Matrikulant van George is FAK se geskiedenisfoendi

Grant Campbell, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Outeniqua in George is die wenner van van die FAK se Nasionale Geskiedenisolimpiade vir hoërskoolleerlinge. (Foto: Verskaf)

Well done, boeta!” Dít is wat weerklink het in ’n byna gesang toe Grant Campbell, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Outeniqua in George, se ouers, Lionel en Idalette, saam met hom op sy foon se luidspreker gehoor het dat hy die wenner is van die FAK se Nasionale Geskiedenisolimpiade vir hoërskoolleerlinge.

Ná ’n verdere luide toejuiging kon Grant ’n skaam “dankie” inkry.

Hy sê hy het vanjaar vir die eerste keer deelgeneem, omdat geskiedenis sy gunstelingvak is.

“Ek hou baie van geskiedenis. My kennis oor Suid-Afrikaanse geskiedenis was nie so goed gewees nie.”

Juis om die hierdie rede het Grant besluit om deel te neem om sy kennis te verbreed, omdat die klem van vanjaar se olimpiade juis op Suid-Afrikaanse geskiedenis geval het, wat ook Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikanergeskiedenis en Westerse geskiedenis ingesluit het.

Die geskiedenisolimpiade vir hoërskoolleerlinge het uit twee rondes bestaan. Die eerste ronde het uit ’n aanlyn vraestel bestaan met multikeusevrae, waar dié vrae weer in bogenoemde drie afdelings onderverdeel is met die Pionierstydperk (1652 tot 1820) as tema.

Diegene wat 80% of meer behaal het in die eerste ronde het deurgedring na die tweede ronde, waarin hulle ’n opstel skryf moes skryf waar hul standpuntstelling, beredenering en algemene kennis getoets is. Hulle kon tussen twee onderwerpe kies: “Bespreek krities of en hoe CJ Langenhoven se woorde: ‘Afrikaans, ons pêrel van groot waarde,’ steeds relevant is in die Afrikaanse volksmond” of “Bespreek krities die feit dat dit kenmerkend van Afrikaners is om humor in tye van ingrypende lewensmomente te gebruik of te misbruik”.

Die FAK het vyf e-publikasies oor hierdie tema opgestel wat as bronne gedien het vir vanjaar se toets.

Grant sê hy het in al sy af-periodes by die skool geleer vir die olimpiade en sy ma het vir hom ’n tydlyn van die bekende persone in die pionierstydperk opgestel, wat hy dan tuis opgeswot het.

Hy wen R5ִ 000, ’n medalje en erkenningsertifikaat.

Simoné de Witt, ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein, het die tweede plek behaal. (Foto: Verskaf)

Simoné de Witt, ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein, het die tweede plek behaal. Sy wen R2 500.

Simoné (17) het vanjaar vir die tweede keer deelgeneem.

Nes Grant het sy ook gekies om ’n opstel te skryf oor CJ Langenhoven se woorde: “Afrikaans, ons pêrel van groot waarde”.

“Dié onderwerp was vir my meer van ’n uitdaging,” sê sy.

Sy sê sy gaan die meeste van haar wengeld probeer spaar, maar sy gaan beslis vir haar ’n nuwe boek koop.

Dirk Hagen, ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool DF Malan in die Kaap het derde geëindig en wen R1 000.

Die CVO Skool Pretoria ontvang R10 000 en ’n FAK-Wisseltrofee as die wenskool. Alle deelnemers ontvang ’n deelnamesertifikaat. Almal wat deurgedring na die tweede rondte ontvang ook ’n medalje sowel as ’n erkenningsertifikaat.

Die wenskool is bepaal deur die getal leerlinge wat deelgeneem het en die persentasie wat die kinders van die betrokke skool in die toets behaal het.

Chrisna Nel, projekorganiseerder van die FAK Nasionale Geskiedenisolimpiade, sê: “Dit is lekker om te sien dat kinders nog iets oor ons geskiedenis wil leer en ek hoop van harte dat die Geskiedenisolimpiade ’n aanmoedigings sal wees om meer en meer te wil lees en te wil weet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Snot ·

Dis so lekker om te sien dat vandag se kinders steeds sulke dinge doen.
Welgedaan, julle almal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.