Marco: ‘Die harde werk het al in graad 1 begin’

Marco Kotzé

Marco Kotzé

Marco Kotzé maak Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria trots met agt onderskeidings in die matriekeindeksamen. Hy het uitgeblink in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, wiskunde, fisiese wetenskappe, ingenieursgrafika en -ontwerp, rekeningkunde en geografie.

Sy ouers is albei in die onderwys. Pa Nico is ʼn onderwyser en adjunkhoof; Ma Elmari is ʼn onderwyseres en departementshoof. Sy sussie, Thea, was laas jaar in graad 10. Op die vraag waaraan hy sy akademiese sukses toeskryf, antwoord hy skertsend: “My oupa sê lankal, hy kry my bitterlik jammer, want met twee onnies in die huis het ek nooit ʼn kat se kans gehad nie! Ek dink die harde werk het al in graad 1 begin.”

Sy lewensfilosofie is:

Die wiel is lankal ontdek … don’t work harder, work smarter!

Marco gaan die vakansie kuier by sy oupa Kotzé se vakansiehuis in Nature’s Valley saam met familie. Drie van die kleinkinders het laas jaar matriek geskryf. Daarna kuier hy saam met ander familie by Umhlanga Rocks en in Durban voor hy begin met meganiese ingenieurswese aan die NWU op  Potchefstroom.

Marco ry baie graag bergfiets en sê dat dit sy kop bietjie skoonmaak. Hy het ook homself geleer ukulele speel en probeer heeltyd sy spel met behulp van “YouTube-lesse” verbeter. Hy erken dat sy ma graag sou wou hê hy moet van boeke hou, maar hy verkies flieks propvol robotte en meganika! “Masjiene maak my opgewonde en ek droom groot – dit maak my ma bang.”

Marco het vir die skool deelgeneem aan atletiek en hokkie. Hy het ook landloop gedoen – tot hy die wiel ontdek en deel  geword het van die skool se bergfietsspan. Hy was ook lid van die skool se VCSV-kringleiergroep.

Marco behaal akademiese erekleure sedert graad 8. Hy verwerf sedert graad 10 brons-, silwer- en laas jaar dubbelgoue skoolmedaljes. Hy ontvang ook die “Laat daar lig wees”-toekenning.

Marco beskryf homself as iemand met baie energie – soms te veel vir die mense om hom. Hy is baie lojaal en eerlik en raak gou verveeld en ongeduldig.

Sy familie is sy grootste rolmodelle. “My grootouers is almal mense wat my inspireer, ek weet ook hulle bid daagliks vir al hul kleinkinders! My ouers se toewyding aan hul beroep is ook ʼn groot voorbeeld. My oom Boyce het ongelooflike kennis om te deel danksy jare in die sakewêreld – hy is pas aangestel as die nuwe hoof van KWV. Ek en hy het so ʼn aansporing-ooreenkomsie vir die eindeksamen,” lag Marco.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.