohol gesit nie. Ek was bitter streng met my dieet – geen rede was ʼn goed genoeg rede om te oortree nie.”

Selfs ʼn lankbeplande besoek aan familie in Europa saam met haar ouers het haar nie van stryk gebring nie, sê sy. Sy het Frankryk, Duitsland en België gesien sonder om een pain au chocolat te proe. Haar vakansie is gekenmerk deur vroeg opstaan om te oefen en dan haar vetvrye natuurlike jogurt te eet terwyl haar familie aan varsgebakte croissants smul.

Marciel Hopkins tydens haar Mej. SA-ervaring. (Foto: Instagram)

“Ek was so ongelukkig, veral omdat dit vir my gevoel het ek maak die res van my familie se vakansie sleg deur so obsessief te wees oor wat ek eet. Terselfdertyd het ek geweet hoe min tyd ek het voor die inskrywings vir Mej. SA sluit. Ek sou nooit tyd hê om in te haal as ek my dieet vir ʼn paar weke laat gaan nie. Ek móés deurdruk.”

En deurdruk hét sy. Toe sy die dag voor die Mej. SA-kompetisie op die skaal klim, het haar lenige 1,78m lyf ʼn skrale 67 kg geweeg en kon haar nuwe piepklein agterstewe in ʼn nommer 10-broek pas.

Die Mej. SA-reis was ʼn warrelwind van fotosessies, reis en verskynings by geleenthede en deur dit alles moes sy haar perfekte figuur behou. “As ons 06:00 op die bus moes klim het die ander meisies 05:30 opgestaan om hul hare en grimering te doen en 06:00 gereed te wees. Ek het 04:00 opgestaan om te gaan oefen voordat ek kon regmaak vir die dag,” sê Marciel.

“Die ander meisies was ook natuurlik slank, terwyl ek nie was nie en ek kon nie my dieet selfs vir ʼn oomblik laat glip nie. Sommige oggende het van hulle wafels met room vir ontbyt geëet en dan eet ek ʼn eierwit-omelet. Die druk was nimmereindigend.”

Hopkins het deur die loop van altesaam 11 maande vinnig deur die rondtes van die kompetisie beweeg totdat sy uiteindelik een van die 12 top-finaliste was. “Heeltyd in my agterkop het ek geweet, as ek nie wen nie, sou ek nie hierdie leefstyl kon volhou nie. Dit was onuithoudbaar,” erken sy.

Eensklaps was die Mej. SA-kompetisie vir haar verby. Sy het uitgeval in die eindronde en is sonder die kroon huis toe. ‘Wat nou?’ het sy haarself afgevra. Waar gaan sy van hier af?

Een van die vergelykende foto’s wat Marciel op sosiale media gedeel het – links is sy tydens die Mej. SA-kompetisie en regs met ‘n voller figuur en ‘n gelukkiger hart. (Foto: Instagram)

‘Die Here het ʼn plan gehad’

Terug in die Kaap het sy haar gewone lewe voortgesit. Sy het begin au pair in die Moederstad om ʼn inkomste te verdien en beplan om die volgende jaar vir haar meestersgraad in te skryf. Stadig maar seker het die kilogramme teruggekruip en dit was nie lank nie voor sy weer haar grootte 14-broeke uit die kas moes haal.

Dit was emosioneel ʼn baie moeilike tyd, vertel sy. “Daar was so baie mense wat my Mej. SA-reis gevolg en my ondersteun het. Ek het gevoel asof ek almal teleurstel deur net weer die gewig op te tel – asof al my harde werk verniet was. My modeldrome het vervaag en ek het nie geweet wat ek volgende moes doen nie. Ek wou net al my profiele op sosiale media uitvee en vir die wêreld wegkruip.”

Gelukkig was haar drome groter as die golf van onsekerheid en self-twyfel wat gedreig het om haar te verswelg. Hopkins het besluit om by plaaslike modelagentskappe aan te klop. Net dalk was daar tog vir haar ʼn toekoms in die bedryf.

