Markonderneming kerf nis in winkelsentrum uit

Love Local se Michelle van Scheltema en Charlene Jacobson. (Foto: Verskaf)

Dis heerlike lente en Suid-Afrikaners gaan weer hul tyd buite deurbring. Maroela Media het na verskillende markies in die land gaan kyk waar ʼn mens op die warmer dae kan gaan uitspan. Hou ons dop vir nog artikels oor markte.

 Sou jy binnekort by Bedford Centre, ʼn winkelsentrum in Bedfordview, Johannesburg, instap, sal jy dit definitief raaksien: ʼn kleurryke winkel, getooi in blou, geel, groen en wit, wat amper soos ʼn blom tussen ʼn klomp algemene kakiebos uitstaan. Dit is Love Local, die splinternuwe skepping van Urban Markets se Michelle van Scheltema en Charlene Jacobson.

Die drie-maande-opwipwinkel, wat sy amptelike opening Vrydag 4 Oktober hou, bied aan plaaslike entrepreneurs die geleentheid om hul goedere ten toon te stel teen ʼn nominale prys, terwyl Van Scheltema en Jacobson die risiko’s dra. “Uitstallers kan nie, as eenman-ondernemings, die huur bekostig wat ʼn winkelsentrum vra nie. Almal wil oorleef – die entrepreneur en kleinsakeondernemings – én die winkelsentrums, wat deesdae al hoe meer leeg begin staan,” sê Jacobson.

Die boesemvriendinne, wat mekaar al ken sedert hulle 10 jaar oud is en 15 jaar terug die Urban Markets-sakeonderneming saam begin het, sê dit is uit die staanspoor net hul passie wat hulle dryf. “Ons werk ons naweke om, skeep partykeer ons families af en sit alles in,” sê sy.

Van Scheltema vertel dat sy die kreatiewe agtergrond het as grafiese ontwerper, terwyl Jacobson die finansiële agtergrond het. Saam vorm hulle ʼn gedugte span wat al bykans die hele Gautengse markbedryf op horings geneem het.

“Ons sal daarvan hou om langer as drie maande hierdie winkel oop te hou, maar ons wou eers die water toets. Ons moet seker maak dat die idee werk en hou, voor ons ʼn duur langtermynkontrak teken.”

Jacobson sê sy dink nie mense sit oor die algemeen soveel moeite in ʼn opwipwinkel soos wat hulle gedoen het nie. “Daar is letterlik iets vir almal, selfs prysgewys. Ons pryse wissel tussen R10 vir ʼn item en R3 500 vir ʼn item.”

Elke stalletjie in die winkel het ook ʼn klein storie wat die mens agter die produk bekendstel, sodat verbruikers hulle op ʼn ander vlak met die verkoper kan vereenselwig. Jacobson sê die winkel is iets wat sy en Van Scheltema al jare lank wou aanpak. “Ons wou nog altyd plaaslike goedere ondersteun en ook iets na vore bring wat jy nie normaalweg in ʼn winkelsentrum sal vind nie. Ons het soveel talent in Suid-Afrika.”

Buitelugmarkte

‘n Markdag by Horwood’s Farm. (Foto: Verskaf)

Urban Markets het begin as ʼn guns aan ʼn welsynsorganisasie. Destyds het die Greenstone-winkelsentrum ʼn mark gehou om geld in te samel vir Kitty and Puppy Haven, ʼn skuiling vir weggooi-troeteldiere, en Van Scheltema en Jacobson het die mark gereël. “Die winkelsentrum het so baie van die eerste mark gehou dat hulle ons gevra het of ons op ʼn maandelikse grondslag so iets kan reël. Ek het toe nog ʼn speelskool bestuur en Michelle was ʼn grafiese ontwerper,” vertel Jacobson.

Die span het vinnig bekendheid verwerf en hou tans verskeie markte oor die hele Gauteng, wat die Greenstone-mark, ʼn mark by Cedar Square-winkelsentrum en verskeie opwipwinkels by skole insluit.

In Maart 2018 het hulle die eerste Horwood’s Farm-familiemark, in Edenvale, gehou. “Was dit net ʼn jaar terug? Dit voel soos ʼn ewigheid,” spot Jacobson.

In dié enkele jaar het die Urban Markets-span die hele Horwood’s op sy kop gedraai. “Ons het gedink dat dit ʼn oulike plek sal wees om ʼn mark te hou, en toe is ons eintlik deur die Demokratiese Alliansie en Friends of Horwood’s Farm genader om ʼn mark te begin, omdat hulle van ons ander suksesvolle markte bewus was.”

Urban Markets het die terrein toe met hulle eie geld begin opknap. “Ons het die teetuin oorgedoen, ons het palissadeheinings geïnstalleer, ʼn nuwe speelterrein gebou, ons het geverf, die elektriese boks reggemaak, so baie dinge.”

Hulle het ook van die geleentheid gebruik gemaak om die swerwers wat op die terrein gebly het in te span as werkers, wat ʼn salaris elke maand verdien. Die swerwers het die Urban Markets-span gehelp om te verf en ook as sekuriteit op te tree. “Die hele Edenvale-gemeenskap het ingespring en ʼn borg-ʼn-werker-program is sommer van stapel gestuur.”

Jacobson vertel dat die opgradering by die terrein soveel aandag getrek het dat Horwood’s Farm ʼn R30 miljoen-toelae van die plaaslike omgewingsdepartement vir verdere opknappings ontvang het. Die geld word in drie fases bestee.

Die eerste R10 miljoen-fase is so pas voltooi en sluit ʼn nuwe ingang, twee veeldoelige bane, ʼn skaatspark, talle nuwe speelterreine vir kinders, ʼn nuwe markgebied, nuwe paadjies, ʼn amfiteater en nuwe parkering in. Die ongelyke gras is ook opgevul om ʼn gelyke grasperk te skep. Die tweede fase van die program gaan binnekort begin.

“Mense dink al ons besit die park en ons word vir enige skermutselinge daar gebel. Maar ons gee nie om nie, want ons het die parkie eintlik gered. Dit sou voorheen gesloop geword het vir laekostebehuising.” Die terrein huisves ook die oorspronklike Horwood’s-plaashuis, wat in 1902 gebou is en as erfenisstuk aangewys is.

In die aanloop na die feestyd hou die span van Urban Markets 11 verskillende Kersmarkte in Gauteng, waaronder Melrose Arch, Kyalami-landgoed, die Eye of Africa-landgoed, St. Dunstans-skool en die Italiaanse Klub in Bedfordview. “Dit is ons besigste tyd van die jaar.”

Wanneer rus hulle? “Ons doen nie!” sê Jacobson. “Januarie,” antwoord Van Scheltema.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.