Hoewel dit dikwels voel asof die nuus deur negatiewe stories oorheers word, was daar in 2017 ook talle stories wat ons by Maroela Media en ons lesers breed laat glimlag het.
Hierdie goeienuusstories het gewissel van twee hoërskoolseuns wat in ʼn enkele foto vir ons nuwe hoop vir ons land gegee het tot ʼn bekkige dogtertjie wat oornag bekend geword het met haar kostelike (en goeie!) raad wat sy in ʼn video met mense gedeel het.
Hier is die tien gewildste stories wat derduisende lesers se harte verlede jaar warm laat klop het:
- Foto van hoërskoolseuns gee hoop vir SA
Ronen Oosthuizen, ʼn hoërskoolleerder aan die Bergsig Akademie in Rustenburg, het sosiale media op hol gehad danksy ʼn foto van hom waar hy ʼn mede-atleet by die SA Landloop-klubkampioenskap oor die eindstreep help. Lees meer.
- Tiener ‘skuld’ nou byna R3 miljoen aan kinderhospitaal
Danni Messina (19) van Washington in die VSA het ʼn eenvoudige plan gehad vir dié feesseisoen: om geld te skenk aan die St. Jude-kindernavorsingshospitaal. Sy het egter nie die spankrag van sosiale media in gedagte gehou nie! Lees meer.
- [Video] Internet op hol oor drie manne wat op plaaspad litte losmaak
ʼn Video waarin drie jong mans van Stellenbosch in die Wes-Kaap ná ʼn lang dag op ʼn plaaspad litte losmaak op die maat van Brenda Fassie se “Vul’indela” het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. Lees meer.
- [Video] Bekkige dogtertjie gee raad
Mia Claassens (8) van Laerskool Voorwaarts in Riversdale, Meyerton, het ʼn bekkige video op haar ma se foon geneem waarin sy raad met mense deel. Dié video het sy weg tot Facebook gevind en mense kon nie genoeg van Mia kry nie. Lees meer.
- [Foto’s] Almal gons oor dié paartjie se foto’s
ʼn Paartjie van die Amerikaanse deelstaat Texas het opslae in die media gemaak met hul verlowingsfoto’s wat vroue wêreldwyd wil bemagtig en boonop ʼn boodskap van ware skoonheid dra. Lees meer.
- [Video] 10-jarige se mondeling het mense gaande
Die bekende radio- en televisiepersoonlikheid Lindie Strydom het ʼn video van haar seun, Hugo, se mondeling op Facebook gedeel wat sosialemediagebruikers gaande gehad het. Lees meer.
- AJ skud 140kg af ná trauma
AJ van der Walt (33), ʼn eiendomsagent van Hartswater wat die skaal eens op ʼn tyd op 282 kg laat kreun het, vertel meer oor hoe hy sy leefstyl handomkeer verander het om meer as 137 kg af te skud. Lees meer.
- Vrystater ʼn oornagsensasie ná vriend se uitdaging
JP Burger, ʼn bemarker vir die Vrystaat Koöperasie Beperk (VKB) op Vrede in die Vrystaat, het ʼn oornagsensasie geword nadat ʼn video waarin hy “Ai my lam” van Ryno Velvet sing, soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het. Lees meer.
- Ma’s reg oor die wêreld in trane oor dié video
ʼn Aangrypende video getiteld “A Normal Day” het sosiale media aan die gons gehad en heelwat ma’s met trane in die oë gelaat. Lees meer.
- Oom Angus-saamtrek: Hou op murmureer soos ’n knorrige Israeliet!
Sosiale media was omtrent aan die gons oor Angus Buchan se groot gebedsaamtrek op 22 April vanjaar op ʼn plaas net buite Bloemfontein in die Vrystaat. Hettie Britz het in aanloop tot die groot geleentheid ʼn stuk geskryf. Lees meer.