McGregor-gedigtefees vier dekade van woordkuns

McGregor skud vere reg vir vanjaar se gedigtefees. (Foto: Dani`s Photos)

Die tiende McGregor Gedigtefees met die tema “Touching the Wild/Die wildernis in” word van 18 tot 20 November by die Temenos Retreat op dié Wes-Kaapse dorp aangebied.

Gedigte in McGregor is ʼn hoogtepunt op die Wes-Kaap se feeskalender met digters en poësieliefhebbers wat van heinde en ver hierheen reis vir ʼn naweek gevul met dig- en woordkuns.

“Vanjaar kyk ons terug op die wonderlike reis tot dusver. Tien jaar is vir ons ʼn baie spesiale mylpaal om te vier. Ons is dankbaar dat so baie digters en woordliefhebbers ons visie oor die jare met uitbundige passie en vrygewigheid ondersteun het.” sê Billy Kennedy, stigter van die fees.

“Ek hoop dat wat ons hier geskep het, die mense wat die naweek saam met ons kom geniet sal inspireer om saam met ons op die voetpaadjies van die woordkuns te bly loop, sodat ons deur poësie ons rol as bewaarders van die innerlike en uiterlike wildernis, heelhartig bly uitleef,”

Die McGregor Gedigtefees wil digters jonk en oud aanmoedig om te skryf en te bly skryf. Daarom is die jaarlikse digkompetisie een van die opwindendste elemente op die fees se program.

Digters van alle ouderdomme kan nou Afrikaanse en Engelse gedigte met die feestema as onderwerp vir hierdie kompetisie inskryf. Daar is twee kategorieë:

  • Jeugkategorie vir digters tussen sewe en 17 jaar. Die prysgeld vir die wenner is R2 500, die naaswenner ontvang R1 000 en die derdeplekwenner ontvang R500.
  • Oop kategorie vir volwassenes (18 jaar en ouer). Die prysgeld vir die wenner is R5 000, die naaswenner ontvang R2 500 en die derdeplekwenner ontvang R1 000.

Besoek Gedigte in McGregor se webwerf vir meer besonderhede oor die kompetisie. Inskrywings kan per e-pos gestuur word na Jane de Sousa by [email protected]. Die sluitingsdatum is 30 September en die wenners word op 18 November by die fees se openingsgeleentheid aangekondig.

Digters wat aan die feesprogram wil deelneem het tot 31 Augustus die geleentheid om aansoek te doen. Besoek die fees se webwerf vir meer besonderhede oor hoe om hiervoor oorweeg te word.

Gedigte in McGregor se feesprogram word in September bekendgemaak en kaartjieverkope sal vroeg in Oktober oopmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.