Matrieks verruil yskoue vir warm eiland

v.l.n.r.a. Keaton Stansfeld, Anika Le Roux, Tsoaledi Mosa Hlakudi, Mattheus Hendrikus (Kol) Wessels, Kgosatsana Mabalane, Delecia Davids
v.l.n.r.v. Shamiela Fischer, Riaan Manser

Vyf matrikulante wat aanvanklik saam met die avonturier Riaan Manser op ʼn wetenskapekspedisie na Antarktika sou gaan, mos noodgedwonge die ysvelde vir die wit strande van Mauritius verruil.

Die leerders van Gauteng, Vrystaat en die Wes-Kaap was die wenners van die jongste been van die Matrics in Antarctica- projek wat hulle die geleentheid gee om die vasteland saam met Manser as deel van ʼn bewaringsveldtog te verken.

Karen Jurgens, hoof van bemarking en kommunikasie van Matrics in Antarctica, het aan Maroela Media verduidelik dat die jaarlikse tog na Antarktika as gevolg van talle Covid-19-gevalle eers uitgestel is.

“Ons het soveel opwinding aan die einde van verlede jaar gehad, toe kom maak Covid-19 sy nare draai by ons. Ons wou egter steeds iets vir dié leerders doen. Ons het besluit om ons konneksies en hulpbronne te betrek om ’n ander uitstappie te reël.”

Die vlugte na Antarktika word in elk geval ook tydens dié vasteland se wintermaande gestaak, dus is die tog uitgestel tot wanneer dit weer somer is en die vlugte weer in November vanjaar toegelaat word.

Gelukkig het die organisasie daarin geslaag om ʼn plan te maak en kon die leerders aan die einde van Februarie op ʼn ekspedisie na die idilliese eiland geneem word.

“Dis nou nie vir ’n wittebrood nie, maar ons het die reisplan propvol aktiwiteite gestop. Dit was boonop een van die leerders se eerste keer op ’n vliegtuig.”

Die leerlinge is na verskeie hotelle en oorde geneem waar hulle meer oor die eiland se metodes om klimaatsverandering teë te werk kon leer.

Hulle het op Vrydag 26 Februarie vertrek en daardie aand in die Lux Tamassa-hotel oornag. Hier het hulle geleer hoe die hotel sy koolstofvoetspoor verklein. Die hotel herwin linne, kussings en gordyne om klere, speelgoed en voorskote vir die minderbevoorregte gemeenskappe te skenk.

Dié leerders het die geleentheid gehad om een van die laaste endemiese woude van die eiland te besigtig. Hulle kon meer leer oor die Mauritiusduif (die sogenaamde Pink Pigeon) en die Mauritius-rooivlak (Mauritius kestrel) wat op die eiland se bedreigde spesies- lys is.

Deel van die uitstappie was die “Hug me Honey”-ervaring, waar hulle meer oor die bewaring van bye geleer het.

Op Dinsdag 2 Maart het hulle na die Sun Resort La Pirogue-hotel gereis waar hulle meer kon leer oor volhoubaarheidsinisiatiewe en eko-vriendelike praktyke.

Een van die praktyke is die “farm-to-fork”-inisiatief, waar plaaslike boere se produkte teen ’n meer aanloklike prys aan hotelle gebied word. Dit beteken die boere word ondersteun, terwyl die plaaslike omgewing ook bewaar word.

Jurgens het benadruk dat die voorloper van die Matrics In Antarctica-projek, Riaan Manser, se filosofie verder as woorde strek.

“Hy sê altyd dat ons altyd net praat oor die klimaat wat agteruitgaan het. Ons sit in vergaderings daaroor, maar wat doen ons om daadwerklik aandag te gee aan die probleem en dit op te los?”

Sy inisiatief is in 2020 begin om jong mense die geleentheid te gee om meer oor omgewingsbewaring te leer, en die organiseerders beoog om dit ’n jaarlikse instelling te maak waarna matriekleerlinge landwyd kan uitsien.

  • Die 2022-matriekgroep sal voorlopig van Augustus vanjaar vir die kompetisie kan begin inskryf.
  • Vir meer inligting oor die inisiatief, besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.