Matriek word nie deur siekte, boelies gestuit

Francois Coetzer en sy matriekafskeid metgesel. (Foto: Verskaf)

Te midde van talle uitdagings wat Francois Coetzer, ʼn matriekleerling aan die Helpmekaar Kollege in Braamfontein, Johannesburg, op ʼn daaglikse basis moet aandurf, hou hy steeds sy oë op die doel om sy matriekeksamen klaar af te lê en eindelik sportsbestuur by die Universiteit van Johannesburg te gaan swot.

Coetzer is op vierjarige ouderdom met spierdistrofie gediagnoseer, ʼn siekte wat daartoe lei dat jou spiere met verloop van tyd afgebreek word en ʼn mens stelselmatig verswak. As gevolg van die siekte moes Coetzer al in graad 6 ophou om aan aktiewe sport, soos atletiek en rugby, deel te neem, maar hou hy steeds van gholf speel. Hy wil egter nou sy passie vir sport deur sy studies uitleef.

Dié matrikulant is al reeds die afgelope twee jaar die spanbestuurder van die skool se eerste rugbyspan.

Coetzer vertel aan Maroela Media dat een van die grootste uitdagings wat hy moes oorkom, buiten die baie trappe en steiltes by sy skool, emosionele struikelblokke is. Coetzer het verlede jaar ʼn senuwee-ineenstorting gehad na hy deur ander leerders geboelie is.

“As gevolg van die siekte is my kuite groter as die res van my spiere,” verduidelik hy. Hy het gereeld in sy toesluitkas foto’s en prente gekry wat met hom die spot gedryf het en gesê het dat hy homself met steroïdes gespuit het. Die boelie is nooit vasgetrek nie, maar na sy hospitalisering het die boelies ook hul streke laat vaar.

Was dit nie vir die ondersteuning van prof. John Rodda, ʼn neuromuskulêre spesialis by die Universiteit van die Witwatersrand, sowel as die van sy onderwysers en ʼn skoolvriendin nie, sou Coetzer dit moeilik gevind het om sy kop omhoog te hou, sê hy.

Francois Coetzer langs die sportveld. (Foto: Verskaf)

“Selfmoord was nooit ʼn opsie nie. Die spottery het uit ʼn plek gekom van jaloesie, of van iemand met wie dit baie sleg by die huis gaan,” sê hy.

“Francois is een van my baie goeie vriende wat soveel deursettingsvermoë het. Hy is iemand wat altyd daar is vir my, maak nie saak watter probleme hy self het nie, hy sal altyd luister. Hy sal nie eens ʼn vlieg seermaak nie.

“Ek probeer elke dag met hom praat. Nie noodwendig oor die situasie nie, maar selfs net positiewe goed. Die lewe is die moeite werd en enigiets is moontlik indien ons die Here vra vir hulp in sulke tye en in goeie tye,” vertel Elzaan Wisse, Coetzer se skoolvriendin.

Hoewel sy professor aan Coetzer gesê het dat hy teen 40 jaar oud in ʼn rolstoel gekluister sal wees, probeer hy steeds sy spiere aan die gang hou. “Ek gaan gym toe en werk met ʼn program wat ʼn biokinetikus aan my verskaf het. Ek mag net glad nie gewigte op tel nie.”

Die matrikulant vertel dat hy die jaar baie gesukkel het met die rekord- en Junie-eksamens en dit moeilik gevind het om te konsentreer en te leer. Hierdie eksamen verloop egter beter. “My mikpunt is om so in die 60’s vir al my vakke te kry,” sê hy.

Onthou om nou reeds te registreer om seker te maak jy weet wanneer jou uitslae op Maroela Media beskikbaar is. Registreer hier: https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/projekte/matrieks-2019-registreer-nou-om-jou-uitslae-te-kry/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

wilma ·

Baie sterkte, Francois. Hou jou kop te alle tye omhoog. Voorspoed met jou toekomsplanne.

Suzette Geringer ·

Francois jy is ‘n pragtige jong man – sterkte met die uitdagings op jou pad. Met jou wilskrag en deursettingsvermoë het jy ‘n blink toekoms voor jou.

Liza ·

Pragtige jongman ek wens jou net sterkte vorentoe en ja die wat jou so geboelie het, hulle sal eendag rekenskap gee, hulle het geen ordentlike opvoeding gekry nie, ons sal sien hoe ver kom hulle eendag en as hulle kinders het eendag.
Bid vir jou en Glo, Hoop en Vertrou op ons Abba Vader………

Marlene ·

Ek dink nie mense (kinders) besef waardeur n kind met uitdagings gaan om te bereik wat hul bereik nie. My voorstel is, dat die skool ten minste een maal per kwaartaal n praatjie hou in die skool oor n siekte toestand wat mens gestemd laat, of wat kan lei tot n gestremdheid, boelie, wat kinders laat boelie, kinders wat anders is, uniekheid van die mens, respek teenoor ander ten spyte van hoe hul lyk ensomeer. Ek dat daar meer uitreik werk gedoen moet word. Hul kan byvoorbaar projekte aanpak soos om vier projekte n jaar per graad aan te pak om versorgings plekke te besoek en uitreike aan te pak soos bv, ouetehuise besoek met die doel om net met die mense te kuier en n konsert te hou, of om kinderhuise te besoek en daar met die kinders n pretdag te hou om net hulself in hul skoene te plaas, of om minder bevoorregte mense te besoek en daar te gaan uitdeel (nie bederfbare produkte) en te sien hoe bevoorreg hul is, of om spesiale skole/ veral gestremde inrigtings te besoek en te sien hoe bevoorreg hul is. Dan sal kinders dalk minder boelie en meer sensitief wees oor ander se swaarkry en uitdagings. Net my voorstel

JV ·

Marlien jy het ‘n baie blink idee daar beet ek hoop iemand lees ook hier wat by magte is om so iets op die been te bring en deur te voer, kom waar is al ons slim onderwysers en departements hoofde of wat jy hulle ookal noem deesdae, (my dogter is 14jaar gelede al klaar met skool) die blink plan sal alles verander!!!!!!!!!!!!

Spierdistrofielyer ·

Francois, baie sterkte vir jou! Ek self is n Spierdistrofielyer (FSHD) en gebore daarmee. Dokters het gesê ek gaan op 40 in n rolstoel wees, ek is 50 en sover sonder n rolstoel. Trappe en steiltes is baie moeilik, want ek kry ook swaar met dit. Wees net positief in alles wat jy doen en luister na jou Biokinetikus. Swem baie en pak die lewe 100% aan. En hou jou kop omhoog! My seun is ook n spierdistrofielyer, maar hy is positief in alles wat hy doen! Baie sterkte, jy is nog jonk! Ek weet waardeur jy gaan! Geniet jou nuwe uitdaging/droom wat vir jou wag!!
Oral in die lewe kry n mens ongenaakbare gevoellose karakters. Hulle kruis jou pad elke dag. Maar met Die Liewe Heer se Genade, gaan sy bo uitkom!!!

Sandy ·

Francois baie sterkte en voorspoed vir jou en jou toekoms. Moenie laat die boelies jou onder kry nie. Sulke mense is, besef ek nou, is onseker oor hulself. Ek kan my nie eens indink dat mense wat geboelie word elke dag moet opstaan en sulke dinge face nie. Sterkte met alles.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.