ʼn Paar deure het in haar gesig toegeklap voordat een agentskap ingestem het om haar in te neem as ʼn kurwe-model. Sy het eintlik in ʼn nismark geval, verduidelik sy. Sy was nie klein genoeg vir gewone modelwerk nie en eintlik nie groot genoeg om ʼn plus grootte-model te wees nie – dié modelle is gewoonlik ʼn kleregrootte van 18 of groter. Sy is daarom geklassifiseer as ʼn kurwe-model en het aan die werk gespring om ʼn portefeulje saam te stel.

Vandaar het die werk begin instroom. Voor sy haar oë kon uitvee, was sy op ʼn vliegtuig op pad Duitsland toe. Daarna Londen, New York, Las Vegas en die Maldives. ʼn Nuwe wêreld het vir haar oopgegaan en sy het dit met albei hande aangegryp.

Maar dit was ʼn sosialemediaplasing in 2016 wat behoorlik haar wêreld op sy kop gekeer het. ʼn Tipiese “before and after”-gewigsverliesfoto – net omgekeerd.

Marciel Hopkins. (Foto: Instagram)

Marciel het ʼn foto geplaas van haar lenige lyf in 2015 langs ʼn foto van haar kurwe-lyf ʼn jaar later. Sy het openhartig geskryf oor haar wroeging met haar gewig en haar uiteindelike besef dat die syfer op die skaal nie haar waarde óf geluk bepaal nie. Dat sy uiteindelik weet sy is meer as genoeg ongeag wat sy weeg of wat die nommer op haar broek se etiket is; dat haar gewig nooit belangriker as haar karakter, intelligensie of vermoëns kan wees nie. En dat sy nou ʼn doelgerigte lewe leef wat nie gekoppel is aan hoe sy lyk nie.

Die reaksie was verstommend. Haar inskrywing is derduisende kere gedeel, die telefoon het onophoudelik gelui en die boodskappe het in haar inmandjie ingestroom. Sy vertel baie daarvan was mense wat haar gelukgewens het vir haar waagmoed om dié foto te deel; ander was vroue wat hul eie hartseer en ongelukkigheid oor hul gewig gedeel het. Sommige het teenoor haar oopgemaak oor hul eetversteurings en goed aan haar vertel wat hulle nog nooit vir enigiemand anders vertel het nie.

Sonder dat sy dit geweet het, het sy ʼn aspek aangeraak waaroor mense reg oor die wêreld oor wou praat – iemand moes net opstaan en die gesprek begin.

“Ek het nie een keer deur Mej. Suid-Afrika so baie mediadekking oor myself gekry nie,” sê Hopkins. “Dit het so natuurlik gebeur, ek het nooit beplan dat dit so groot moes gaan nie. Ek dink die Here het ʼn plan gehad deur my hierdie 360°-pad te laat stap. As ek net direk in kurwe-modelwerk beland het, sou ek nooit die anderkant verstaan het nie. Die obsessie oor gewig, die byna-eetversteuring om nooit ʼn gram op te tel nie, tot so ʼn mate dat jy nie meer normaal kan funksioneer nie. Vir my om ook die anderkant te verstaan, moes ek dié pad stap, moes ek weet hoe dit voel wanneer die skaal vir jou sê of jy die week goed genoeg was of nie.”

Sy verduidelik dat sy ook deur hierdie ervaring besef het hoe groot impak jou strewe na ʼn spesifieke uiterlike op jou innerlike kan hê. “My identiteit was nog altyd gevorm in ek as ʼn curvy meisie. Toe ek so maer was, was my identiteit steeds wat dit altyd was. As mense my komplimenteer het oor hoe maer ek geword het, het ek glad nie geweet hoe om dit te hanteer nie, want my identiteit was nie om dit gebou nie. Ek kon nooit my verstand en liggaam in sync kry rondom my nuwe gewig nie, want dit was nie my identiteit nie. Daar was so baie fases wat ek deurgegaan het om uiteindelik op die plek van volkome selfaanvaarding te kom en uiteindelik kon ek werklik begryp waaroor dit gaan.”

