Matrieks 2018: Seldsame siekte stuit Ian nie

Ian-Bouwer-2.jpg

Ian Bouwer (foto verskaf)

Ian Bouwer moes ’n besonder moeilike pad stap om sy matrieksertifikaat te verwerf. Dié agtienjarige vasbyter is in 2005 met serebellêre ataksie gediagnoseer – ’n toestand wat spieraktiwiteit en koördinasie aantas.

Ten spyte van die baie uitdagings wat dié realiteit vir hom ingehou het, het hy vandag ʼn matrieksertifikaat in die hand en ʼn lied in sy hart. En boonop universiteitstoelating.

Ian het saam met sy ouer broer Ernard en sussie, San-Mari, op Piet Retief grootgeword. Sy ouers het op min of meer vyfjarige ouderdom agtergekom hy sukkel met fyn koördinasie. Pa Berrie, wat hoof van Hoërskool Piet Retief is, en Ma Marinda het jare lank na antwoorde gesoek. In 2009 het Ian ʼn diepbreinstimulasie (DBS)-inplanting gekry. Hy was toe die jongste pasiënt ter wêreld wat hierdie inplanting ontvang het.

Genetiese toetse wat in 2015 by die Universiteit van Oxford gedoen is, was die lig aan die einde van dié jong man se tonnel. Die toetse het bevind dat hy aan ʼn seldsame soort epilepsie en ataksie ly – ʼn toestand wat tans by slegs ses mense wêreldwyd gediagnoseer is.

Ian kan nie self eet, aantrek, loop of skryf nie. Tog het die gesin vroeg reeds besluit dat hulle alles in hulle vermoë sal doen om Ian ʼn kans op ʼn normale lewe te gee. Hulle het nie vir een oomblik gaan lê nie. Hy het die hoofstroom‑skoolkurrikulum gevolg en alle eksamens en toetse mondeling afgelê, al praat hy moeilik.

Maar 2018 was ʼn moeilike jaar. Ian was eers siek en vir ʼn geruime tyd in die hospitaal. Daarna het een van die DBS-elektrodedraadjies gebreek en hy moes nog ʼn breinoperasie deurmaak. Dit het veroorsaak dat hy die Junie-eksamen misgeloop het. Tog het hy hard gewerk om verlore tyd in te haal en vir sy eindeksamen voor te berei.

’n Onderwyser by Hoërskool Piet Retief, juffrou Marijke de Waal, vertel Ian is ʼn baie sosiale kind wat lief is vir mense. “Ian het op die kultuurraad gedien toe ek voog van dié raad was en dit was inspirerend om sy positiwiteit te sien. Hoewel hy meestal ʼn toeskouer was, het hy wel bietjie skaak gespeel, aan gewigstoot en swemkompetisies deelgeneem en die 800 m-resies in die rolstoel gedoen. Hy het ook jaar na jaar die Valentynsbal en Winterbal bygewoon,” vertel sy.

Ian het in sy matriekjaar Hoërskool Piet Retief se Trofee vir Betoning van Uitsonderlike Karakter ontvang. Sy skoolmaats getuig ook van Ian se besondere karakter en vertel hy het altyd ’n glimlag op sy gesig en bly baie positief.

Sy ma praat met trots van haar positiewe kind. “Hy het sy matriekeindeksamen met ywer aangepak en wil nou 2019 gebruik om sy toekomsmoontlikhede rustig te ondersoek. Intussen wil hy graag as motiveringspreker optree en sy storie aan ander mense vertel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.