Marciel Hopkins smeulend as internasionale kurwemodel. (Foto: Instagram)

‘Ek wil ʼn verskil maak’

Hopkins is steeds ʼn suksesvolle internasionale kurwemodel en reis die wêreld vol vir fotosessies. Sy oefen steeds en eet gesond. Maar nóú is sy gelukkig en tevrede met wie sy is en lewe sy ʼn doelgerigte lewe – en sy help ander om dieselfde selfaanvaarding te bereik.

“Die passie vir die sielkunde was altyd daar en ek wou dit steeds deel van my lewe maak. Dit het my tot lewensafrigting gelei. Ek het myself gekwalifiseer as lewensafrigter en kan só nou ander help.” Sy beklemtoon dat sy nié ʼn sielkundige is nie en nie psigologiese afwykings behandel nie. Sy kan wel mense help om te kom daar waar hulle wil wees.

“Sielkunde het baie te doen met hoe jy gekom het waar jy nou is en om te verstaan hoekom jy dink soos jy dink en voel soos jy voel. Lewensafrigting is uitkomste-gedrewe, om te kom waar jy wil wees,” verduidelik sy.

“Ek dink mense voel aangetrek tot iemand as lewensafrigter en ek sal sê die meeste van my kliënte is vroue wat hul stem verloor het. Dit hou nie altyd met voorkoms verband nie – soms is dit vroue wat jonk getroud is en sukkel om aan te pas in die huwelik. Ander kere is dit vroue wat sukkel om hul plek in die beroepswêreld te vind. Ek stap saam met hulle ʼn pad om te kom by aanvaarding, of dit nou liggaamsaanvaarding of in ʼn ander aspek van hul lewens is.”

Tans gaan die meerderheid van haar tyd nog in modelwerk in, maar die res wy sy aan lewensafrigting en motiveringspraatjies. En in elkeen van hierdie aspekte voel sy dat sy ʼn doel het, dat sy daar is om ʼn verskil te maak.

“Ek het nog ʼn lang plan met my modelloopbaan en ek reis baie lekker, maar ek wil meer as dit doen. Op elke stel wat ek stap, met elke kliënt wat ek praat, wil ek ʼn verskil maak. Daar moet vreugde en ʼn doel wees in wat ek doen. En dít het ek gevind.”

Marciel Hopkins het vandeesweek saam met Donnalee Roberts en KateRok honderde vroue op Laeveld Agrochem se Seil-Safari toegespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

NET EK ·

Sy lyk beter en gesonder in die voller figuure – die ander een laat haar te maer lyk. But she still has a beautiful face

kurwes ·

Pragtig! ek verkies haar ook met die voller figuur en voller gesigie
sys nie vet nie net natuurlik en beeldskoon
wens ek kon so positief soos sy wees

Minora ·

Absoluut niks fout met die vrou nie ! Dis so naby aan perfeksie wat jy kry.Beelskoon an pragtig.Nou dis hoe n vrou moety lyk.

Jozi ·

Ek is so bly sy het besluit om terug te keer na haar normale lewe.
Marciel lyk stunning en ek wens so dat elke persoon by die punt kan kom waar hulle besef jou skoonheid en geluk gaan oor veel meer as die nommer agter in jou broek of die rok wat jy dra.
Ons is almal uniek en nie almal kan of wil ‘n nommer 6, 8 of 10 wees nie.
Die Liewe Vader weet van beter. Mans hou in elk geval van ‘n sagte, vroulike lyfie.
So kom ons bêre die skaal, geniet daai gunsteling geregte en bederfies – die lewe is net TE kort vir slaaiblare en selderystokkies!

Maryka ·

Jy is so pragtig. Sommer is my dag opgehelder. Dankie vir jou deel.

Karolis ·

Wanneer ‘n vrou van binne mooi is, dan is sy ‘n mooi vrou.

marieta ·

jy is n pragtige vrou… die voller vrou is meer vroulik en natuurlik… bravo vir jou!!

IK ·

Pragtig meisie! Mans hou daarvan om aan iets mollig te vat. Geraamtes is uit!

Vleisman ·

Mooiste kurwes, mooiste oë en glimlag. Ek kan net dink hoe mooi is haar persoonlikheid ook. Sal haar enige tyd van enige dag uitneem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.